Gentleman Wouter: méér as net operaliefhebber


Wouter en Dixie

Wouter de Wet is bekend vir sy wye kennis van operamusiek, sy liefde vir reis en sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse radio. Sy verbintenis met RSG strek terug tot die dae toe ons nog as die Afrikaanse Diens bekend gestaan het. Hy is dikwels genooi om volledige operas en operettes uit te saai, was aanbieder van Warm uit die oond, en het gereeld as resensent bydraes gemaak in Kunsforum. Sy talente strek egter veel verder as sy fenomenale kennis van opera. Het jy geweet hy het gereeld tussen 1996 en 2010 tennisverslae uitgesaai? Maar wie is die man met die vriendelike lagplooie en die warm glimlag?

Zoë Salzwedel het gaan uitvind.

ZS: Wouter, jy het ‘n graad in radiowese aan die Universiteit van Kaapstad. Wanneer het jy besef dat jy graag in radio wil werk?

WdW: Ek was maar ‘n jong seuntjie, nog op skool in Windhoek (die ou Suidwes-Afrika), toe ek instinktief geweet het dat ek eendag radioprogramme wil aanbied. Ek was versot op die radio, en het graag geluister na programme soos Almal se Gunstelinge, aangebied deur Daniël Kirstein. Ek het myself toe al vertel dat dít iets is wat ek ook wil doen.
Maar om dit te kan doen moes ek eers opleiding ontvang, en in die vroeë sestigerjare het die Universiteit van Kaapstad ‘n BA-graad in radio aangebied. Dit was basies ‘n gewone BA-graad, maar met vakke soos drama, spraakopleiding en mikrofoontegniek.

ZS: Jy bied sedert 2010 Dis Opera op RSG aan. Waar kom jou liefde vir opera vandaan? Wie is jou gunstelingoperasanger, en hoekom? En jou gunstelingopera?

WdW: Ek het geen idee waar my liefde vir opera vandaan kom nie! Ek is reeds van kleintyd af gefassineer deur stemme, veral vrouestemme, en was nog op hoërskool toe ek Maria Callas vir die eerste keer hoor sing het. Van daardie dag af

Wouter en Mimi Coertse, ‘n goeie vriendin

was daar niemand anders vir my nie. Nee, dis nie waar nie! Daar is dosyne soprane wat ek bewonder. Mimi Coertse is een van hulle, Beverly Sills, Joan Sutherland, Montserrat Caballé is almal hoog op my lysie van heldinne. Nee, ek het nie ‘n gunstelingopera nie, maar dink enigiets waarin een van my heldinne sing is kosbaar.

ZS: Wat beskou jy as jou grootste prestasie (loopbaangewys)?

WdW: Ek weet nie of dit ‘n prestasie is nie, maar ek is drie jaar gelede deur die ATKV vereer met ‘n toekenning vir my lewensbydrae (50 jaar) tot die Afrikaanse radio. Dit was beslis ‘n onverwagte en wonderlike oomblik vir my. Die honderde programme op die destydse Radio Hoëveld, Springbokradio, die Engelse en Afrikaanse radiodienste en Radio Allegro, was skielik alles die moeite werd gewees. Ek is nog altyd lief vir my werk, maar daardie toekenning was ‘n fantastiese beloning.

ZS: Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat jy ‘n vurige Blou Bul ondersteuner is! Nou ja, ons Blou Bulle is almal goeie mense, en het beslis goeie smaak, maar vertel vir ons meer oor jou liefde vir rugby? Het jy self rugby op skool gespeel

WdW: Ek het nooit op skool rugby gespeel nie, maar ek was van skooldae af ʼn vurige tennisspeler. Ek was die skoolkampioen, Windhoek-kampioen, twee

Wouter saam met Rita Streich

keer die junior Suidwes-kampioen en op universiteit het ek liga vir die tennisklub gespeel. Ook in Johannesburg, en nadat ek afgetree het, het ek in die veteraanliga meegeding. Ek het geen titels verower nie, maar jong, ek het dit geniet om te probeer!

My liefde vir die Blou Bulle is ʼn ander storie! Ek veronderstel dit kom van die jare sewentig toe die televisiediens begin het, en ons vir die eerste keer rugby kon geniet op die kassie. Dit was manne soos Naas Botha en Ray Mordt wat vir die destydse Noord-Transvaal gespeel het, wat my verbeelding aangegryp het. Ligblou was ook ‘n kleur waarmee ek kon identifiseer, en toe Noord-Tranvaal die Blou Bulle geword het, was dit lankal my span.

Wouter saam met Tito Gobbi

ZS: Almal wat jou goed genoeg ken, weet dat jy baie lief is vir reis. Jy het al heelwat plekke besoek, maar ek wil graag weet watter plek was vir jou ‘n hoogtepunt, en hoekom? Waarnatoe wil jy beslis nog eendag reis?

WdW: Ek is baie lief vir reis, en terwyl sommige van my wyse vriende hul geld gespaar en belê het, het Jors Troelie die wêreld gaan verken. Ek is versot op Wene met sy Staatsopera en die manjifieke Musikverein, lief vir Londen met sy Covent Garden en Weseinde-teaters, dolverlief op New York wat spog met die Metropolitan Opera, Carnegie Hall en die dosyne Broadway-teaters, en ek kan enige dag in Salzburg gaan woon, net om gereeld die Grosses Festspielhaus te besoek.

Wat is op my kluitklaplysie vir verdere reise? Wel, ek wil nog graag eendag Rusland toe gaan. Ek het uitgevind dat ‘n mens tot by St. Petersburg kan vlieg, daar merkwaardige plekke soos die Hermitage besoek, en dan met die Wolga op ‘n groot boot tot in Moskou kan vaar. Ek moet nog by die Bolsjoi-teater uitkom om ‘n Russiese opera te sien – dalk Prins Igor van Borodin – en ‘n Tjaikofski-ballet, verkieslik Swanemeer, gaan kyk.

Wouter en Montserrat Caballe

ZS: Het jy ʼn motto?

WdW: Hmmm… Dalk iets verspots soos: ‘As jy ‘n probleem lank genoeg vermy, sal dit weggaan.’ (Net soos die ouderdom…)

ZS: Wat doen jy vir ontspanning?

WdW: In my vrye tyd lees ek baie, veral biografieë oor komponiste, sangers, politici en akteurs. Ek verslind opera- en musiektydskrifte om my op hoogte te hou van internasionale gebeure. En ek is versot op John Grisham se boeke!

 ZS: Waar ookal Wouter is, daar is sy Yorkshire terriër! Vertel meer? Was jy nog altyd lief vir diere?

WdW: Jy sal my nou nie glo nie, maar as jong mens was ek glad nie lief vir diere nie. As kind is ek drie keer deur ‘n hond gebyt – ek het nog die littekens as bewyse.

Maar in 1975 het my eerste hondjie onverwags in my lewe kom inkruip. Een van my goeie vriende se ouers het vir hom ‘n miniatuur Pincher as ‘n verjaarsdaggeskenk gegee. Díe vriend, wat ‘n televisieregisseur was, vra toe vir my om die hondjie te babysit omdat hy die naweek moet werk. En natuurlik kon ek nie nee sê nie … Aan die einde van daardie naweek het ek en

Wouter (middel) met Richard Tucker en Tucker se vrou Sarah

die liewe kleintjie so lekker gebond dat ek geweier het om haar terug te gee.

Haar naam was Dini. En toe Dini na vyftien jaar hondjie-hemel toe is, het ek soos ‘n kind gehuil. Maar ‘n vriendin bel toe om met my die nuus te deel dat sy nou in Engeland gaan woon, en vra toe of ek nie haar Yorkie wil erf nie. Ek het teësinnig ja gesê, en so het Tina my groot liefde vir die volgende elf jaar geword. En na Tina, die skone Lana – ook ‘n Yorkie met die ongelooflikste blonde hare op haar koppie – wat ek toe na die aktrise Lana Turner vernoem het. Nes haar beroemde naamgenoot, was Lana ook ‘n actress. As sy ‘n kamera gesien het, het sy begin pose!

En toe Lana hemel toe is, het ek vir Dixie op die Internet raakgeloop. Sy was ‘n inwoner van die Dierebeskermingsvereniging in Boksburg. Sedertdien is ons onafskeidbaar. Ek glo vas daaran dat ons eendag, daar bo, met ons diertjies herenig sal word. Kan jy dink hoe lekker gaan ons speel?

Wouter saam met Freddie Mercury

Wouter en Aartsbiskop Desmond Tutu

Wouter saam met Petula Clark