Ontmoet Haidee: haar mense, haar stories, haar liefdes


Haidee worry nie dat sy net 1.53m lank is nie. Hier is sy saam met Eben Etsebeth, Springbok slot.

RSG se Haidee Muller, haar stories, die Hoorn-familie en die twee liefdes in haar lewe…Lees meer.

Soos kos die storie van omroeper Martelize Brink se lewe is, so is stories die kos van RSG-omroeper Haidee Muller se lewe. Sy glo elke liewe mens het ‘n storie om te vertel.

“Ek was eintlik al reeds op skool ‘n goeie opstelskrywer (seker omdat ek ‘n verbeeldingryke kind was).

Ek was lief vir lees en daarom, glo ek, kon ek goeie stories skryf. En as jy vroeg al begin lees en boonop baie lees, kan jy beslis lekker stories ook skryf en vertel. Dis nou ‘n bonus om stories met klank te vertel.

Haidee is ‘n gesinsmens, en kuier graag by haar se mense op die ‘Hoorn. Hier is sy by die doop van haar suster se seuntjie, Craig in 2014 saam met haar ouers, Pietie en Sannie Muller, haar swaer Adrian Cupido, suster Kim Cupido en jongste sus, Sandy Muller.

Met ‘n graad in Politiek, Sielkunde en Joernalistiek word Haidee toe nooit ‘n politikus, sielkundige of harde joernalis nie, sy word toe ‘n onderhoudvoerder wat ander oorreed om hul stories vir haar in haar radio-mikrofoon te vertel. Met hierdie stories het Haidee al baie RSG-luisteraars se harte geroer, trane laat loop en laat skud van die lag.

Sy vertel: “Ek moet erken, ek het baie gehou van skryf, maar daar is iets omtrent radio wat net doodeenvoudig lekkerder is. Ek dink dis omdat jy op radio jou stories met KLANK moet vertel, en mense dus so die kans gee om self die prentjies in hul kop te vorm gegrond op dit wat hulle hoor. Ek is eerlik as ek sê dat ek nou met radio my nis gevind het. Ek geniet dit baie meer. Dit voel nie vir my soos werk nie! Net soos in my dae by Huisgenoot, ontmoet ek nou ook hope interessante mense (en ja, ek hou baie van mense)”.

 

Haidee se Levi: Hy slaan die wet in Haidee se huishouding.

Haar een groot liefde is haar deurmekaar hond
“Dawgnald: My hele lewe lank was ek maar lief vir honde, veral kleintjies.

Toe ek in 1996 Kaap toe trek, was daar in die woonstel net nooit plek vir ‘n hondkind nie. Toe ek uiteindelik huiskoop, het ek vir my ‘n Yorkie al die pad van Upington af laat kom. Sy naam is Levi en hy regeer my huishouding. Hy is dol oor mense. Dalk TE. En hy bring werklik hope vreugde. Hy is vernoem na Levi Stubbs, die oorlede hoofsanger van die destydse musiekgroep, The Four Tops.”

Haidee en Harry uitgevat vir die Suidoosterbal

Haidee en Harry

Haar ander groot liefde is Harry
”Ek het eers op 40 ware liefde gevind. Ek glo mos elke pot kry tog uiteindelik sy deksel. Ek en Harry, ‘n gebore Stellenbosser, het eintlik mekaar reeds al as kinders op Oudtshoorn ontmoet (ek het gereeld saam met sy suster gespeel en hy was maar in die omtes). Sy pa was ‘n skoolhoof daar in die Hoorn. Soos die jare verloop, het ons vergeet van mekaar se bestaan.

Ons paaie het eers dekades later weer gekruis. Die bonus was dat ons nie nodig gehad het om ons ouers aan mekaar voor te stel nie, hulle het mekaar reeds geken. Ons lag ons dood vir mekaar en deel twee groot passies – musiek EN kos. Harry maak kos uit die hart uit. En dan smul ek met absolute oorgawe saam aan wat ookal hy optower.”

Sy is ook ‘n gesinsmens en kuier graag by haar se mense op die ‘Hoorn

En dan is daar musiek…
”Ek het min geduld, maar ek voel nie die spitsverkeer meer soggens nie. As ek in die verkeer kruip oppad werk toe, MOET ek musiek speel. Ek speel elke oggend ‘n wegtreksnit – dis nou die nommer waarmee ek my dag begin. En dan laai ek gereeld ‘n video van sekere oggendesnitte wat in die kar oppad werk toe speel. Musiek is een hengse groot liefde. My musiekmal-pa het my mooi geleer.”

Haidee se eetkamer is haar belangrikste vertrek. Sy maak lekker kerrie, dis glo wat haar pêlle altyd versoek as hulle kom kuier.

Die hartseerste storie wat sy al gedoen het
”My storie oor die sanger Randall Wicomb se broer, Winston, het my verskriklik hartseer gemaak. Dit was een van die aangrypendste stories wat ek al gedoen het, omdat Winston werklik uit sy hart uit gesels het. Winston moes as kind agter ‘n spieelkas wegkruip as die gesin kuiergaste kry, omdat hy te donker was. OP die ou end het hy ‘n wetenskaplike geword wat vandag in Amerika woon en daar ‘n suksesvolle loopbaan vir homself uitgekerf het.

Die snaaksste storie?
”Sjoe, daar is heeltemal te veel om te onthou. Heeltemal te veel. Die een wat ek die meeste geniet het, was toe ek ‘n trok bestuur het. ‘n Massiewe een. Ek is mos bang vir trokke, so dit was nogal vir my ‘n “big deal”.

En nou gaan sy op 45 ma word…
”Ek wou my lewe lank ma wees. Dis net iets, glo ek, waarmee jy gebore word. En oor die jare heen het dit nie verander nie, tog was ek nooit gereed nie tot in my veertigs nie. Terwyl my vriende kinders gehad het, was ek te volle toegespits op my loopbaan. Daar was doodeenvoudig net nie tyd vir ‘n baba in my lewe nie. Maar nadat ek op 40 die regte persoon ontmoet het, het ons begin gesels oor kinders. Hy het ‘n seuntjie van 12 uit ‘n vorige huwelik, en is dus al die pajamadril gewoond. Ons het einde laas jaar besluit dat ons graag wou probeer en vier maande later, was dit toe so.

Ek besef ek is ouer, maar ek glo dat jou paadjie vir jou deur God uitgelê word. Die tyd was NOU eers reg vir my.

Ons baba is ‘n dogtertjie (ons hoop nie dit verander intussen nie), ons gaan haar Maddy noem en sy word op 28 Augustus gebore. Dis als ‘n heel nuwe en ander ervaring vir my, maar ek geniet dit om te sien hoe my liggaam verander (ons kan weer agterna die lyf regkry). Ek’t geen oggendnaarheid nie en die beste is, ek het ‘n lewensmaat wat geweldig ondersteunend is. Waar ek gou paniekerig kan raak, is hy die rustigheid vanself. Dit kalmeer my geweldig. Ons sien baie uit, maar het nog niks juis gekoop nie. Ons vat dit soos dit kom. Een dag per slag. Ons vriende is geweldig opgewonde en stuur speelgoed-skapies en kleertjies aan. Ons dink Maddy gaan bitter baie bederf word.

Harry is ook op sy stil manier baie opgewonde – hy is dol oor dogtertjies en hulle is ewe gaande oor hom. En noudat sy eie dogter oppad is, glo ek hy kan self nie wag om haar in sy arms vas te hou nie, selfs al maak hy of hy als gewoond is. Hehehehe.

Ek moet myself soms knyp dat ek werklikwaar so geseënd is om ‘n babatjie op my gevorderede ouderdom te kan verwag, maar ek glo dat sy ons geskenk van die Man Daarbo is. Ek is super-opgewonde, maar ook terselfdertyd lekker bang. Ek weet niks van babatjies nie, maar hulle sê mos, jou moederlike instinkte skop in as daai kleintjie eers daar is.

Alles in my lewe het nog altyd laat gebeur, ek omarm en koester dit wat nou gebeur met HOPE liefde. Dis hoe dit is, met Haidee. (hehehe)”

Wat is jou motto/leuse vir die lewe, en hoekom?
Krummels wat brood word… Mense wat skielik sukses behaal en dan optree soos iets/iemand wat hulle nie is nie. Moet nooit jouself hoër ag as enigiemand anders nie. Lekker is soms net vingerlank. Ek behandel mense altyd soos wat ek behandel wil word: met respek. Maak nie saak of daardie persoon die vloere skrop of in ‘n blink BMW rond ry nie, jy is nie beter as hy/sy nie. Ek hou niks van hoogmoed en snobisme nie. Ek glo ook dat mense hul harte makliker vir my oopmaak, hoeka omdat ek my nie beter of hoër ag as hulle nie. Want ek is nie. En heel belangrik, jou integriteit is eerste prys.”

Haidee saai nie net uit nie, nee, sy kan ook klavier speel, trokdrywer wees en koeie melk…of kan sy?

https://www.youtube.com/watch?v=impc_OqHlDQ = trokke dryf video
https://youtu.be/gBw-z7iG_30 koeie melk video
https://youtu.be/Zi6wET7dJmc klavierspeel

Mei 2016 in Indonesië waar ek stories vir RSG opgeneem het.


En toe ek vir n RSG onderhoud ‘n vragmotor self bestuur het.

By Eseltjierus in McGregor waar ek ‘n storie oor die aftreeoord vir donkies gaan opneem het