Program-verskuiwings by RSG vanaf 5 April


Ons het enkele program-verskuiwings en -verfynings aangebring. Hier is die program-verskuiwings vanaf 5 April 2021. 

                         

Soggens

Wakker op weeksoggende 05:00 – 06:00 val weg en daardie uur word nou deel van die deurnag outomatisering, wat reeds vir jare al van 00:00 – 05:00 die geval is.
Dit bring mee dat RSG Landbou nou later skuif na 05:25, met Vroegoggendgedagte en Ikra wat skuif na 05:55.

Die regstreekse uitsending van RSG begin dan 06:00 met Monitor.

Dieselfde geld vir Saterdagoggende wanneer Brekfis met Derrich 06:00 sal begin en vir Sondagoggende wanneer Oggendstemming ook 06:00 sal begin.

Hierdie verskuiwings word gedoen in die lig van besparingsmaatreëls, maar ook omdat RSG beplan om later vanjaar ‘n volledige uurlange landbouprogram van 05:00 – 06:00 op weeksdae uit te saai.

Middae

Die middag-aktualiteitsprogram Spektrum word vervroeg en sal van 12:00 – 13:00 weeksdae uitgesaai word.

Die middag-aktualiteitsprogramme op RSG sal dan van Maandag tot Saterdag op dieselfde tyd uitgesaai word, en dit gee ook vir die gewilde Driesestig, wat deur Martelize Brink en Johan Rademan aangebied word, die kans om weeksdae ononderbroke van 13:00 – 15:00 uit te saai.

Dit bring mee dat die middagvervolgverhaal skuif na net ná die 15:00-nuus in Spitstyd.

Aande

Wat die aandskedule betref, ruil die uitsaaitye vir die Aandboekvoorlesing en die Kinderstorie net om, en die Vroegaandgedagte val weg, wat ook ‘n besparing meebring.

Maar goeie nuus is dat die Laataandgedagte ‘n uur vroeer skuif en reeds om 22:55 uitgesaai word.

Nuusboeletiens

Wat die nuusboeletiens betref, val die 05:00 nuusboeletiens weg, asook die laataand nuushooftrekke net voor middernag.

Laataande

Op Maandae, Woensdae en Vrydae 23:10, gaan daar voortaan ‘n laataandkuier saam met die omroeper aan diens wees. Dan sal gesels word, musiek gespeel word en sommer net gekuier word.

Saterdae

Saterdae van 11:30 – 11:45 word resepte en kombuiswenke-tyd saam met die omroeper aan diens.

Nuwe Saterdag skedule

Sondae

‘n Lekkerte wag wag, is dat die musiekreeks op ‘n Sondagoggend 10:05, ‘n herhaling van die destydse baie gewilde Tranetrekkers-reeks van Johan van Lill, gaan wees. Luister wat hy te vertel het oor Tranetrekkers:

‘n Nuwe seisoen van Geloof wat Grondvat begin ook Sondagaande net na die 19:00 nuus. Flip Loots en Christina Landman gesels weer met mense oor hoe geloof in die alledaagse lewe uitgeleef word in die gemeenskap.

Gaan gerus na rsg.co.za vir die volledige RSG-programskedule wat Maandag 5 April in werking tree.