Magdaleen skryf (nuusbrief Maart 2020)


31 Maart 2020
Aucklandpark

Soms kry ek die idee dat van ons landgenote ‘n traak-my-nie-agtige houding het oor die gevaar van COVID-19. Dis onbekende waters waarin ons tans vaar. En skielik het die wêreld ook bitter klein geword. Hou dus by die basiese reels… was jou hande gereeld, handhaaf ‘n afstand met ander mense en die beste raad van alles is, bly by jou huis, moenie rondbeweeg nie en verduur maar die ongerief vir ‘n rukkie. Terselfdertyd gaan RSG se hart ook uit na almal wat baie swaar kry in terme van werk en inkomste wat gaan stilstaan het.

By RSG is dit net die omroepers en joernaliste wat jou stasie op die lug moet hou, wat by die werk is. Ons ander werk van die huis af en verpak selfs van ons programme tuis. Ons probeer ons bes om jou geselskap te hou.

Ons het ‘n spesiale radiodrama-seisoen uit die argief vir jou saamgestel vir April en
ons herhaal ook Tobie Cronje se voorlesing van Hans steek die Rubicon oor, een van die gewildste boekvoorlesings die afgelope 2 jaar op RSG. Dit sal weeksoggende net voor 8-uur uitgesaai word, en Saterdae half 12.

Die koorprogram Laat ons Sing gaan van Sondag 5 April af langer wees, so 20 minute.
Musiekbonbons Ekstra sal ook weer gehoor kan word Sondagoggende net ná die 10-uur nuus.

Maak seker jy bly in die geselskap van RSG. Ons hou jou op hoogte van die jongste verwikkelinge met Covid-19 en ons probeer om jou op te beur waar ons kan.