Hoe verander die baba se brein ná geboorte?


Die geheime van die brein is ‘n nuwe reeks op RSG wat Maandagaande uitgesaai word. Die reeks word saamgestel en aangebied deur Johan van Lill. Moenie dit misloop nie.

Wat gebeur in die brein as jy slaap? Waar kom drome vandaan? Kan mens op meer as een ding gelyk konsentreer? Is vroue se breine anders as mans s’n? Is dit moontlik om te kan “multitask”? Leer jy beter met musiek in die agtergrond?

In hierdie reeks gaan ons die geheime van die brein ontsluit. Daar word tans in Suid-Afrika baanbrekerswerk gedoen in neurowetenskap – navorsing waarop ons met reg trots kan wees. Tegnologie het dit vir die mens moontlik gemaak om die werking van die brein in aksie te bestudeer. Interessant dat dit die orgaan is waarmee die meeste van ons ’n lewe maak, maar waarvan ons die minste weet!

Ons gaan in hierdie reeks spesifieke vrae beantwoord:  Wat moet ek van die brein weet? Wat moet ek eerder vergeet oor wat al gesê en geskryf is oor die brein? Hoe weet ek dit wat mense sê, die waarheid is? En wat kan ek met die inligting uit hierdie reeks wat ek oor die brein geleer het, doen?

Mense word wêreldwyd daagliks gekonfronteer met mites oor die brein wat as die waarheid aangebied word – uit hierdie mites word jaarliks miljarde rande verdien, omdat mense se kennis van die brein so beperk is.
Ons kyk na mites soos:

  • mense is “linkerbrein” en ander “regterbrein”,
  • die brein bestaan uit vlakke, die sogenaamde reptiel, soogdier en dink-brein,
  • sekere mense leer net visueel, ander ouditief en party deur te beweeg.
  • Gebruik ons net 10% van ons breine se potensiaal?
  • Is ons brein ’n spons wat alles kan opneem?Ons gaan met ’n verskeidenheid van eksperte gesels oor elke onderafdeling van die brein:
  • Hoe ontwikkel die brein van bevrugting tot aan die einde van ’n mens se lewe?
  • Hoe verskil die menslike brein van dierebreine?
  • Kan ’n mens enige taal aanleer?
  • Hoekom is sekere mense goed in iets en ander hopeloos?
  • Hoe kan mens jou brein fiks hou?
  • Hoe werk breinbedrading en neuroplastisiteit?
  • Hoe ons breine verander en ontwikkel tot aan die einde van ons lewe en die impak wat dit op ons lewe het.
  • Verhoudings – hoe dit jou brein se bedrading en ontwikkeling beïnvloed.

Die analitiese linkerbrein en die kreatiewe regterbrein.

Episode 1: Die mens se brein is ’n misterie waarvan die geheime eers redelik onlangs regtig deur wetenskaplikes en neuroloë begin ontsyfer is.

Is alle breine dieselfde en kan breine oor tyd verander? Is daar iets soos linker- of regterbreinmense?

Episode 2: Soveel van die menslike brein ontwikkel reeds in die baarmoeder.

Fetusse kan voel, ruik, proe, sien en hoor baie gouer as wat die meeste mense vermoed.

Moet ek vir my ongebore baba musiek speel? Kan ek al in die baarmoeder vir my ongebore baba leer spel?

Watter bydrae lewer die pa se sperms tot die kind se ontwikkeling?

Dr. Melodie de Jager, ‘n ontwikkelingskenner, en Carla van der Merwe, ‘n arbeidsterapeut, vertel van die jongste navorsing.

Episode #3: Na geboorte verander die wêreld van die baba dramaties, en moet die brein hierby aanpas.
Watter rol speel verbindings in die brein, en hoe word hierdie verbindings gevorm? Ontwikkel seuntjies en dogtertjies verskillend? Wat is nodig dat die bababrein ten volle ontwikkel?

Luister ook

https://www.rsgplus.org/gesondheid/hoe-ontwikkel-jou-babakind-se-brein/

https://www.rsgplus.org/gesondheid/verbeter-jou-breinkapasiteit/

https://www.rsgplus.org/gesondheid/jou-brein-wil-nie-rondgeruk-word-nie/

https://www.rsgplus.org/gesondheid/wat-gebeur-die-brein-jy-depressief-angstig-raak/

https://www.rsgplus.org/geestesgesondheid/wat-gebeur-in-jou-brein-as-jy-trauma-ervaar/

https://www.rsgplus.org/gesondheid/die-jongste-feite-oor-outisme/