Ontmoet Fritz Klaaste: Man vir musiek, Ferrari’s en sy gesin


Dié gewilde RSG-persoonlikheid het ʼn wye reeks belangstellings waarvan musiek, motors en sport maar net ʼn paar is. Hy glo in privaatheid, regverdigheid en selfverbetering, en is bekend as iemand wie se gesin altyd eerste kom. Maar wie is Fritz Klaaste nou eintlik? Zoë Salzwedel het gaan uitvind.

ZS: Voordat jy ‘n geliefde radio-persoonlikheid en omroeper geword het, was jy eers in die onderwys. Hoe beland jy toe by radio?
FK: Ek het oor ʼn aantal jare verskeie kere by verskillende radiostasies stemtoetse afgelê. Daar was altyd goeie terugvoer, maar ek kon net nie die knoop deurhaak nie! Toe, in middel 1995 het die vorige Afrikaans Stereo stasiebestuurder, Sarel Myburgh, my geskakel en gevra of ek nog belangstel in radiowerk. Ek was toe reeds 36 jaar oud. Johannes Oosthuizen is gestuur om nuwe stemtoetse te kom doen, en ek was binne ʼn week ʼn omroeper by RSG in Port Elizabeth. Ander radiostasies het my kort daarna geskakel met aanbiedinge, maar helaas!

Oor wat ek presies wou doen by radio? Ek dink dis die mense op die voorgrond wat die gesig van ʼn beroep vorm, en daarom was aanbieding ʼn eerste opsie. Die res van die beroep het homself eers regtig aan my gewys toe ek binne die omgewing werk.

ZS: Wat geniet jy die meeste van uitsaai?
FK: My vorige bestuurder Sarel Myburgh het altyd gesê, “Mense wat aan die Comrades deelneem, is verslaaf aan suurstof”. Miskien is ek verslaaf aan adrenalien! Daar is baie adrenalien by uitsaai betrokke. Jy kry mense wat radio as ʼn promosieveldtog gebruik om ʼn persoonlikheid te bou. Daar is seker niks daarmee verkeerd nie, maar ek skram weg van die roem. Dit is reeds ʼn ingeboude deel van radiopersoonlikheid wees.

ZS: Om omroeper te wees het sy hoogtepunte, soos om bekende persoonlikhede en invloedryke mense te ontmoet, en om interessante stories te hoor. Wat beskou jy as jou gunsteling onderhoude of bydraes, en hoekom?
FK: Ek sukkel om gunstelinge te kies, want daar is veels te veel in alle kategorieë. Enige program, bydrae, dokkie of onderhoud is altyd die beste wat ek op daardie stadium kon vermag. Mens het altyd ʼn mening of twee agterna, maar ek berus by die beste wat ek kon doen. Die enigste plek waar daar altyd verbetering moontlik is, is by regstreekse uitsendings. Om in die regstreekse ateljee te wees, is iets anders. Dinge gebeur teen ʼn spoed, en loop reg of verkeerd, al is jy hoe goed voorbereid. Sommige foute is net aan jou bekend, maar van ander sal die luisteraar weet. En luisteraars kan wrede beoordelaars wees.

Fritz is mal oor motors – hy geels oor renmotors, maar hier is hy by sy speelgoed

ZS: Enige iemand wat jou goed genoeg ken, weet dat jy lief is vir motors (veral Ferrari’s). Waar kom dié liefde vandaan? En wat geniet jy die meeste van F1 kyk?
FK: Ek beskou myself eerder as ʼn sportman-ondersteuner as ‘n span-ondersteuner. Name soos Ayrton Senna, Michael Schumacher, Fernando Alonso, Alain Prost, Nelson Piquet, Nigel Mansell, Sebastian Vettel, Daniel Ricciardo, Max Verstappen en Lewis Hamilton (in geen spesifieke volgorde nie) maak iets los in my. Daar is soveel passie opgesluit in die persoonlikhede, en hulle inspireer my op ‘n persoonlike vlak. Deesdae, te danke aan sosiale media, reageer hulle selfs op jou persoonlike navrae. Wat spanne betref, Tifosi en Scuderia Ferrari, is gunstelinge, veral weens hul geskiedenis en kultuur in die sport, en deesdae ook McLaren omdat Alonso vir hulle ry. (Maar dis ‘n teer saak, want hulle staan tans geen kans om ʼn wedren te wen nie.) Maar motors oor die algemeen, sportmotors veral, kan my vir ure lank besig hou. Ek kyk alle soorte motorsport: MotoGP, DTM, Supercars, Indycar, NASCAR, Tydrenne en ons eie plaaslike formules.

ZS: Kom ons gesels ‘n bietjie oor musiek. Hoe lank bied jy nou al die Top 20 aan? En wat is jou gunsteling musiek?
FK: Alles wat ek in my beroep doen is ‘n voorreg! Daar is net 22 plekke in Formule 1 beskikbaar in die wêreld, en net so is daar slegs enkele poste in Afrikaanse Radio. Daarom is dit ‘n voorreg om enige program te kan aanbied of enige skof te kan doen. Ek is nou 22 jaar by die stasie betrokke, en die Top 20 is in die 60’s deur David Gresham, een van my mentors, begin. Ek was bevoorreg om die program by oorlede Johann Botha oor te neem toe hy voltyds TV toe is in 2007. My keuse van musiek? Dis moeilik om te sê of ek die een genre bo die ander verkies, want musiek is werklik soos medikasie. Jou geestestoestand bepaal die keuse. Maar andersins, kan ek na alle formate van jazz luister, enige tyd van die dag of nag. Jazz is in my stelsel ingeweef.

Jason Nicole en Marlene met Milan

ZS: Vertel vir ons van jou gesin. (Jy het onlangs oupa geword.) Wat geniet julle om saam te doen? Enige lekker tradisies? Hoe voel dit om oupa te wees? En wat is jou droom vir jou kleindogter?
FK: Ons gesin is baie privaat, en verkies om dinge by die huis te doen. Ek en Marlene is reeds 32 jaar getroud, maar het vir die afgelope paar jaar slegs een dag per week saam. (Saterdae) Dan moet ons rondharloop om te sorg dat volgende week se dinge in plek is.

Daar is dus nie tyd vir kuier en vriende nie – die vriende weet hopelik dat ons nog lief is vir hulle. Marlene is administrateur by die Universiteit van Johannesburg se kampuskliniek, my oudste dogter Candice is ‘n sumotologie- dosent by ʼn bekende nasionale skoonheidsfranchise, Jason is ‘n IT-spesialis en projekbestuurder by ‘n elektroniese beleggingsmaatskappy, en Jonty studeer ook Besigheids IT by UJ.

Jason en Milan

Dis juis Jason en Nicole wat ons die gelukkigste Ouma en Oupa gemaak het toe hulle op 23 Augustus vir klein Milán verwelkom het. Hulle is in hul middel-twintigs en volwasse jong ouers. Milán is beslis in goeie hande! Ons besef almal dat ons alliansievennote is om ʼn gelukkige omgewing vir haar te skep waarin sy kan grootword.

Marlene en Candice

Ons het net weer besef dat die Skepping nie ʼn eenmalige gebeurtenis was nie, daar gebeur nog daagliks wonderwerke, en ons het nou weer een beleef.

ZS: Enige ander passies, of interessante belangstellings? Miskien ‘n geheime talent?
Voor my omroepersdae het amateurtoneel ʼn groot rol in my lewe gespeel. Ek was gelukkig genoeg om hoofrolle in verskeie verhoogproduksies te kry, en karakters wat aan my rug kleef, is veral D.J. Opperman se Periandros van Korinthe, Kanna hy kô Huistoe van Adam Small, en die Engelse karakter, die antagonis, Regter Thomas Danforth in The Crucible van Arthur Miller. Ek is deesdae nog verras as iemand my Periandros, Kanna of Danforth noem. In 1983, in ‘n volgepakte Joseph Stone Teater in Athlone ty

En dan is daar die lieflinghpnde Bruce en Gino

dens ‘n Nasionale Toneelfees, het die legendariese aktrise en radiopersoonlikheid Babs Laker, gesê dat as ek nie deel van die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese word nie, sal dit ‘n tragiese dag wees. Dit was soort van ‘n opdrag, juis omdat Tannie Babs my opgesoek het om te sê “Skakel Radio Suid-Afrika, hoor jy my!”

My gesin plaas ‘n groot premie op privaatheid, maar radio laat dit nie toe nie, soos met hierdie onderhoud. Marlene is self ‘n binnehuise versierder wie se hande vir niks skeef staan nie, en ek is ‘n kunsskilder van beroep wat hoop dat ek weer sal tyd kry daarvoor.

Jazzkitaar is my jongste projek en ek gee myself ten minste drie jaar, en so met snaar en kwas wil ek graag my aftrede geniet, miskien terugkeer na die verhoog, of dalk deel vorm van die basgedeelte van ‘n koor.

ZS: Wat is jou motto/leuse vir die lewe? En hoekom?
FK: Regverdigheid. Regverdigheid vir ander en regverdigheid vir myself. Dit is egter een van die moeilikste paadjies om te loop, en maak probleemoplossing ʼn tydsame proses. Dis wat ek altyd probeer doen, en die maklikste manier bly steeds om jouself in die ander persoon se skoene te plaas. Dan kan jy sommer sien hoe lyk jy self in die prentjie, maar die meeste van ons sien dit as te veel moeite.

ZS: As jy vandag die geleentheid gegun word om enige iemand in die wêreld te ontmoet (lewend of dood), wie sal dit wees, en hoekom?
FK: Myself (Lag.) Ek sou graag buite my eie liggaam wil wees, my informasie “delete”, en myself vir die eerste keer ontmoet. Ek wonder wat my indrukke sal wees? Wat ek van myself weet, is wat ek kies om te wíl weet. Ons kies net die mooi kant, en fokus op die mooi dinge wat ons doen, soos die cliché van die kind wat voor in die klas wil sit om “eerste op die bord te kan sien”. Eintlik moet ons aandag gee aan die aspekte wat ons doelbewus onderdruk, dit mag ons eintlik die beste maak van wat ons kan wees. Ek dink baie mense sal geskok wees as hulle uiteindelik eendag hulself vir die eerste keer ontmoet.