Luister weer: ‘Vergifnis’


’n Uitmuntende goedvoel-storie. Meer as dit! As ons elke dag sulke positiewe stories (hoor), gaan ons land in ’n sonskynland verander.

Charles J Fourie

Só het ’n RSG-luisteraard die wendrama Vergifnis deur Charles J. Fourie beskryf. Fourie het in 2015 die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie gewen met ’n verhaal wat voorts as wêreldklas en “goddelik” geloof is.

RSG het hierdie wenner op Donderdag 30 April om 20:00 in die eerste Radioteater-seisoen van 2020 herhaal.

Die storie

Muriel, ‘n ouerige vrou, kom woon op Touwsrivier. ‘n Jong werker help haar in die tuin en steel haar beursie, omdat hy ook graag iets luuks en lekkers by die vulstasie wou gaan koop om te eet. Hy spandeer ‘n nag in die tronk, en Muriel trek die saak van diefstal teen hom terug, mits… Wie is dié eksentrieke vrou en hoekom het sy op Touwsrivier kom aftree?

In Vergifnis lei Muriel ‘n protesoptog van Touwsrivier na die Parlement in Kaapstad. Die jong man wat haar in haar huis beroof het, het ingestem om haar in die rolstoel na Kaapstad te stoot waar sy die toenemende misdaad en gebrek aan werksgeleenthede vir jongmense onder die regering se aandag wil bring. Tydens hul reis sluit al hoe meer mense by hul aan en word dit ‘n kleurvolle optog vir verandering.

Dié “ode aan vergifnis in ‘n land waar ons daagliks sukkel met die toepassing daarvan” is ‘n boeiende, filmiese verhaal wat terselfdertyd snaaks én roerend is. Die beoordelaars van die RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie beskryf dit as “betowerend”.

Soos die Hollywood-rolprent Forrest Gump het die twee hoofkarakters ‘n skare wat hulle volg, ‘n element wat aan hierdie drama sy epiese bekoring besorg.

Victor Hugo se klassieke Les Misérables dien as katalisator vir Fourie se wendrama. Die regisseur Johan Rademan gebruik ook temamusiek uit Les Mis gekontrasteer met ‘n stukkie Afrikaanse flair waaraan die Hoërskool Durbanville se skoolkoor meegedoen het in die opmars parlement toe.

Fourie is onder andere die skrywer van die radiodrama Offer, wat met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon is. Die radioverwerking van sy verhoogstuk Ella se perde was ’n treffer tydens RSG Kunstefees. Hy was ook die skepper van onlangse vervolgverhale soos Rus en vrede, asook Brulsand.

Die akteurs in die rolverdeling is Amor Tredoux, Jarrid Geduld, Charl van Heyningen, Roelien Daneel, Zenobia Kloppers, Wessel Pretorius en Leandé Valentyn met Rademan in die regisseurstoel.

Lees en kyk hoe ons dié drama aangekondig het:

Wendrama ‘Vergifnis’ ontlok groot luisteraarsreaksie