Die vele fasette van die veelsydige Johan Rademan


Van kindsbeen af was hy al lief vir die kunste, maar op hoërskool was dít tog net nie cool nie! Tóé het sy lewe om rugby vir die eerste span gedraai. Dit was eers as dramastudent aan die Universiteit van Stellenbosch dat Johan Rademan teruggekeer het na sy eerste liefde. Die radiowêreld het hom met oop arms ontvang, en vanjaar is hy reeds 32 jaar deel van ons alledaagse lewe. Maar wie is die man agter die vriendelike stem en die lekkerlag-oomblikke? Zoe Salzwedel het gaan vasstel.

ZS: Hoe het dit gebeur dat jy gaan drama swot het?
JR: Ek wou na skool gaan rugby uitsaai. Die SAUK het my ingelig dat ek eers een of ander kwalifikasie agter my naam moet hê. Ek besluit toe op drama – dit het nie te moeilik geklink nie. En op die eerste dag daag daar toe 56 studente op. Drie jaar later was ons net sewe, waarvan slegs vier graad gevang het. Ek was een van daardie vier!

As student het ek geweet dat deelname belangrik is, en daarom was ek op die SR en in die studente-parlement. Helaas was my studenteraad portefeulje die Neelsie, soos die Langenhovenstudentesentrum bekend staan, en Radio Matie. Afrikaans-Nederlands en sielkunde was my ander twee hoofvakke.

ZS: Enige wyse woorde en spesiale oomblikke op Universiteit?
JR: Prof. Johann Combrink, ‘n legendariese taalman, se woorde “‘n Ryk man se grappe is vir party mense altyd snaaks” verstom my tot vandag toe! Dr. Danie Craven was die inwonende hoof by my koshuis, Wilgenhof, en ‘n hele paar Springbokrugbyspelers het ook hulle loopbane dáár afgeskop.

ZS: Het jy altyd in radio belanggestel?
JR: Ek wou van laerskooldae af rugby en krieket uitsaai. Voor TV was Spiekeries, soos die legendariese Gerhard Viviers bekend gestaan het, my inspirasie. Ek het dikwels aan eisteddfods deelgeneem, maar na my laerskooldae by De Tyger was dít nie meer cool nie! By Hoërskool Tygerberg was eerstespan rugby toe my voorland. Toevallig kom vandag se Springbokslot, Eben Etzebeth, ook uit Tygerberg.

Ek het terselfde tyd steeds dramas en digbundels gelees omdat dit so na aan my hart was. Chris Barnard, Pieter Fourie, PG du Plessis, Breyten Breytenbach, Adam Smal, Bartho Smith… Noem maar op! Veral die absurde dramas was heerlike leesstof. Sportboeke ook, en my gunsteling daardie tyd was Die Wye Draai (uit Frans vertaal). Dit handel oor ‘n arm seun wat die Tour de France wen. Opperman en Van Wyk Louw is tot vandag toe nog inspirerend.

Dis ‘n kuns om Pieter-Dirk Uys te laat lag …

ZS: Jy is omroeper, regisseer soms radiodramas en is sportkommentator. Wat geniet jy die meeste?
JR: Ek hou van die volle spektrum van radio: leefstyl, reis, sport en drama. Daar is vir my nie ‘n voorkeur óf afkeur nie. Ek hou van feeste en buite-uitsendings, want dit laai my batterye. Selfs om net die nuus te lees is opwindend, hoewel dit saaklik voorkom. Sedert 1984, toe ek by die Afrikaanse radio aangesluit het, het ek reeds meer as 30 sportsoorte vir radio en televisie uitgesaai. Van veerpyltjies tot potspel (pool).

Hoogtepunte was beslis toe ek in 1988 ‘n Wimbledon-tenniswedstryd uitgesaai het. Ek was ook die kommentator tydens ons Suid-Afrika se eerste geskiedkundige kriekettoer na die Wes Indiese-eilande in 1992, toe ons aan die Afrika-spele in Algiers deelgeneem het en ook tydens sewe Springbokrugbytoere na die buiteland.

Ek stel regverdige standaarde aan myself in komplekse nuustye as dit kom by dinge soos tegnologie en sosiale media. Soms is ek te hard op myself en wil ek altyd net nóg verbeter. Jy moet lees, lees, lees en nogmaals lees. Ditto vir luister en jou ore op die grond hou. Ons as omroepers is fasiliteerders van inligting en beslis nie altyd die helde in die verhaal nie. Wanneer jy op die skouer geklop word met ‘n prys of toekenning is dit lekker, maar vir my net toevallig. Elke dag is ‘n nuwe reis en ontdekking van ons opwindende Suid-Afrikaanse landskap.

Johan (tweede van links) as drama-regisseur, Hier is hy saam met die skrywer Karien Polley (derde van regs) en die akteurs wat in Polley se drama gespeel het.

ZS: Vertel ons van jou gesin?
Ek en Marianne het op Stellenbosch ontmoet. Sy is ʼn mediese dokter. Hoewel ons uiteenlopende beroepe het, is sy ook van jongs af lief vir die kunste. In matriek moes sy kies tussen musiek, ballet en medies as moontlike loopbane. Sy het ‘n goeie aanvoeling vir my werk.

Haar twee broers het haar aan sport bekend gestel en sy moes selfs op laerskool al die hele Springbokspan uit haar kop kan opnoem! Ons spot altyd oor ons eerste ontmoeting, want my heel eerste woorde by die koshuis was: “Het jy tyd?” Ons ken mekaar al sedert 1983. Dis taamlik baie tyd!

ZS: Tuis is jy die enigste man tussen vyf vroue…
JR: Ek het ‘n wonderlike, mededeelsame gesin. Ons kuier graag saam en deel dinge met mekaar. Ek dink my aanvoeling vir leefstylaangeleenthede in ons Oggend op RSG program saam met Martelize Brink, spruit juis uit die gesinsdinamika.

My skatte op aarde. Vlnr. Elizabeth (Lili), Janet, Maria en Marianna (jnr.)

My dogters is uiteenlopend. Die oudste, Maria, sing en is ʼn lid van die groep TWEE. Kore, onderwys en sang is haar passie. Sy is tans besig met haar honneurs in sielkunde. (Seker om haar pa uit te sorteer!)

Die tweede oudste, Janet, doen haar doktorsgraad in sielkunde en doen ook berading.

Marianne, die derde oudste, het haar graad in aktuariële studies voltooi en nou besig met toelatingseksamens daarin.

Ons jongste, Elizabeth, doen haar honneurs in fisiologie op Stellenbosch.

‘n Ryke verskeidenheid! Modes, grimering en “vroue-aangeleenthede” bedreig my glad nie – ek gesels graag saam.

Miskien neutraliseer dit manne-aande se inhoud en maak dit draagliker vir my. Ek wil nie heeldag jagstories, kroeggrappies of rugbystories hoor nie. Daar is veel meer opwindende dinge in die lewe.

Johan Rademan, sy gesin en hulle aanhangsels.

ZS: Julle hele gesin is baie lief vir musiek. Vertel?
JR: Die kinders sal sê: “Ons love musiek”. Ek hou van feeste en feestelikheid en het respek vir die harde werk en pad wat kunstenaars moet loop, maar klassieke musiek roer my die meeste.

Ons gesin sing elke jaar Kersliedere saam en van die dogters het in die Tygerbergkinderkoor, die SA Jeugkoor en Universiteitskoor op Stellenbosch gesing. Almal kan noot hou en ons het dikwels in die motor luidrugtig saam gesing as ons op pad is met vakansie of vir ouma en oupa gaan kuier. Die kanon waarvoor ons veral lief was, is die Beach Boys se Sloop John B. Verder het ons psalms, gesange en halleluja-liedjies gesing dat dit klap. Dis van die mooiste en roerendste melodieë. Daar was ook ʼn hele paar FAK-gunstelinge wat nie ongestraf gelaat is deur die Rademans nie!

My gunstelingmusiek kom uit die La Forza Del Destino (die mag van die noodlot) van Verdi. Dit dwing my tot stilstand, bring my terug aarde toe en gee my lewe weer sin. La Vergine del angeli (die dood van die maagd van die Engele), soos gesing deur Leontyne Price uit die opera, is en bly vir my onverbeterlike musiek.

ZS: Enige ander gunstelinge?
JR: Ek en Marianne kook graag saam, maar ook afsonderlik. Ek het ‘n manier om stadig en op lae hitte met vleis en groente om te gaan (slow-coocking), maar ‘n baksel pannekoek of korslose melktert op sy tyd is vinnige koesterkos vir ‘n groot gesin. Ek geniet goeie sushi saam met die regte wyn.

Die spesiale druk om naweek na naweek te fokus op rugby het my effens verwyder van teater en ek probeer hard om nog my kwota aandag aan die uitvoerende kunste te gee. Ballet, opera en toneel, afgewissel met ‘n paar goeie rugbywedstryde is mos ‘n uitstekende versnit, of hoe?

En van versnitte gepraat, ek het ‘n besondere belangstelling in die wynkultuur van Suid-Afrika. Die mense wat die lande bewerk en wynmakers is die kunstenaars van seisoene. Hulle kry dit reg om soms in ‘n leeftyd net twintig of dertig “skilderye” te maak met wat hulle in goeie oesjare produseer.

Kunsflieks is vir my opwindend, veral die met onderskrifte. Die voorspelbare Hollywoodsoene teen die agtergrond van uiterste rampe is vir my bloot te komies. Ek vang ‘n gly daarin. Tog is daar van tyd tot tyd merkwaardige produkte wat my aandag trek.

Reis het my visie verbreed en plekke soos Turkye, Egipte, Uganda, Rwanda, Ethiopië, Kuba, Nederland, Kanada en die Nordiese-lande (om maar ‘n paar te noem) prikkel my. Die rugbyspelende lande, doer onder en in die Noordelike halfrond, het deur my radiowerk al vir groot opwinding gesorg.

Soos toe ek in die toring in Dublin (foto regs)  gaan sit het waar James Joyce sy Ulysses geskryf het of Hemingway se ou man gestoei het met die see.

‘n Mens kry soms trane wat jou oorweldig, waar niemand anders dit kan sien nie, soos die Spaanse dramaturg, Calderon, wat in Wene en dan later in Oslo op geboue pryk waarvan min Suid-Afrikaners kennis neem. “Life is a dream“, hoe moeisaam dit ook al lees, bly vir my ‘n gunsteling.

ZS: As jy enige superkrag kan hê, wat sal dit wees?
JR: Heling!

ZS: Het jy ʼn motto?
JR: “Dalk gaan niks verlore nie,” die sterwenswoorde van ʼn jong Romeinse soldaat in Germanicus, is op sekulêre en geestelike vlak nogal vir my ‘n realistiese aansporing.