Ons spesiale Kersprogramme


Ons bied weer op Kersdag spesiale programme aan om die gees van dié dag te vier. Die spesiale programme begin op oukersaand en sluit die hele Kersdag in. Ons bring ook ‘n storiefees van 23 Desember tot 3 Januarie.


24 Desember Oukersaand
22:00 – Kerskonsert

Op oukersaand saai ons ‘n spesiale kerskonsert van Salon Musiek uit. Dit is onlangs by die Brooklynteater in Pretoria opgeneem en die Gautengse Filharmoniese orkes en verskeie soliste het besonder mooi kersmusiek vir ons gemaak. Onthou dus om op oukersaand na hierdie konsert te luister, so net na 22:00 die aand.

23 Desember – 3 Januarie Storiefees

Daar lê ‘n heerlike storie-fees voor van 23 Desember tot 3 Januarie.  Met Monitor wat verkort word en  Praat Saam en Spektrum wat wegval vir daai tyd, het ons besluit om vir jou stories te gee:

  • nuwe stories van oom Goltros elke middag in Spitstyd,
  • nuwe stories van Antoinette Pienaar elke oggend in die verlengde Wakker,
  • lagstories van Ian Wessels so tussen-in
  • en dan ook ‘n herhaling van al 40 episodes van Katryn, vrou van die Richtersveld… een van die gewildste vervolgverhale op RSG die afgelope dekade. Hierdie 40 episodes word elke oggend in 09:00 en elke middag 14:00 uitgesaai van Maandag 23 Desember tot Vrydag 3 Januarie.

25 Desember Kersprogramme

05:00 Kersstemming – Esté Gross
‘n Spesiale stemmingsprogram met geliefde en bekende musiek van J.S. Bach, Tsjaikofski, Eric Whitacre, John Rutter, en Ryuichi Sakamoto. Kunstenaars soos The King’s Singers, Voces8 en die sopraan Sissel kan onder andere gehoor word.

06:50 Lewende Woord

07:00 Monitor  – Anita Visser & span

08:00 Loof die Here – Magdaleen Krüger
Lofprysing met gewyde Kersmelodieë uit my versameling.

09:00 Oggenderediens

09:45 Kersverposing – Terrance April
Vullermusiek in die gees van die Kerstyd

10:00 Kersdagversoeke – Esté Gross & Ian Wessels

12:00 Kersdramas
RSG Radioteater bied Kersdagbederf vir die hele gesin met twee mini-dramas…

DIE KRISMISBOKKIE deur Audrey Blignaut
Vir die radio verwerk deur André Kotzé
Regie: Amor Tredoux
Die verhaal speel af in Bredasdorp gedurende die vyftigerjare. Christopher is ‘n hipersensitiewe natuurkind wat moeilik aanpas op die dorp. Hy dreig telkens om weg te loop plaas toe, tot sy pa eendag by die huis aankom met ‘n geskenk vir hom – ‘n klein blou duikertjie, wat Christopher se lewe handomkeer verander, tot groot verligting van die res van die gesin. Maar die lewe gee en die lewe neem…. En Kersfees draai heel anders uit as wat enigeen kon voorspel het.

Die spelers is Arno Horn, Ilana Cilliers, Elanza Swart, Elsabé Daneel, Johann Nel en Cantona James.

DIE ENGELTJIE WAT AGTERBEBLY HET deur Piet Cillié
Tot radiodrama verwerk deur André Kotzé
Regie: Amor Tredoux
Trinkie en Sussie hou saam met hulle ouers somervakansie by Willie se Baai. Op die vooraand van Kersfees neul hulle oudergewoonte vir ‘n Kersverhaal, want Pappie se stories is, anders as dié wat mens in boeke kry, altyd amper die waarheid… Gou sit hulle vasgenael deur die storie van die engeltjie wat aarde toe gekom het om saam met die engelekoor te sing by die geboorte van die Jesuskind, en toe, ewe stout, agtergebly het, om vir twee duisend en ‘n bietjie jare die aardbol te omswerf!

Die spelers is Cantona James, Elanza Swart, Ilana Cilliers en Johan Nel.

13:00 Sing tot eer – Terrance April
Luister na gewilde musiek soos DIE ONSE VADER, die SANCTUS uit Gounod se SINT CECILIA MIS, en Bruchner se LOCUS ISTE. Daar is ook minder bekende werke soos die HALLELUJA uit Beethoven se CHRISTUS OP DIE OLYFBERG, Patrick Cassidy se THE CHILDREN OF LIRTA en DIE VREDESGEBED VAN ST. FRANCIS VAN ASSISI van Karl Jenkins.

14:00 Vers en Klank – Frieda van den Heever
‘n Tradisionele en minder tradisionele blik op Kersfees uit die pen van plaaslike digters soos Sheila Cussens, Antjie Krog, Adam Small, Jeanne Goosen, Clinton V. du Plessis en Lina Spies

15:00 Kersfeesnostalgie – Lizelle de Bruin
Lizelle de Bruin ondersoek kersfees met die hulp van dr. Stephan Joubert en dr. Isak Burger. ‘n Familie is meer as net ‘n gesin. Vir een dag is ‘n baba en sy ouers die fokus van die wêreld. Gelowiges van die uithoeke van die wêreld verenig rondom die geboorte van Jesus, en almal het ‘n storie om te vertel.

16:00 Silwerskermkore – Herman Steyn
Herman Steyn neem jou op ‘n reis deur rolprente waar kore as deel van die klankbaan gebruik is, soos The Mission, Home Alone, Paradise Road, Empire of the Sun, Saving Private Ryan, Boychoir, 1492, Manchester by the Sea en Les Choristes.

17:00 So onthou ek Kersfees – Flip Loots
‘n Aantal bekende mense gesels oor hulle vroegste herinneringe van hoe hulle tuis Kersfees gevier het, afgewissel met hulle gunsteling kersliedere.

18:10 Die dag toe mev. Paashaas Kersfees gered het – Christelle van Tonder
Eendag, lank, lank gelede het Kersvader ‘n lelike griep opgedoen nadat hy ‘n pap wiel in die sneeu gekry het. Dit was twee weke voor Kersfees, en iemand anders moes die groot werk oorneem en Kersfees red. Dié groot taak word toe aan die meneer Paashaas gegee. Sal hy die mas opkom, of sal iemand anders moet help om Kersfees te red?

18:30 ‘n Millenniër-kersfees – Arehan Brand en die Kompas-span
Kerfeestradisies verskil van generasie tot generasie. Die Kompas-span vind uit hoe Kersfeestradisies oor die jare heen verander het. Daar word ook gesels oor of geskenke werklik nog só sentraal is op hierdie dag, en of ideale en wense nie belangriker is nie.

19:00 Aanderediens

19:30 Die heimwee van Krismis – Haidee Muller
Haidee gesels met oud en jonk oor die Kersliedere wat hulle met heimwee vul. Daardie lieflike en besonderse Kersklanke wat hulle laat verlang. Sommiges is self nog kind, ander vertel van hul kinderdae se kosbare Kers-herhinneringe, of vertel van daardie spesiale mense wat dalk nie meer daar is nie. Ander  speel self van hierdie gesange op klavier en selfs die viool. En natuurlik is daar diegene wat sommer hul gunsteling Kersliedere vir Haidee sing. Elkeen het ook hul eie spesiale Kersboodskappe wat hulle graag met RSG luisteraars wil deel.

20:00 Krismis Gospel – Jacqui January
Kersfees Gospelmusiek uit ‘n ander hoek

21:10 Kersaand met Fritz – Fritz Klaaste
Sluit Kersdag af met die rustige klanke van musiek, wat spesiaal deur Fritz Klaaste gekies is vir jou.

23:55 Laataandgedagte