Luister weer: ‘Die Lyk’ is pure donker komedie


Die algehele wenner van 2019 se RSG & Sanlam radiodrama-skryfkompetisie – Die Lyk deur Karin du Toit, word Donderdagaand 11 Junie, 20:00 in Radioteater uitgesaai.

Die drama gaan oor Trudie wat vir jare lank fisies en emosioneel deur haar man aangerand is. Een aand, tydens ‘n hewige argument, steek sy hom met ‘n mes in die rug. Sy en haar volwasse seun, Francois, moet dan planne beraam om van die lyk ontslae te raak, maar sit met die bemoeisieke buurvrou, Mariaan wat alles raaksien én -luister.

Dit is ‘n donker komedie wat enduit boei met humoristiese en natuurlike radiodialoog.

Luister na ‘n klankgreep uit die drama:

‘n Aksiebelaaide donker komedie oor ‘n graf, ‘n kis en ‘n lyk…

Rolverdeling

Elzabe Zietsman

TRUDIE – Elzabé Zietsman

 

Cobus Venter

 

FRANCOIS – Cobus Venter

 

Ria Smit

 

MARIAAN – Ria Smit

 

Eloise Cupido

 

LYDIA – Eloise Cupido

 

Hannes Muller

 

WYNAND – Hannes Muller

 

David Louw

 

THYS – David Louw

 

Mari Molefe

 

LEONI – Mari Molefe Van Heerden

 

Tegnies

Die tegniese span

Die tegniese span is Bongiwe Thomas en Evert Snyman Jnr.

Skrywer

Karin du Toit

Karin Du Toit is ‘n oogkundige van Vanderbijlpark en dit is haar debuut radiodrama.

Sy is getroud, ‘n ma van twee seuns en werk al die afgelope 17 jaar as oogkundige.

In 2011 het sy haar passie vir skryf ontdek.

Sy het tussen swangerskappe, doeke en bottels deur haar eerste storie, ‘n Engelse fiksie vir jong volwassenes geskryf. Tans is sy besig om aan haar tweede Engelse fiksie te werk.

Haar 2019 debuut radiodrama het ‘n passie om in Afrikaans te skryf by haar aangewakker. Sy het kort na Die Lyk ‘n Afrikaanse jeugverhaal geskryf.

Dit is haar droom om eendag een van hierdie werke te kan publiseer.

Oor haar wendrama het Karin die volgende te sê:

Agtergrond

My skoonma is ‘n getroue RSG luisteraar. Sy het my vertel van RSG se radiodrama-skryfkompetisie en my aangemoedig om in te skryf. Oorspronklik was die verhaal van Trudie bedoel om ‘n boek te wees. Ek was lus vir ‘n storie wat begin op ‘n spannende noot en het myself ingedink in die karakter se posisie – wat sou my uiters gespanne maak? Toe dink ek, as ek nou van ‘n lyk moes ontslae raak sou dit definitief baie spanning meebring. Vanuit daardie idee is my storie toe gebore. Toe ek hoor van RSG se radiodrama kompetisie, het ek besluit om eerder my storie-idee vir ‘n radiodrama te gebruik.

Karakters
Die karakters Trudie en Francois is gebaseer op my ma en broer (dis ook hulle werklike name). Ek het met die skryf van die drama heeltyd gedink hoe hulle sou praat en optree. Wynand is ‘n fiktiewe karakter – mense moet asseblief tog nie dink my pa is ‘n vroueslaner nie! Die karakter Mariaan is na my skoonma vernoem, alhoewel my skoonma darem nie dieselfde bemoeisieke geaardheid het nie.

Skryfproses
Ek het baie vinnig geskryf aan die drama, dalk ‘n maand of so. Die moeilikste deel was om by die aantal bladsye te hou. Ek het eers gedink my storie gaan langer as 55 bladsye wees, en toe was dit amper weer ‘n uitdaging om net bo 40 bladsye te eindig.

Raad aan nuwe skrywers
Bestudeer die Radiodrama-handleiding baie deeglik. Ek het nie die slypskole bygewoon nie, maar ek is seker dit kan baie help. Ek het baie gesukkel met tegniese aspekte soos toneeloorgange. Gelukkig het die mentor se raad baie gehelp. Dit help om jou karakters op werklike mense te baseer. Laat jou karakters praat soos wat daardie mense sou praat.

Regisseur:

Renske Jacobs

Renske Jacobs voer sedert 2015 dramas en vervolgverhale vir RSG op.

“Wat ‘n plesier en ‘n voorreg om met ‘n skrywer van Karin se kaliber te kon saamwerk. Sy skryf met ‘n opregtheid wat haar drama van meet af lewe gee. Die storie en dialoog vloei moeiteloos en by die karakters vind ‘n mens dadelik aanklank omdat hulle net sowel jou eie buurt se mense kon gewees het…

As gevolg van die coronavirus moes ons aanpassings maak om die drama te kon opneem. Maar as daar nou een ding is waarmee n akteur goed is, is dit om op sy voete te dink en planne te maak. Kreatiwiteit kan op talle maniere aangewend word, en in hierdie geval het dit bygedra tot ‘n uiters suksesvolle (en plesierige) opname.

Die aktrise en kabaretsangeres Elzabé Zietsman vertolk die rol van Trudie, en teenoor haar speel Cobus Venter, wat terloops ‘n opgeleide operasanger is. Hy speel Francois, haar seun, en die twee vertolk die rolle van ma en seun asof hulle werklik geneties verbind is. Die wisselwerking tussen die verskillende tempos wat beide handhaaf is soos legkaartstukke wat inmekaar pas.

Ria Smit sit stewig in die rol van die bemoeisieke buurvrou, Mariaan, en Eloïse Cupido as Trudie se regterhand, Lydia, sorg vir genoeg drama wanneer dit blyk dat als nie pluis is nie. Voeg hierby Hannes Müller se rasperstem in die rol van Trudie se sadistiese man, Wynand; David Louw se kostelike naïviteit as arme Thys wat die besigheid probeer red en Mari Molefe Van Heerden se Leoni, wat soos stroop in en uit die storie gly, en jy sit met die resep vir ‘n wenner!

Byklanke

David Louw doen byklanke

Dis ‘n aksiebelaaide produksie wat spesifieke byklanke vereis – en die tydsberekening van elke byklank is van groot belang, want dit dra by tot die komiese element. Trouens, die tydsberekening van die byklanke is net so belangrik soos die akteurs se tydsbereking – as dit nie perfek is nie, val die hele storie plat. Gevolglik het ons sommige byklanke tydens opname geskep en ander, wat fyner tydsberekening vereis, is tydens post-produksie bygevoeg.

Gewoonlik skep die akteur baie van sy eie byklanke self terwyl hy speel, of almal spring in en help. Omdat die omstadighede waaronder ons so ‘n fisiese soort drama moes opneem egter uitdagend was (almal was by verskillende mikrofone, soms in aparte areas) het ons een akteur gebruik om byklanke te skep. So kon ons fyn beplan voor die tyd om seker te maak ons gebruik ons tyd optimaal, sodat die opname so glad as moontlik verloop en die byklanke is wat ons wil hê dit moet wees.

David Louw besig om nog byklanke te skep.

David Louw het die dag van opname beslis sy pond verdien. Hy’t gehardloop en geval en gerol, opstote oor die gruisput gedoen en op en af geklouter. Die eindresultaat maak dit egter die moeite werd, en dis in elk geval die wyse waarop talle mense die afgelope paar maande geoefen het met die dat die gyms toe is. Van die ander byklanke, soos die gespit in die water en die wat met die vrieskas te doen het, is in die regisseur se tuin en buitekamer opgeneem.

Temamusiek

Die temamusiek het ek een more gehoor toe ek vir Brekfis met Derrich nuus gelees het. Derrich Gardner het ‘n uitmuntende musiekversameling en elke Saterdagmore net voor die 7uur nuus, speel hy ‘n skaars instrumentale liedjie êrens uit die verlede. Die oggend toe hy The Baronet se The Pelican Dance speel, was ek amper histeries. Dis SOOOO kitsch, maar dit vang die donker humor mooi vas, want die liedjie wissel deurgaans tussen majeur en mineur wat die kontras skep wat nodig is in so ‘n soort komedie.

Donker komedie

Donker komedie is nie ‘n styl waaroor almal mal is nie, alhoewel dit eintlik ‘n baie interessante styl is, want dit is gemik op mense se instinktief primitiewe reaksies, en vorm die fondament van komedie: ons lag vir gebeurtenisse wat inherent tragies is (soos wanneer iemand val of teen ‘n deur vasloop) want ons primitiewe brein besef as genoeg mense val, seer kry en dalk doodgaan sal die menslike spesie mettertyd uitsterf. Om te lag is dus ‘n teenreaksie om uiteindelik die voortbestaan van die mens te verseker.

Volgens Adrian Freeman, dramaonderwyser by Pro Arte Alphen Park in Pretoria, het komedie meestal  ‘donker’ elemente in oorsprong:

“In Raymond Hull se boek oor teksskryf verduidelik hy dat meeste komedie (selfs jou gemiddelde sitcom) gebou is rondom konflik of die potensiaal tot konflik of tragiese/ ernstige gevolge… dink maar aan ‘n tipiese – ‘dirty weekend scenario’ – konflik potensiaal as jy gevang word. ‘Mistaken identity – konflik potensiaal as dit ontbloot word. Kind of hond wat die koekies opgeëet het – konflik potensiaal ens ens

En dan is daar ook die “narkose van die hart” as komedie tegniek. Waar jy jou afstomp van die fatale of ernstige gevolge .. bv man in ‘n rolstoel verloor beheer teen ‘n bult af – ons impuls reaksie is om eers te lag vir die absurdiditeit van die situasie, maar is momenteel afgestomp van die moontlike fatale of ernstige uitkoms. Dis  ‘n tegniek wat baie in Walt Disney strokiesprente gebruik word – Road Runner, Tom & Jerry ens.”

Die Lyk word Maandagmore, 15 Junie, 01:00 in Deurnag op RSG herhaal, en sal van 11 Junie af op potgooi beskikbaar wees op www.rsg.co.za