Hulde aan Elize Cawood: luister na van haar radio-werk


Elize Cawood

Sedert die dood van aktrise Elize Cawood, word daar baie na haar TV-werk verwys. Maar inderwaarheid het radiowerk ‘n groot rol in haar loopbaan gespeel. Ons bring in hierdie nuusbrief hulde aan van haar radiowerk. Jy kan in jou eie tyd en gemak daarna luister. Hier is ook ‘n baie skaars onderhoud met Elize toe sy van die radio-karakter Girlie afstand gedoen het, ‘n onderhoud wat jy nêrens anders sal hoor nie. 

Hier is ses van baie klankgrepe waarin Elize Cawood se stem op radio verewig is:

1) Luister na die radioteater Krag wat ons op 2 Julie uitgesaai het.

Dit is die laaste radiodrama waarin Elize gespeel het, slegs enkele weke voor haar dood.

Dit is 2020. Suid-Afrika is vir die derde keer in grendelstatus, en die landsburgers is siek en sat vir die virus en die rigiede regulasies. Hester is ‘n noodlynoperateur wat sedert die begin van die derde inperkingstyd besonder hard werk. Tussendeur al die oproepe waaraan sy gewoond is, kom daar een laatmiddag ‘n oproep deur van ‘n bejaarde vrou wat ’n noodgeval beleef. Sy’t probleme met haar krag, en Hester moet uiteindelik protokol laat vaar om die tannie te help… Die rolle word vertolk deur Karen Wessels, David Louw, Johny Klein, Elize Cawood, Mari Molefe van Heerden en Botha Enslin.

2) Luister na Wessel Pretorius se Mike & Mavis met Elize Cawood, 27 Des. 2018.

Hier is ‘n klankgreep:

Wilson Dunster en Elize Cawood

Mavis Kellerman is ‘n weduwee wat haarself afgesluit het van die wêreld. Sy e-pos slegs haar dogter en gaan nog kerk toe. Dan word sy na die opening van ‘n nuwe bioskoop wat spesialiseer in klassieke rolprente, genooi. Die eienaar, Mike Lewis, is ‘n eksentrieke oujongkêrel met ‘n ewige romantiese siel. Mavis besef gou dat Mike daarop uit is om haar hart te steel en bevind haarself aan die ontvangkant van ‘n vryery in haar herfsjare. Hierdie is ‘n gewilde argiefdrama, wat in Afrikaans én Engels aangebied word. Die akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster speel die hoofrolle.

3) KKNK se Vers en klank met Elize Cawood. ‘n regstreekse uitsending op 30 Maart 2018 om 20:00

4) Episode 23 van Stralerjakkers die radiosepie.

5) Episode 3 van Droomdelwers – dié boekvoorlesing was 2013 op lug.

6) Luister na die uitsonderlike onderhoud met Elize Cawood:

Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, skryf:

Toeka se bejaarde karakters het pret: Elize Cawood, Anton Dekker en Isodora Verwey

Dit is heeltemal onwerklik om te glo dat die geliefde aktrise Elize Cawood (28/06/1952 – 18/07/2020) skielik nie meer met ons is nie. Donderdagaand 2 Julie om agt-uur die aand het ons na ‘n brose Elize geluister wat die hoofrol in Lee Doubell se Krag vertolk het. Die karakter was ‘n vrou van Linden wat die nooddienste bel omdat sy nie kon asem kry nie. Dit was ‘n vertolking wat luisteraars diep geroer het. En nou, ‘n bietjie meer as twee weke later is haar stem stil.

In die agt jaar as uitvoerende regisseur: drama het ek verskeie kere saam met Elize gewerk. Ons het boekvoorlesings soos Hoogty deur E. Kotzé, Stralejakkers deur Leon van Nierop en Droomdelwers deur Esta Steyn opgeneem. Later ook ‘n regstreekse “Vers en Klank” van die KKNK in Oudtshoorn waar Elize se voordrag van onder andere Stephan Bouwer se verse mense twee jaar later nog bybly.

As voorleser en aktrise was Elize professioneel, voorbereid en meesal foutloos in haar vertolkings en voordrag. ‘n Mens kon haar in die opname-ateljee met applous begroet. Ons het oopmond sit en luister hoe sy deur die een na die ander paragraaf lees, sonder ‘n enkele asemteug. Ek wil haar steeds die “Olimpiese swemmer van boekvoorlesing” noem en het altyd gewonder hoe sy dit regkry om so lank en met soveel stamina te kon lees.

Elize Cawood

Elize was aards en sonder geite. Sy het ‘n oorrompelende sin vir humor gehad en kon ‘n lagbui ontketen wat bo-oor jou spoel. Sy was altyd dankbaar vir enige rol of opname wat na haar kant toe kom en het opgedaag met haar karakter en vertolking in plek. Van ‘n ouma in Martyn le Roux se Afkoeling tot Ounooi Menge in PG du Plessis se klassieke Nag van Legio.

In November 2012 skryf Esta Steyn vir my en Elize na aanleiding van die Droomdelwers-voorlesing op RSG:

“[E]k (wil) vir jou dankie sê vir die absolute briljante voorlesing van die boek.  Ek het koue rillings wanneer ek luister.  Dit gee vir my soveel genoegdoening om die storie uit jou mond te hoor. Min dinge in die lewe realiseer ooit soos wat mens dit beplan wanneer jy skryf.  En hier gebeur dit nou uit die bloute en dit vul my met diep dankbaarheid.  Jy sal miskien nie self besef wat dit vir my beteken nie.”

Wilson Dunster en Elize Cawood

In Februarie 2013 stuur Elize vir my nóg ‘n e-pos van Esta aan, wat Elize toe erken haar in trane gehad het. Steyn skryf:

“Dit was ‘n moeilike tyd, want my dierbare suster, Elna, was daardie tyd terminaal met breinkanker  – en nou eers besef ek dat daar briewe is wat onbeantwoord gebly het. Sy is op die 6de Desember oorlede.

“Maar daar is iets wat ek graag met jou wil deel. Nadat ek haar hier by my versorg het vir solank ek kon,  het ons haar oorgeplaas na die Lampiesbaai Versorgingseenheid… Haar dogter, klein Esta (…), was toe ook vir drie maande hier by my en ons het elke dag Lampiesbaai toe gery. Toe jou voorleseing begin, het ons vir Elna ‘n radio gegee sodat sy daarna kon luister. Jy sien, Elna was die een wat altyd my stories gelees het nog voordat dit na die uitgewer gegaan het. Sy was ‘n geweldige groot inspirasie in my lewe.  Met die radiotjie  daar in haar kamer, sorg ek toe een ogggend dat ek by haar is sodat ons saam kon luister. Sy kon nie praat nie, want sy het haar stem verloor. Ons het maar net in mekaar se oë gekyk terwyl jou stem daardie kamertjie se ruimtes vul. In daardie minute, Elize, het ‘n leeftyd afgespeel wat ek nooit sal vergeet nie.  Haar verwondering,  haar goedkeuring, haar liefde, het uit haar oë gestraal, al was sy so siek. Dit was die enigste keer wat ons saam na jou voorlesing geluister het. Daar is momente in mens se lewe wat mens altyd bybly.  Dit was so ‘n moment.”

Lees meer oor Elize Cawood:

https://af.wikipedia.org/wiki/Elize_Cawood