Rekords spat tydens radiodramaskryfkompetisie


Danksy die geesdriftigheid van RSG se luisteraars (en waarskynlik ook die Grendeltyd) het die rekords behoorlik gespat tydens vanjaar se RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie.

Daar is vanjaar ‘n totaal van 385 inskrywings ontvang. “Waar ons in die verlede sowat 130 inskrywings gekry het, het die hoeveelheid tekste vanjaar basies verdriedubbel. Ons kon dit regtig nie glo nie,” sê Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama.

Die wenners word op Vrydag 27 November tussen 15:00 en 17:00 in Spitstyd op RSG aangekondig.

“Omdat ons soveel meer inskrywings ontvang het, moes ons die beoordelaars meer tyd gun. Ons moes die tydlyn dus aanpas sodat die beoordelaarspanele elke nuwe radiodrama tydsaam kon lees. Maar ons het dit ook reggekry om steeds by die amptelike aankondiging op 27 November te hou.”

Die 2020-wendrama en skrywer ontvang R70 000 en ‘n nuwe aanmoedigingsprys is ook vanjaar ingestel. Die totale prysgeld is R155 000 en daar sal ook ‘n prys vir ‘n Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) wees.

Die tekste word deurgaans anoniem beoordeel. En ‘n lys van finaliste word ook nie aangekondig nie. Finalistekste kan wel verder geslyp word sodat die skrywers hul dramas meer opvoerbaar en uitsaaibaar kan maak.

Die vyf wendramas van 2020 se kompetisie sal vanaf April 2021 op RSG uitgesaai word.