Nuusbrief Feb 2019: Magdaleen skryf


Hier aan die einde van die finansiële jaar is dit verblydend dat die SAUK se radio-luisteraarsporsie tans staan op 72.1% van die totale mark, volgens die Broadcast Research Council (BRC). Dit beteken dat van alle radioluisteraars in Suid-Afrika, 72.1% van hulle spesifiek na die SAUK se radiostasies luister. Dit wys dat radio nog sterk staan as ‘n bron van vermaak en inligting aan die mense van Suid-Afrika.

Dit is egter nie net eenrigting verkeer nie en daarom kan jy ook met RSG kommunikeer deur onder meer ‘n sms-lyn. As jy seker wil maak dat jou sms wel by ons in die ateljee uitkom, maak seker jy ken die nuwe sms-nommer wat van Maandag 4 Maart af 45889 sal wees….maklik, vier vyf dubbel agt nege. Elke sms kos R1.50.

Ongelukkig het ek nog nie goeie nuus oor die regstreekse stroming van RSG via die twee RSG-toepassings op Android- en IOS-platforms nie. Koderingsaanpassings moet gedoen word, maar ‘n nuwe diensverskaffer moet eers deur die SAUK se tenderproses aangestel word. En hierdie meul maal ongelukkig nie so vining nie. Al die ander  funksies op die selfoontoepassings werk egter .

Wat betref regstreekse kommentaar op RSG van Superrugby-wedstryde net die volgende: Dit kos onderhandelinge om die radioregte te kry en daarby is dit baie duur. Die jongste inligting wat ek gekry het, is dat die regte bekom is en dat alle papierwerk betyds in plek behoort te wees, sodat RSG van komende naweek af weer regstreekse kommentaar van die Superrugbywedstryde kan doen. Hou saam met ons duim vas!

As jy vir die volgende 10 dae op of naby Stellenbosch is, kom maak gerus ‘n draai by RSG se geel karavaan in Ryneveldstraat. Kom sit en luister (en kyk) vir ons wanneer ons regstreeks van die Woordfees af uitsaai.

Ons ken mos nou al die lewe….daar is vir alles en almal ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. RSG se Chris Swanepoel se tyd om te gaan, het aangebreek. Na 36 jaar en 2 maande in diens van die SAUK, spesifiek die Afrikaanse radio, tree Chris einde Februarie af. Chris is ‘n omroeper in die omvattende sin van die word – veelsydig, uitstekende stem, bo-gemiddelde algemene kennis en ‘n passie vir sport en geskiedenis. Chris, dankie vir wat jy na Afrikaanse radio gebring het, jou invloed en oordra van kennis oor soveel jare. Maar Chris kan baie onhebbelik ook wees, en as jy moeilik soek, sit vir hom en Johan Rademan om ‘n etenstafel, in die kantoor of nog erger, saam in ‘n ateljee. Chris, geniet die afgetrede lewe, luister na Letitia wanneer sy praat en moenie die grassnyery so uitstel nie.