Nuusbrief Desember 2019: Magdaleen skryf


Ek sit hier in my kantoor in Auckland Park en skryf, terwyl dit reën; trouens, dit reën al die afgelope vyf dae aaneen hier in Johannesbrug… so ‘n regte Kaapse winterreën. Maar ek dink nie aan ons reën nie… ek dink aan die plekke waar daar nie reën is nie, waar mens en dier vergaan van droogte, waar  niemand meer wil of kan kop oplig nie. Dis julle wat in hierdie tyd in my hart en gedagte is.

Dit was in meer opsigte as net met die droogte ‘n moeilike en vermoeiende jaar. Ek wens jou dus ‘n rustige en vredevolle feestyd toe. En dankie dat jy die afgelope jaar jou stasie naby aan jou hart gehou het, ten spyte van uitdagings en woelinge by en oor die SAUK. Ek waardeer jou lojaliteit. Dieselfde geld RSG se kliënte wat aanhou glo het in die stasie.

Ek gee gou ‘n paar programveranderinge wat hier oor die feestyd op RSG gaan plaasvind:

  • Getrou aan ons aard, is daar op Kersdag weer ‘n besonder mooi spesiale programskedule saamgestel.Klik hier om die volledige program te sien.
  • Op oukersaand saai ons ‘n spesiale kerskonsert van Salon Musiek uit. Dit is onlangs by die Brooklynteater in Pretoria opgeneem en die Gautengse Filharmoniese orkes en verskeie soliste het besonder mooi kersmusiek vir ons gemaak. Onthou dus om op oukersaand na hierdie konsert te luister, so net ná 22:00 die aand.
  • Daar lê ‘n heerlike storie-fees voor van 23 Desember tot 3 Januarie. Met Monitor wat verkort word en  Praat Saam en Spektrum wat wegval vir daai tyd, het ons besluit om vir jou stories te gee… nuwe stories van oom Goltros elke middag in Spitstyd, nuwe stories van Antoinette Pienaar elke oggend in die verlengde Wakker, lagstories van Ian Wessels so tussen-in en dan ook ‘n herhaling van al 40 episodes van Katryn, vrou van die Richtersveld… een van die gewildste vervolgverhale op RSG die afgelope dekade. Hierdie 40 episodes word elke oggend in 09:00 en elke middag 14:00 uitgesaai van Maandag 23 Desember tot Vrydag 3 Januarie.

Geseënde Kersfees en vrede vir jou, mag dit ‘n goeie 2020 wees wat op jou wag.