My mense, met Antoinette Kellerman


My mense deur Dot Serfontein kan op Donderdag 14 Mei om 20:00 op RSG in Radioteater gehoor word.

Solostuk met Antoinette Kellerman

“Uit die keur van Serfontein se werke neem Antoinette Kellerman jou met deernis terug na die skrywer se kosbare beskrywings van haar ouers, haar soms eksentrieke Serfontein-familie en haar jare op die plaas as jong kind en later as joernalis, getroude vrou, versorgende moeder en ouerwordende dame. Lekker aardse koekemakranka-kosgoed vir die siel,” skryf die dramaturg Nico Luwes.

Antoinette Kellerman

Dot Serfontein (1925 – 2016, doopname Susanna Jacoba, getroude van Krog) was bekend om haar kortverhale en kontreiverhale. Sy was die moeder van die digter Antjie Krog.

J.C. Kannemeyer het in 1998 geskryf dat haar “essays van die beste kontreikuns in Afrikaans is”.

My mense is tydens die KKNK 2013 opgevoer en later deur RSG vir die radio verwerk. Serfontein het die KKNK se Afrikaans Onbeperk-toekenning ontvang vir haar lewensbydrae.

Saamgestel deur Juanita Swanepoel.

Regie: Juanita Swanepoel en Eben Cruywagen