Ella se Perde takel verskeie taboes


‘n Lesbiese Skotse vrou wat naby Hermanus met perde boer, ‘n Duitse eerwaarde van Genadendal en ‘n binne-stryd oor godsdiens, is die elemente van Charles J Fourie se drama, Ella se Perde, wat Donderdagaand 25 Junie om 20:00 op RSG uitgesaai word.

Die verhaal speel af in die Hermanus-Hawston omgewing en is gebaseer op die lewe van ‘n lesbiese boer, Ella Gordon Dove Colston, wat nie soseer ‘n stryd oor haar seksualiteit gestry het nie, maar oor godsdiens-beginsels.

Ella by haar perdekar.

Isabella Gordon Dove Colston, is op 18 Januarie 1873 in Edinburgh, Skotland, gebore. Sy was 7 jaar oud to haar ma dood is.

Ella en haar lewensmaat Clara op Karwyderskraal.

Die bekroonde dramaturg, Charles J Fourie, het die Skotse vrou se agtergrond mooi verweef met Eerwaarde Shaberg, ‘n Duitse sendeling van Genadendal. Hy het op ‘n hele paar verrassings afgekom toe hy op haar oudag haar testament kom opteken het.

Dié bekroonde toneelstuk is spesiaal vir die radio verwerk, en handel oor die “perdevrou van die Overberg”, Ella Gordon Dove Colston. ‘n Legende van die Hemel-en- Aarde-vallei kry hier roerend nuwe lewe.

Die drama word onder regie van Johan Rademan uitgesaai. Juanita Swanepoel (Ella Gordon), Johan Nel (Eerwaarde Schaberg) en André Samuels (Ferdinand Rosant) lewer uitnemende spel in die RSG Kunstefees 2014.

Veertien perde is op Karwyderskraal in die perde-begraafplaas begrawe. Die graf in die voorgrond is van haar “Wonderperd”, Boysums.

Ella het nie net die huise self gebou nie, ook die deure en kaste en selfs die kaste versier beskilder.

Meer inligting oor Ella Gordon en Karwyderskraal:

https://www.hermanusonline.mobi/hermanus-history-2/the-remarkable-ella-gordon

http://www.hermanus-history-society.co.za/ella-gordon-a-real-hermanus-character/

Luisteraarsreaksie

ELLA SE PERDE het ongekende luisteraarsreaksie gelok. Maar dit is die reaksie van een spesifieke RSG-luisteraar wat ons by RSG laat reg-op sit het, want dit was van die seun van een van die ware karakters in dié drama oor ware karakters.

John Rosant, seun van Ferdinand Rosant, skoolhoof van die skooltjie wat Ella eiehandig gebou het, was aangedaan toe hy hoor sy pa word ook in die drama uitgebeeld. John, wat later self onderwyser geword het, was ‘n seuntjie van agt jaar toe Miss Gordon in 1958 op Karwyderskraal dood is., slegs ‘n dag nadat sy uit die hospitaal gekom het om op die plaas te kom sterf. Hy onthou haar goed.

Tussen al die reaksie – John se e-pos
John het só aan RSG laat weet dat hy nog baie dinge uit Miss Gordon se tyd kan onthou:
”Ek het die drama Ella se perde baie geniet omdat ek Ella goed geken het. Die karakter Ferdinand Rosant was my pa. Ek ken ook Andreas, Anna en Eerwaarde Schaberg. My vader was in daardie tyd die skoolhoof van die skool wat eiehandig deur Ella gebou is. Ons het ook die eer gehad om haar tot haar sterfdag op 6 Mei 1958 te versorg. Iemand kan my skakel as hulle belangstel om meer van Ella se lewe op Karwyderskraal te leer. ”

Luister

Luister hoe John Rosant op Tjailatyd met Amoré gesels oor Miss Ella, sy pa en Karwyderskraal, die plaas in die Hemel-en-Aarde vallei en die Miss Gordon se perdebegraafplaas.