Magdaleen skryf: Kortgolf-senders skakel af


Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, skryf:

”Gegroet vanuit my kantoor in Auckland Park.

Ek is sommer bitter trots om te kan sê dat RSG midde-in hierdie uitdagende finansiële jaar van die SAUK, oppad is om ons inkomste-teiken vir die boekjaar te bereik.

Die SAUK se finansiële jaar eindig komende Sondag 31 Maart. Die afgelope 12 maande was seker een van die uitdagendstes om die inkomste en uitgawes te balanseer. Maar die RSG het dit goed reggekry om ons inkomstes en uitgawes te balanseer en om ons inkomste-teiken vir die jaar te bereik.

Veranderings en vernuwings op RSG
Hierdie herfs bring ons jou ‘n paar nuwe programme: dit sluit in ‘n nuwe rugbyprogram (Skrumtyd op RSG, aangebied deur Jody Hendricks), ‘n nuwe dramaseisoen, ‘n nuwe musiekreeks (Wegtreknommertjies deur Haidee Muller), ‘n nuwe vervolgverhaal (Stoom, ‘n spannings- avontuurverhaal), ‘n nuwe oggend-boekvoorlesing (Hans steek die Rubicon oor), ‘n nuwe aand-boekvoorlesing (Een dag en ‘n bietjie) en vernuwings op Tjailatyd.
Hier is ‘n kort opsomming van die veranderings en vernuwings.

Oor kortgolfsenders
Die grootste uitgawe vir RSG (en alle radiostasies) is die koste van die senderverspreidingsnetwerk. RSG se voetspoor is die grootste van alle radiostasies, wat ons in staat stel om in feitlik elke deeltjie van die land te kan uitsaai. Die koste om hierdie senders te kan gebruik, is etlike miljoene rand per jaar.

Onder hierdie senders is ook nog enkele kortgolfsenders. Een van hierdie senders, die Bloemendal-sender by Meyerton, word die einde van die maand afgeskakel. Dit het net te duur  geraak om aan de gang te hou. Wêreldwyd is daar ‘n beweging by uitsaaiers om hulle kort-golfdienste af te  skaal, of hulle uitsendings heeltemal te staak. Dit sluit in groot geeste in die uitsaai-wêreld soos  BBC se eksterne diens, Radio Nederland Wêreld Omroep, Radio Kanada Internasionaal,  Deutsche Welle en Radio France International.

Kortgolf-uitsendings in Suid Afrika is van die vroeë 60’s  begin vanaf Paradys, buitekant Bloemfontein, en is later verskuif na ‘n groter en beter stasie buitekant Meyerton genaamd Bloemendal. Uitsendings van Radio RSA, die eksterne diens van die SAUK, het wêreldwyd vandaar begin in 1966 in Afrikaans, Engels, Portugees, Swahili  en Frans. Dis deur hierdie kortgolfsenders wat die kenwysie van “ Vêr in die Wêreld Kittie” met die roep van die Bokmakierie wêreldwyd bekend geword het.

Kortgolfdienste is ook gebruik om voorsiening te maak vir luisteraars veral in die verre Noord- Kaap, waar die FM-sender-netwerk nie dekking kon gee nie.  Maar as gevolg van Ionosferiese propagasie kon die sein baie verder gehoor word en goeie ontvangs in groot gedeeltes van Namibië was ook moontlik, en selfs wêreldwyd in Europa en Amerika. Mara baie mense in verafgeleë dele van die hele land kon na die Afrikaanse diens luister op kortgolf.

In die nuwe era van internet- stroom, en direk na huissatelliet-dienste, het die tyd gekom dat die kortgolf diens vanaf die Bloemendal-sender by Meyerton  afgeskakel word. Luisteraars op verafgeleë plekke in die Noordkaap en dele van Namibië, wat nie toegang tot satellite-ontvangs of internet-stroom het nie, sal dus nie RSG se sein kan ontvang nie. Maar ek is seker die meeste van julle in daardie gebiede het al ingeskakel by die modern kommunikasie-kanale wat deur die internet en satelliet moontlik gemaak word

Probeer om ‘n plan te maak om nuwe tegnologie in te span, want elke luisteraar is vir ons belangrik.”