Bloedmaan – weerwolwe, reeksmoorde en volmaan laat jou ril


Donderdagaand 1 Okt, 20:00 open ons RSG se nuwe Radioteater-seisoen met die opvolg van die veelbekroonde BLOEDLYN (2015).

BLOEDMAAN deur Martyn le Roux, neem ons na die hartjie van die Tankwa-Karoo.

Van al die mites en legendes is die weerwolf sekerlik die een wat mense die meeste fassineer, want weerwolwe is werklik… vra maar vir Eugene De Vries, Brandon Julies en Amanda Duvenhage. Hulle is terug na vyf jaar, op ʼn nuwe saak.

ʼn Groot skroef is los in die Sutherland-omgewing – dit lyk of  ʼn reeksmoordenaar daar bedrywig is. Een van die moorde volg egter nie die patroon nie, en lyk baie soos ʼn herhaling van die ‘wolfmoorde’ wat destyds in die Boland gepleeg is – ʼn onaangename herinnering wat die polisie en baie ander eerder sou wou vergeet of in ʼn bottel iewers in ʼn kroeg sou wou verdrink…

Die rolle word vertolk deur Robbie Wessels, Neil Sandilands, Christine Voorendyk, Johny Klein, Francois Stemmet en Solomon Cupido.

Hier is twee klankgrepe oor die nuwe drama:

Rolverdeling

Majoor Eugene de Vries (Okkultiese Ondersoekeenheid SAPD) – Robbie Wessels

Spencer Hope (Joernalis) – Christine Voorendyk

Kolonel Joël Greeff (Geweldsmisdade SAPD) – Neil Sandilands

Sersant Brandon Julies (SAPD) – Johny Klein

Dr. Amanda Duvenhage (Forensiese doktor en dierkundige) – Karen Wessels

Willie Wilson (’n Trokbestuurder met ʼn donker stokperdjie) – Francois Stemmet

Daantjie Arendse (‘n Beroepsjagter van Sutherland omgewing)– Solomon Cupido

Robbie Wessels (Eugene de Vries); Johny Klein (Brandon Julies); Christine Voorendyk (Spencer Hope); Neil Sandilands (Joël Greeff)

Karen Wessels (Dr Amanda Duvenhage); Johny Klein (Sers Brandon Julies); Robbie Wessels (Majoor Eugene de Vries)

Robbie Wessels (Majoor Eugene de Vries); Johny Klein (Sers Brandon Julies); Solomon Cupido (Daantjie Arendse); Neil Sandilands (Kolonel Joël Greeff)

Johny Klein (Sers Brandon Julies); Robbie Wessels (Majoor Eugene de Vries)

Neil Sandilands (Kolonel Joël Greeff); Christine Voorendyk (Spencer Hope)

Renske Jacobs (Regisseur); Karen Wessels (Dr Amanda Duvenhage); Johny Klein (Sers Brandon Julies)

Solomon Cupido (Daantjie Arendse); Robbie Wessels; Johny Klein; Karen Wessels; Neil Sandilands

Robbie Wessels (Majoor Eugene de Vries); Karen Wessels (Dr Amanda Duvenhage)

Tegnici

Bongiwe Thomas

Evert Snyman Jnr

Renske Jacobs

Regisseur

Renske Jacobs

Die skrywer

Martyn le Roux

Die veelbekroonde skrywer, Martyn le Roux, verduidelik hoe hy te werk gegaan het om inspirasie vir BLOEDMAAN te kry:

Ek hou nie van opvolgdramas nie (of films nie!) maar na BLOEDLYN was daar vele versoeke. Die storie was ʼn eerste van sy soort in Afrikaans en ʼn waterskeidings affêre. Dit breek die kroes oop en word beloon met ’n benoeming en twee toekennings:

– Wenner: ATKV-Mediaveertjie – Beste Teks (2016)

– Nominasie: ATKV-Mediaveertjie – Beste Radiodrama (2016)

– Wenner: LIBERTY toekenning – Beste Dramaprogram (2017)

Hoe verbeter jy daarop?

Boonop was die einde van BLOEDLYN  ʼn tameletjie. Dit was oop vir interpretasie. Dit het my vyf jaar geneem om finaal moed te skep en die karakters af te stof en ʼn opvolg te skryf – een waarmee ek kon saamleef en jy die broodkrummeltjies mooi sal kan volg vanuit die gebeure uit BLOEDLYN.

BLOEDMAAN is die storie agter BLOEDLYN se storie. As jy gewonder het wat van die karakters geword het en hoe hul lewens verder verloop het, sal BLOEDMAAN jou help. Maar luister mooi, want dit is inherent ʼn liefdesverhaal en meer as net ʼn weerwolf-storie…

Luister met hierdie skakel na bloedlyn:

http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20151126_RADIOTEATER_BLOEDLYN.mp3

Bloedlyn gaan jou laat ril

 

***

Agtergrond oor die skeppingsproses

Martyn skryf:

“Ek sit in die gesellige kroegie in Sutherland se hotel. ʼn Rooikat kyk venynig na my met sy dooie oë vanuit ʼn hoek agter die toonbank. Ek is hier vir ʼn naweek om die atmosfeer en die gevoel van die omgewing te verken vir BLOEDMAAN. Die man wat oorkant my sit is ʼn beroepsjagter. Hy vertel my sy stories en ek luister aandagtig. Hy skiet jakkalse vir die boere in die omgewing.

“Wat van luiperds?” vra ek. “Is hier groter goed as jakkalse?”
“Ja, hulle is hier, maar ek los hulle vir Fauna en Flora. Jy sukkel nie met ʼn luiperd nie. Hy gaan jou lelik opdonner.”

Ek wonder wat hy sal doen as hy dalk op ʼn volmaan iets anders as ʼn luiperd sou raakloop op die uitgestrekte vlaktes? Iets soos ʼn weerwolf… ʼn Toneel vir BLOEDMAAN word op die plek gebore.

Dit is die proses wat ek volg met meeste van my skryfwerk. Ek skryf oor werklikhede, werklike mense en plekke en doop hulle in fantasie, altyd met ʼn cherry op die top.

Ek sal in ʼn seemanskroeg gaan sit om die atmosfeer, die reuke, die klanke en die stories in te asem, om te hoor van spookskepe en meerminne aan die Kaapse kus en hoe baie van die wat soutwater in hul are het en hul lewens op vissersbote deurbring, jou met groot erns sal vertel dat hulle al seehekse gesien het… Ek besoek die huis van Eliza Meiring, Buffelskraal, in die Hexriviervallei – vir my radiodrama oor die Heks van die Hexrivier – en staan in die soldervertrek, waar sy kwansuis toegesluit is voordat sy selfmoord gepleeg het. Ek deursoek die internet en die Kaapse argief vir meer inligting.

ʼn Weerwolf se skedel op my rak hou my dop terwyl ek skryf. Blue Moon en CCR se Bad Moon Rising is deel van my speellys wat oor die oorfone kom. Ek kan nie skryf sonder musiek nie. Die klankbaan van Aliens en An American Werewolf in London is suiwer inspirasie. ʼn Replika van Darth Vader en ander karakters uit Star Wars kyk in stilte toe. Hulle beurt kom nog, net soos die bonsai op die lessenaar en die vlymskerp katana teen my muur of die Knight’s Templar swaard uit die middeleeue en die model van die groot seilskip uit vervloë dae. Alles inspirasie vir ander stories wat reeds voltooi lê en ander wat nog moet kom…

Onthou, weerwolwe is werklik. Ons leef met hulle saam, elke dag van ons lewens. Dit vat net ʼn stamp, ʼn skewe woord of ʼn nydige opmerking om die hare, naels en tande te laat uitkom…

So, op 1 Oktober: sluit die deure, sit die kinders in die bed, sleep die radio nader… en jy sal glo…

Terloops…..dis volmaan daai aand.”