Mariëtta: Wees jou dier se liefde waardig


‘n Goeie skoot van RSG se personeel, van aanbieders tot klankmanne, van bestuurders tot programsamestellers, is eienaars van troetediere. Hulle is nie net eienaars nie; hulle is passievol oor hul viervoetige ‘kinders’. In dié kort reeks deel hulle hul beste wenke met ander troeteldier-eienaars, en natuurlik ontmoet ons hul troetelkinders.

Mariëtta Kruger

RSG aanbieder en nuusleser Mariëtta Kruger speel waarlik ‘ma’ vir haar drie dierekinders. Sy stel ons aan hulle voor en deel haar wenke.

Katrientjie, weggooihond en moontlike Norfolk terrier, slaap nou saans heerlik warm.

“Hello RSG-luisteraars. My naam is Katrientjie. Ek en my spierwit sussie, Schnuki, is aangeneem.

“Ons kom van ‘n plakkerskamp aan die verre-Wesrand. ‘n Ou oom het ons in ‘n inkopietrollie gestoot en geld by mense gekry omdat ons so oulik is.

”Een dag stop ‘n man met ‘n spoggerige kar langs ons en sê hy wil ons koop. Die ou oom wou eers nie, maar toe bied die die man in die blink kar hom baie geld aan en ons ry saam met die man in die mooi kar. Hy laai ons toe af by ‘n DBV-tannie en ons hoor hoe sê hy vir haar haar sy moet sorg dat ons by ‘n goeie huis beland.

Schnuki, die moontlike draadhaar Jack Russel, sit gereeld soos ‘n brandwag op die muur en hou alles in die buurt dop

”Die sink-en-sementhok was baie warm, maar die DBV-tannie het mooi na ons gekyk. Op ‘n dag toe sien ons my ma met ‘n Staffie aan sy leiband daar aankom. Sy het by al die hokke gekyk en toe gevra hulle moet ons twee uitlaat en ons het toe met die Staffie, Seuna, op die gras gespeel. My ma het die DBV-tannie vertel dat Seuna se boetie onlangs hemel toe is en sy soek ‘n ander hondjie om hom gesêlskap te hou. Die DBV-tannie sê toe ons kan nie geskei word nie want ons is sussies en die man het gesê sy moet ons altwee saam laat aanneem. My ma sê toe dis reg. Ons moes vir operasies gaan voor my ma ons kon saamvat. Die volgende week het my ma ons kom haal . Ons slaap nou nie meer in die sementhok met die sink nie. Ons slaap by  ma in die bed. Sy het in die honde-ensiklopidie gekyk en sê Schnuki is ‘n draadhaar Jack Russel en ek is ‘n Norfolkterriër. Ons sê nie vir ander mense dis ‘n storie nie.

Massimo, die sfinks-kat het wel hare, maar dis bitter kort en sy pels is supersag.

“Ons boetie, Massimo, is ‘n Sfinkskat. Hy kom van die anderkant van die dorp. Van ‘n teler af. Hy het nie hare nie en hy dink hy is ook ‘n hondjie. Ons drie is groot maats. In die winter moet hy altyd ‘n jassie dra omdat dit so koud is. My ma het Massimo persent gekry by die teler, want hulle is maats. Ons is baie bly ons woon in ma se huis. Eintlik is dit ons huis want ons is meestal hier. Ma los vir ons die radio aan in die middae wanneer sy gaan uitsaai sodat ons haar kan hoor. Ma sê ons maak haar baie gelukkig. Ons hoop die RSG-luistaeraars kan hoor ma is gelukkig.

Groete van ons almal.”

Mariëtta se wenk aan troeteldier-eienaars

Wees jou kinders se onvoorwaardelike liefde waardig. Gee nie net kos nie, maar ook aandag, liefde en oefening.

(Op ‘n pêl van my se yskas staan die volgende: ‘Ek streef elke dag daarna om die mens te wees wat my honde dink ek is’.)

Schnuki die brandwag

Luister ook: Troeteldiere in deeltitel-komplekse?