Van sukkelbestaan tot skoolhoof – danksy toebroodjie-meneer


Stephen de Bruin, hoof van John Walton Sekondêre Skool. Foto: Mariska Spoormaker

Op Uitenhage vind ‘n mens die sonderlinge verhaal van ‘n toebroodjie-meneer wat jare gelede ‘n arm, uitsiglose outjie só geïnspireer het dat hy vandag skoolhoof is. Hy is Stephen de Bruin, hoof van die John Walton Sekondêre Skool op Uitenhage. Hy pas dieselfde beginsels as sy toebroodjiemeneer  op sy leerlinge toe, het Mariska Spoormaker gevind toe sy die skool besoek het.

Luister Donderdagaand om 20:00 na dié dokumentêr.

Van sukkelbestaan tot skoolhoof danksy toebroodjie-meneer

Mariska Spoormaker

Die John Walton Sekondêre Skool op Uitenhage is omring van bendes en baie leerlinge kom uitplakkerskampe soos Moeg Gesukkel en Lapland. Skoolhoof Stephen de Bruin verstaan hoe die kinders voel, want hy het onder net sulke moeilike omstandighede grootgeword.

Vir Stephen was honger skool toe gaan was die norm, nie die uitsondering nie. Die enigste toekomsvisie wat hy gehad het, was om graad 10 – die ou standard agt – uit die skool te kan gaan.

Maar, toe hy so graad ses, sewe se kant in Jubilee Park Primêr was, het hy hom vasgeloop in ‘n meneer wat sy hele lewe verander het. Stephen onthou daaedie dae.

“Ek was ‘n kaalvoetkind met ‘n stukkende broek en asvaal van die honger. En hier kom die meneer en hy glo in my vermoë.”

Dit was mnr. Roderick Simmons, die toebroodjiemeneer. Om te kan verstaan hoekom dié meneer so ‘n groot impak op Stephen se lewe gemaak het, moet ‘n mens so ‘n bietjie na sy agtergrond loer.

Mnr. Stephen de Bruin, hoof van John Walton Sekondêre Skool, saam met sy vrou Miriam en jongste seun Zechariah. Die oudste seun, Nehemiah, was op skool toe die foto geneem is. Foto: Mariska Spoormaker

“Voor ek 12 was, het ek al by iets soos ses verskillende mense gebly. Dit was omdat my pa my ma Georgina en ons vyf kinder suit die huis geskop het. Sy moes ons toe by ander mense uitplaas en ‘n inkomste as huiswerker in Port Elizabeth verdien.”

By sy Oupa Karel en stiefouma Santjies in Kleinskool het hy baie lekker gebly. “My oupa was ‘n wyse man – hy het aanvaar ek kan doen wat ek moet doen, al was ek nog so klein. Én hy het dit altyd by my ingedril dat ek verantwoordelikheid moet vat vir alles wat ek doen. Daar was nie ‘n ding van ek is nog te klein daarvoor nie.”

As tjokkertjie het Stephen hier al leer somme doen omdat hy en sy nefie Oupa Karel moes help onthou by wie hy hoeveel water afgelewer het en wie skuld hom wat.

“Ons moes die somme maak.”

Sy eerste skooljare was dan ook in Kleinskool se twee klaskamer-gebou. “Met die gevolg as jy in ‘n laer graad was, kon jy al die hoër grade se wiskunde, patrone en spelling leer, want die onderwyser moes drie verskillende grade op een dag in dieselfde klas leer.”

Gevolglik het Stephen akademies nooit gesukkel nie, maar tog was sy handskrif ‘n gekrappery en sy boeke erg verinneweerd.

Toe hy – ná nog ‘n verhuising – in Jubilee Park Primêre Skool beland, het hy amper elke dag pak gekry oor die toestand van sy skrif en sy handboeke, onthou Stephen.

Toe hy in gr. 7, kom en hy in die klas van sy toebroodjiemeneer beland, het alles verander.

“Meneer Simmons het ‘n ander benadering gehad – in plaas van my slaan oor my handskrif en boeke, het hy vir my belowe: ‘As jy vir my kan mooier skryf, dan gaan ek vir jou ‘n sny brood skool toe bring.’ My suster was ‘n huiswerker by hom, so hy het my huisomstandighede geken. Hy het geweet hoe swaar ons kry. Ek hom hom aangevat op die aanbod.”

Gou het Stephen van een snytjie brood na twee gevorder. “’Nie lank nie, toe is dit ‘n hele vier snye brood wat ek kry! Ek het nog altyd aanhou beter skryf en my boeke netjies gehou.”

Die toebroodjiemeneer het Stephen na sy huis oorgenooi vir ‘n gekookte ete.

“Ons – dis nou ek, sy vrou, twee dogters en seun, het aangesit vir ete! Natuurlik het ek n bietjie ongemaklik gevoel, want hier sit ek in die pragtige huis met ‘n swembad en ‘n kaggel en als en die mense wat so netjies lyk en ek is so asvaal, net soos ‘n kind wat in die strate opgetel is.

“Maar vir geen een oomblik het ek ervaar dat dit is hoe die mense my aansien nie. “

Agterna het Stephen homself belowe dat hy, net soos sy toebroodjiemeneer, saam met sy gesin in ‘n huis met ‘n swembad en ‘n kaggel sal woon.

Maar hy sal ook, net soos meneer Simmons, ‘n onderwyser word en óók verby die uiterlike van enige kind kyk en op die innerlike konsentreer.

Sy punte het aan hom n onderwysbeurs besorg waarna hy homself as onderwyser aan die Universiteit van Wes-Kaapland bekwaam het.

Wat kos aanbetref, het hy gesorg dat ‘n ordentlike voedingsprogram by die John Walton Sekondêre Skool ingestel word.

En, net soos sy toebroodjie-meneer, sal hy aanhou om sy leerlinge te motiveer.

“Al praat ek ook hoe lank en dit lyk hulle luister nie, ek gaan more net weer praat, want ek weet nooit wanneer die kind besef, wat die meneer praat, nogal waar is nie.”

Verskeie spesiale programme is ook in plek om veral die matrieks – veral dié wat in bitter moeilike omstandighede grootword, by te staan.

“Hongerte is maar een van die probleme waarbo hulle moet uitstyg,” sê Stephen.

Daar is onder meer ook bendes, tavernes, harde musiek wat dag en nag gespeel word, krag wat enige tyd afgaan en ‘n een- of tweevertrek huis wat met baie ander mense gedeel moet word.

Van die programme behels die volgende:

Leerlinge, wat met ‘n bepaalde vak sukkel, bly vir periodes by die spesifieke vak-onderwyser sodat die werk onder die knie gekry kan word.

Sekere klaskamers word ook na skool en oor naweke (onder toesig) vir studies beskikbaar gestel.

Verlede jaar het John Walton danksy befondsing van die Oos-Kaapse Onderwysdepartement vir die eerste keer ook ekstra klasse oor naweke en tydens vakansies aanbied.

‘n Spesiale studiekamp (binne die onderwysdepartement se llima-projek) vir verlede jaar se 57 weerlose matrieks, is verlede jaar by ‘n oord buite Uitenhage aangebied.  Die ideale leeromgewing (‘n eie bed, etes, dissipline, studieroosters, tutors en toesighouers) is hier vir hulle geskep. Elke dag moes hulle 10 ure lank, onderbreek met toebroodjies en tee, studeer. Afgetrede onderwysers en oud-leerlinge het bystand te verleen en John Walton se onderwysers het ook volgens roosters oorgeslaap en toesig gehou.

John Walton se 2019- matriekslaagsyfer het met 16% – van 62,7% na 79,2% – gestyg.

“Ons bly vir die kinders sê – doen jou beste, berei jouself voor, werk hard sodat jy kan reg wees wanneer die regte geleentheid oor jou pad kom. Jy kan nie terugsit en verwag ander mense moet jou uit armoede haal nie, jy moet dit vir jouself wil doen. Jy moet wil hard werk, ” sê Stephen.

En ‘n huis met ‘n kaggel en swembad vir sy gesin?

“Dit is so,”antwoord Stephen laggend, “ons bly in Vanes Estate op Uitenhage.”