RSG verfis


Magdaleen Kruger skryf:

Van Maandag 5 Augustus af gaan RSG jou gedurende weeksdae op verskeie nuwe reise neem….’n reis na binne saam met Amore Bekker, ‘n reis deur die omgewing rondom jou met Martelize Brink en Johan Rademan, en Willem Pelser maak jou reis deur spitstyd vir jou aangenamer. En hierdie spitstyd kan tuis, by die werk of in die verkeer wees.

Soos Hellen Keller gesê het: “Die lewe is of ‘n waaghalsige reis, of niks”.

Luister na ‘n kort klankgreep oor die veranderings:

Sue Pyler, Amore Bekker en Veronique van Heyningin

Ja, Amore tjaila soggens toe, met haar nuwe program alhoebekker, van 9 tot 12. “Dit is ‘n reisprogram…en ons reis na binne”, sê Amore.

Medereisigers  is Antoinette Pienaar, Anneli Botes, en Lizma van Zyl. Daar is ook ‘n paar ou gunsteling afsaalplekke langs die pad, soos Blitsbrein, Joune, Hartebreker en die boekvoorlesings.

Lees hier meer oor alhoebekker.

Luister na nog ‘n klankgreep oor die veranderings:

Johan Rademan, Martelize Brink en Ignatius Vlok

Driesestig (360 grade) met Johan Rademan en Martelize Brink is waar jy weeksdae van 12:00 tot 15:00 jou raakpunt met jou omgewing en die wêreld om jou gaan kry.

Ons kyk wat die trom slaan by Twitter en vra jou opinie van stories wat ons oog vang. Ons gesels met mense wat ‘n impak op hul omgewing en die wyer samelewing  maak. Ons klop aan by kenners  vir praktiese raad en om die vreemde dinge wat die lewe opdis te verklaar.

Haidee Muller, Jacqui January en Mariska Spoormaker gaan kuier by huise, werke en organisasies en bring interessante mense se verhale tot die driesestig-gesprek. Met ‘n oor op die grond hou Spektrum jou op hoogte van aktuele sake.

Lees hier meer oor Driesestig.

Jody Hendricks, Mariëtta Kruger, Willem Pelser en Ettienne Ludick

Spitstyd… wel, spitstyd is spitstyd, of dit nou by die huis, die werk of in die verkeer is. Willem Pelser gaan spitstye vir jou probeer makliker maak met baie musiek, sport, verkeersverslae, die weer en die sakenuus.

Dave Pepler sal steeds op sy pos wees om een keer ‘n week saam te gesels op Spitstyd.

Lees hier meer oor Spitstyd.

Hier is ‘n opsomming van die vier nuwe programme:

  • Wakker = 05:00 – 06:00

    Renske Jacobs en Este Gross

  • alhoebekker = 09:00 – 12:00 (sluit die diensprogramme 25 min in)
  • Driesestig = 12:00 – 15:00 (sluit Spektrum 30 min in)
  • Spitstyd = 15:00 – 18:00 (sluit RSG Sport 15 min)

Ek hoop jy gaan hierdie veranderinge met ‘n oop gemoed tegemoet en dat jy die nuwe reis deur die dag aangenaam sal vind.