“Prentjiemooi” debuutroman op RSG voorgelees


Die omslag van Draairivier

 ‘n Debuutroman wat al as “prentjiemooi” beskryf is, word van Maandag 9 November op RSG voorgelees. Engela Ovies se Draairivier is die nuwe aand-boekvoorlesing – elke weeksaand om 19:20.

Die aktrise Simoné Benjamin – geliefd en bekend by RSG-luisteraars as Mina Afrika – is die voorleser met Amor Tredoux as regisseur.

Draairivier
(uitgegee deur Human & Rousseau) is ‘n deernisvolle verhaal oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis.

Die storie

Dis die jaar 1955 en Suzanna Jansen woon saam met haar pa, ma en broer Gert in ‘n riethuisie op Bertus van Zyl se plaas naby Kakamas. Haar pa en broer sien bedags om na die skaap en haar ma werk in mevrou Rita se Groothuis. Dis die Kersvakansie voor Sanna se laaste skooljaar en sy kan deesdae nie die vlinders in haar maag begryp elke keer as sy die buurseun, Johannes, in een van die veekampe raakloop nie. En dan is daar Inge, die meisie met die geel hare, wat soos die slapende skoonheid gevangene is in die Groothuis. Een middag besluit Sanna om aan haar kamerdeur te klop – minwetende dat ‘n vriendskap met dié vreemdeling haar en Johannes se lewens onherroeplik gaan verander.

Engela Ovies deur Retha Ferguson

Die skrywer: Engela Ovies

Engela Ovies is op 1 Julie 1968 op  Onseepkans, ‘n grenspos tussen Pofadder in die Noord-Kaap en Namibië, gebore. Sy gaan ook hier langs die Oranjerivier by St. Philomena skool.

In 2003 trek sy na Noudonsies naby Augrabies waar sy tans saam met haar twee seuns, ‘n dogter en twee kleinkinders woon.

Draairivier is haar debuut.

Lees meer oor Simone Benjamin in die artikel in die tydskrif SARAFINA: https://sarafinamagazine.com/2019/08/28/a-conversation-with-simone-benjamin/

 

 

 

 

 

Die voorleser: Simoné Benjamin

Die voorleser Simoné Benjamin is onder andere bekend om die hoofrolle wat sy in die RSG-vervolgverhale Die verdwyning van Mina Afrika asook Die tuiskoms van Mina Afrika (albei deur Zuretha Roos) vertolk het. Sy was ook Bessie in Elise Muller se Die vrou op die skuit in RSG Radioteater en het ‘n rits ander rolle vir RSG Drama vertolk. Sy is in Bredasdorp gebore en het Drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer.

As student was sy baie betrokke by die reëlings vir die Woordfees en het ook by die Oude Libertas Amfiteater in Stellenbosch gewerk, asook by die Fugard-teater in Kaapstad. Net ná haar studies het sy vir ‘n teatermaatskappy gewerk met opvoedkundige interaktiewe drama wat in lyn is met die CAPS kurrikulum van die WKOD -AREPP for Life. Sy het al in verskeie produksies opgetree onder leiding van bekende regisseurs soos Marthinus Basson en Susanne Beyers.

(Lees meer oor Simone Benjamin in die artikel in die tydskrif SARAFINA: https://sarafinamagazine.com/2019/08/28/a-conversation-with-simone-benjamin/)

Luister vanaf Maandag 9 November, elke weeksaand om 19:20, na Draairivier deur Engela Ovies, voorgelees deur Simoné Benjamin.