Nuwe ‘Uitskieters’ vervang ‘Top 20’


RSG SKEP ‘N NUWE GEWILDE MUSIEKPROGRAM

RSG het tydens die Covid-19 inperking ‘n splinternuwe musiekprogram geformuleer om die SA Top 20 te vervang.  Laasgenoemde was ‘n treffersparade gebaseer op ware CD-verkope en het meer as vyftig jaar bestaan ​​as een van die oudste konsepte van die stasie, destyds gevestig deur die ikoniese radiopersoonlikheid David Gresham – The Gruesome Gresh met sy bekende radiolyn “Keep your feet on the Ground and…..Rrrreach for the stars!“.

Die nuwe program staan bekend as Uitskieters. RSG het besef dat CD-verkope die afgelope dekade uitgedien geraak het, en het oorweeg om die SA Top 20 om hierdie rede te vervang met iets meer opwindends en prakties in die moderne tye. Min het ons geweet dat ons besluit vinniger sou gebeur deur CD-winkels wat stelselmatig begin toemaak het en die onvoorsiene uitwerking wat Covid-19 op die ekonomie sou hê.

Gewilde RSG-musiekaanbieder Fritz Klaaste het met ‘n nuwe konsep geëksperimenteer.  Dit het mettertyd begin vorm aanneem as die nuwe Uitskieters, wat beteken om uit te staan of soos baie net verwys na “trendsetters”. Die program bestaan ​​uit drie tot vier duidelike afdelings:

  • Die aftelling van ‘n geïntegreerde lys van treffers op Top 10-trefferslyste op verskillende wêreldwye digitale platforms
  • ‘n Knippie nostalgie deur ‘n terugflits na die Top 10 uit die verlede, gebasseer op SA Top 20-data
  • Kraakvars nuwe toevoegings tot die radiostasie se amptelike speellys van die afgelope week
  • Enige noemenswaardige nuuswaardighede in die musiekbedryf

Die program is goed ontvang deur luisteraars en het seepglad op die programrooster ingeskakel as een van die bemarkbare konsepte wat ‘n perfekte resep is vir enige vennoot wat op soek is na ‘n opwindende geleentheid om hul handelsmerk te komplimenteer.

Kyk en luister – Fritz vertel meer: