Luister weer: Uys Krige se Goue Kring


Uys Krige

Uys Krige is in die Afrikaanse letterkunde bekend as “Die goue seun” en die digter van die son. Nie net was hy bekend om sy digkuns en vertalings (van Shakespeare tot Lorca en Neruda) nie, maar is ook met die Hertzogprys bekroon vir sy dramas.

Uys Krige sou in Februarie vanjaar sy 110de verjaardag gevier het.

Donderdag (9 April) om 20:00 het RSG sy drama, Die Goue Kring, uitgesaai. Dit is vir die radio verwerk deur Hermien Dommisse met spelleiding deur Evert Snyman.

Luister op RSG, 100 tot 104 fm of via RSG se webblad.

Hierdie argiefdrama is ‘n liriese en poëtiese drama oor die geliefdes Ferdinand en Isabella wat graag wil trou, maar dan daag ‘n aantreklike jong man op. Hy is op soek na Moeder Mart, maar weier om te sê hoekom.

Hannah Botha

Die aktrise Hannah Botha vertolk die rol van Violetta. Botha was onder andere bekend om haar rolle in die TV-reekse Nommer Asseblief, Agter elke man en Egoli.

Die Goue Kring handel oor die kringloop van die lewe en dood en is geskoei op ‘n legende uit die Portugese literatuur, maar Krige laat sy drama in Spanje afspeel. Die temas sluit in die mens se hoogmoed en luiheid; en hoe die lewe geen sin het sonder die dood nie.
Krige het in die jare 30 in Spanje en Frankryk gewoon en kon Spaans vlot praat. In hierdie drama kan ’n mens onder andere die invloed van Lorca op Krige se skryfwerk hoor. RSG het al voorheen van Krige se tydlose Afrikaanse verwerkings van klassieke dramas uitgesaai, soos William Shakespeare se Twaalfde Nag.

Die ander spelers in Die Goue Kring sluit in Lochner de Kock, Douwlina Grobler, André Stolz, Matthys du Toit, Charles van der Merwe, Pieter van Vuuren, Dirk Kotzé, Linda Pienaar, Francois du Bruyn en Frans Kalp. Die verhoogstuk is vir die radio verwerk deur Hermien Dommisse. Die regisseur was Evert Snyman.