‘As ‘n kind kom kuier’: ‘n drama vol patos


Zelda Bezuidenhout se “As ‘n kind kom kuier” word op Donderdag 4 Junie  om 20:00 op RSG uitgesaai. Hierdie boeiende drama propvol patos was die wenner van die Tweede Prys in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2019. Die gedugte aktrises Antoinette Kellermann en June van Merch vertolk die hoofrolle met die bekroonde regisseur Joanie Combrink aan die stuur van sake.”

Luister na ‘n klankgreep uit die drama:

DIE STORIE

‘n Bejaarde vrou, Elna, is ernstig siek. Haar seun woon in Australië en haar dogter is te besig om veel aandag aan haar te gee. Haar versorger Vanessa word haar hegte vriendin. Hulle word een aand verras deur ‘n onwelkome besoeker, maar iets in sy oë laat Elna besluit om hom beter te leer ken. Vanessa is aanvanklik vol vooroordele, maar hoe meer hulle  oor die jong man te wete kom, hoe meer raak hy betrokke by Elna se lewe.

Temas van versoening en vooroordeel word  in die drama belig. Die blommetjies aan ‘n “Yesterday- today- and- tomorrow” plant, wat almal anders lyk, maar in simbiose met mekaar aan dieselfde tak groei, word ‘n simbool vir die ontwikkeling van persoonlike verhoudings en die pad vorentoe.

DIE SPELERS

Die spelers is:

  • Antoinette Kellermann as die bejaarde  Elna. Sy is eensaam en ernstig siek en omdat haar eie kinders afwesig is in haar lewe, voldoen haar versorger en ‘n vreemde jong man aan haar emosionele behoeftes.
  • June van Merch is Vanessa, die versorger. Sy het aanvanklik haar bedenkinge oor die jong man se bedoelings en sy  probeer keer dat hy te betrokke raak by Elna se lewe.
  • De Klerk Oelofse is die onbekende jong man wat uit ‘n agtergeblewe agtergrond kom. Hy beskryf homself as “currently disadvantaged”
  • Daneel van der Walt is Karien, Elna se dogter. Sy is ‘n bedrywige sakevrou wat te min aandag aan haar bejaarde ma gee om regtig te weet wat in haar lewe en gemoed aangaan.
  • Pierre Nelson is Bertus, ‘n trustee van die familietrust en eksekuteur van Elna boedel.

Van links Antoinette Kellermann, De Klerk Oelofse (voor), June van Merch, Joanie Combrink (regisseur) en Daneel van der Walt. Foto deur Cassi Lowers

TEGNIESE EN AKOESTIESE VERSORGING

Die  meeste van die byklanke in die drama is deur die spelers self uitgevoer en Cassi Lowers was verantwoordelik vir die tegniese en akoestiese versorging. Die stemmingsmusiek van die drama is gekies uit die jazz genre, omdat die hoofkarakter Elna ‘n liefhebber daarvan is en sekere snitte is deur die skrywer self, gespesifiseer

DIE REGIE

Joanie Combrink

Die regie is behartig deur Joanie Combrink. Joanie is tydens die onlangse ATKV Mediaveertjies bekroon vir haar regie van RSG se epiese middag-vervolgverhaal, Man van Cirene.

DIE SKRYWER

Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout (57) is in Zambië gebore, maar het op Hennenman in die Vrystaat grootgeword. Deesdae woon sy op Parys in die Vrystaat saam met haar man, Izak, en tienerdogter, Mia. Sy bedryf ’n klein portefeulje selfsorg-gastehuise en het in die middel van 2017 haar eerste boek, As mens geluk kon eet, geskryf. Dit is as naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie bekroon. Sy was vir drie dekades lank ‘n tweetalige kopieskrywer en ook bekend om haar onlangse, volwasse roman, Die dekonstruksie van Retta Blom. As ’n kind kom kuier is haar heel eerste drama vir radio.