Mooiloop Chris!


Chris Swanepoel

Heita! Chris as jong omroeper.

Chris Swanepoel, bekende krieketkommentator, aanbieder van Hoe verklaar jy dit? en samesteller van  verskeie bekroonde dokumentêre programme, trek die einde van die maand die deur van sy RSG-kantoor in Seepunt, agter hom toe om sy aftrede te begin geniet.

Na 36 jaar en twee maande by SAUK, het Chris Swanepoel uiteindelik besluit, dis tyd om die mikrofoon weg te bêre.

Chris Swanepoel deel sy belewenis as omroeper by RSG met Johan Rademan en Martelize Brink. Hy lê vandag die tuig neer na langer as 36 jaar by die SAUK.

Haidee Muller, wat die Hoe verklaar jy dit?-stokkie by hom oorneem, skryf oor Chris.

Van geskiedenis-man tot omroeper
Nadat hy sy militêre diensplig in 1974 voltooi het, het Chris aan die Universiteit van Stellenbosch sy B.A. graad behaal (1977),  toe volg ‘n Hoër Onderwysdiploma (1978) en in 1979 behaal hy ‘n B.A. honneurs (cum laude) in Geskiedenis. Daar hou dit nie op nie.

Later, in 2003 verwerf hy ‘n M.A. graad (cum laude) met die titel ‘n Tak van die Swanepoel-familie in Suid-Afrika, 1699 tot 1999: ‘n  genealogiese en kultuurhistoriese studie.

Chris (regs voor) as jong omroeper saam met kollegas. Links agter is Johan Rademan en regs agter is Daniël Hugo. Links voor is Terrence April en regs agter Chris is Anthea Warner.

Van 1980 tot einde 1982 is hy student, navorsingsassistent en deeltydse dosent aan die Departement Geskiedenis van die Stellenbosse Universiteit en in 1983 sluit hy aan as junior omroeper-regisseur by die destydse Afrikaanse Radiodiens in Kaapstad, waar hy sedert 1993 aan die stuur van RSG se Wes-Kaapse kantoor is.

Eers behartig hy aktualiteitsverslaggewing vir die programme Monitor en Spitstyd en later volg algemene omroeperswerk, krieketkommentaar en hy bied reekse aan soos Gesin ‘85Die goeie aardeStem van die seeSo het dit gebeur, Geskiedenis en perspektief en tot onlangs Hoe verklaar jy dit? wat Haidee Muller nou by hom oorneem.

Chris bewys hy is ‘n gesoute hoorbeeldmaker met programme soos: Nuwe wyn in ou vate (1987), ‘n program oor die kuipersberoep; Diederik van Dundee (1989) oor D.J. Opperman waarvoor hy die ATKV-radioprys ontvang; S.V. Petersen – Kind van die dal (1989) waarvoor hy bekroon is met ‘n Artes-merieteprys; Liesbet van die lettere (1990) oor Elisabeth Eybers wat vir die tweede agtereenvolgende jaar die ATKV-radioprys aan hom besorg en Toemaar die donker man (1993) oor Ingrid Jonker wat met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se SAUK-Radioprys vir 1994 bekroon word. In 2008 ontvang hy vir die derde keer die ATKV-radioprys vir ‘n dokumêntere program oor Saartjie Baartman.

Gesinsman par excellence

Chris en Laetitia Swanepoel.

Chris se dogter Annerita en haar man Nic Kearney op hul troudag.

Chris trou toe op 27 Maart 1981 met Laetitia Meyer en hulle het ‘n dogter, Annerita (nou 31), ‘n prokureur wat met Nic Kearney getroud is en die paar se eerstelingseun word in April verwag – Chris word dus vir die heel eerste keer oupa. Chris en Laetitia het ook ‘n seun, Jacobus (28), ‘n grondkundige en hortoloog, wat glo graag musiek maak in sy vrye tyd.

Hoogtepunte
Watter oomblikke sal hom bybly? “Ek het groot oomblikke op die krieket-en rugbyveld beleef,” vertel hy. “Soos die 1995 Wêreldbekereindstryd wat ons regstreeks vanaf Nuweland uitgesaai het. En ek onthou die wonderlike kriekettoets wat ek op Nuweland beleef het waar Sachin Tendulkar, Mohammed Azharuddin en Lance Klusener almal 100-talle geslaan het.

Dan was daar Trent Bridge, Nottingham se epiese tweestryd tussen Alan Donald en Michael Atherton.” Hy onthou ook die dag toe hy sommer ‘n lekker knop in die keel gekry het toe Shaun Pollock, ná vele probeerslae, uiteindelik sy honderdtal aangeteken het. En, dan was daar aook nog die Wanderers se 5de Eendag Internasionaal in 2006 – Australië het 434 vir 4 aangeteken in 50 boulbeurte en SA het gewen deur 438 vir 9 aan te teken met net een bal oor. Dís van die dinge in sy loopbaan wat altyd sal uitstaan.

Toe was daar ook nog die keer toe hy nog die program, Geskiedenis en Perspektief aangebied het en gratis vir drie weke lank op ‘n luisteraarstoer vertrek het na die Ooste. Daar het hy Maria van Riebeeck se graf in Malacca, Maleisië besoek en ook verskeie boere-konsentrasiekampte in die destydse Ceylon (nou Sri Lanka) besoek.  Sy werk, sê hy, het sy perspektief verbreed.

Stokperdjies: gewere, meubels, lees…

Chris se vrou Laetitia, en Jacobus en Annerita (hul kroos), het aldrie op dieselfde dag hul eerste springbok geskiet op Taaiboschpoort, De Aar.

Hy het darem ‘n hele paar stokperdjies wat hom in sy rustyd druk besig sal hou. Afgesien van jag en genealogiese navorsing, spog Chris ook met ‘n windbuksversameling en dan is daar die kothuismeubels (cottage furniture) wat hy graag versamel en restoureer.

En, soos hy self sê, verslind hy al wat misdaadriller is uit die pen van skrywers soos Rudi van Rensburg, Deon Meyer en ‘n verskeidenheid ander Afrikaanse skrywers.

Maar noudat die eerste kleinkind oppad is, sal daai  genealogiese en kultuurhistoriese studies van hom goed te pas kom. Daar is reeds ‘n hele paar vanne en familienavorsing wat wag en nou is daar mos baie meer tyd noudat hy nie meer by 209 Beachweg hoef aan te meld nie.

Jacobus leer kleiduif skiet met ‘n haelgeweer terwyl Chris toekyk.

Wat sê sy kollegas?
Hul vroue het hulle die onmoontlike tweeling genoem, vertel kollega Johan Rademan, wat ‘n jaar ná Chris by die SABC ingeval het. “Ons het soveel dinge gedeel, dit was ongelooflik hoe hy altyd ‘n goeie mentor en raadgewer was vir die gehalte programme wat ‘n mens wou aanbied. Een van sy vernaamste kenmerke is sy belesenheid en hoe jy hom altyd as ‘n klankbord kon gebruik het vir wat jy wou doen.”

Deur die jare het die twee ook baie lief en leed gedeel. “Chris was ‘n gesinsman by uitnemendheid en ek dink dis waar ons gedeelde waardes ook vandaan gekom het,” vertel Rademan, oftewel JR soos hy op kantoor bekendstaan. “Ons het albei, tussendeur die eise wat ons werk aan ons gestel het, ons gesinne baie hoog op prys gestel en ook baie pret saam gehad. Ons het die heel eerste KKNK saam beleef toe dit nog in geraamtevorm was. Ons het baie lekker sosiaal verkeer, maar ek dink die verlies wat ons gaan ervaar, kan ‘n mens eintlik nie met geld koop nie. Dis iets wat oor baie jare aangekom het. Chris gaan beslis ‘n leemte laat in terme van sy toegewydheid en sy diepte-agtergrond oor baie dinge.”

Magdaleen skryf
”Chris is ‘n omroeper in die omvattende sin van die word – veelsydig, uitstekende stem, bo-gemiddelde algemene kennis en ‘n passie vir sport en geskiedenis. Chris, dankie vir wat jy na Afrikaanse radio gebring het, jou invloed en oordra van kennis oor soveel jare. Maar Chris kan baie onhebbelik ook wees, en as jy moeilik soek, sit vir hom en Johan Rademan om ‘n etenstafel, in die kantoor of nog erger, saam in ‘n ateljee. Chris, geniet die afgetrede lewe, luister na Letitia wanneer sy praat en moenie die grassnyery so uitstel nie.”

En sy kollegas in die Kaap sê almal: Ons gaan jou mis, Chris, maar geniet die nuwe fase in jou lewe. Gelukkig is jy darem net ‘n telefoonoproep weg, as ons wroeg met ‘n geskiedkundige kopkrapper of twee. . .

En wie weet, dalk is jy die volgende aanbieder vir ‘n nuwe soort FlinkDink op TeeVee.

Chris in sy kantoor in Seepunt met boeke en boeke en boeke om hom.