Komedie oor die triomfantlike koek


Joey van Niekerk

Die skrywer Joey van Niekerk is bekend om haar geestelike radiodramas asook haar aangrypende stuk vir RSG Kunstefees, Engel met ’n hamer, oor die lewe van Beyers Naudé. Nou is sy terug met ’n komedie oor ’n bobaasbakster en ’n koek!

Van Niekerk se Die prys debuteer op Donderdag 15 Oktober om 20:00 in Radioteater op RSG.

Die storie

Susan Pretorius, tuisteskepper en ywerige lid van die VLU wen ’n koekbakkompetisie met ’n droomprys – een wat sy en veral haar man, Hermaans, nie verwag het nie. Toe  ontdek hulle dat sy dit eintlik glad nie verdien nie. Oneerlikheid besef hulle is nie die moeite werd nie, al is die prys ook hoe aanloklik! Maar hoe nou gemaak?

Die spelers

Rika Sennnett

Die spelers is Rika Sennett, Martin Jansen, Ronel Korb en Lochner de Kock.

Radioteater – luister hier:

DIE REGISSEUR HELENA HUGO skryf

Joey van Niekerk – bekende skrywer van Paas- en Kersdramas verras ons hierdie keer met ‘n guitige komedie, een wat almal wat al vir wedstryde ingeskryf het en per ongeluk gewen het sal waardeer. Susan Pretorius bak ‘n mikrogolfkoek vir haar VLU-tak se wedstryd wat stipuleer dat die resep nuut en vars moet wees. Haar man, Hermaans, is afgetree en nie gewoond daaraan om ledig tuis te sit nie, ook voel hy dat sy hom bietjie afskeep. Toe sy haar rug draai, gooi hy ‘n hand vol bestanddele by wat hy reken haar in die skande sal bring by haar vriendinne. Maar tot groot verbasing wen Susan die prys – en ‘n groot een daarby. Wat nou gemaak?

Op pad na die oplossing vir hierdie probleem, leer Joey van Niekerk jou lag-lag ‘n paar goeie lewenslesse. Heerlike spel deur Rika Sennett, Martin Jansen, Ronel Korb en Lochner de Kock met musikale kommentaar  op CD’s deur Jannie du Toit (Pantoffelregering) en Laurika Rauch.(Neanderdalman) sorg vir net minder as ’n uur se komiese vermaak.