‘Krag’ = RSG se 1e Covid-drama


RSG maak binnekort radiodrama-geskiedenis wanneer die stasie se eerste COVID-19-drama – Krag deur Lee Doubell – die huidige dramaseisoen afsluit.

Skakel op Donderdag 2 Julie om 20:00 in vir Radioteater, om te hoor hoe dit klink wanneer daar slegs een akteur in die ateljee is, en die res van die rolverdeling in ses verskillende ruimtes êrens in Johannesburg en Pretoria.

Met die grendelstaat wat einde Maart in Suid-Afrika aangekondig is, is alle radiodrama-opnames gestaak. Later kon opnames wel voortgaan, maar onder streng voorwaardes met hoogstens twee spelers ’n paar meter uit mekaar by dieselfde mikrofoon. Lee Doubell het die uitdagings van die grendelstaat besef en toe op eie stoom Krag geskryf. Sy grendeldrama is só gekonseptualiseer dat elkeen van die spelers tuis (en in afsondering) kan wees met slegs die regisseur en een akteur in die opname-ateljee.

Krag is dus die eerste radiodrama-opname waar die ateljee-omstandighede aangepas is sodat bykans al die akteurs in die gemak van hul eie huise kan speel. Die wisselwerking tussen die akteur in die ateljee en die ander akteurs by die huis geskied per telefoon.

In die video verduidelik Kobus Burger meer oor dié proses:

Luister na ‘n klankgreep uit die drama:

Storie

Dit is Suid-Afrika 2020. Die land is vir die derde keer in grendelstatus – darem al op Vlak 4 – en die landsburgers is siek en sat vir die virus en die rigiede riglyne. Hester is ‘n noodlynoperateur wat sedert die begin van hierdie derde inperkingstyd besonder hard werk. Daar is moeilikheid daarbuite – meer as wat daar moet wees – en Hester is moet bontstaan om al die krisisse telefonies te hanteer.

Tussendeur al die oproepe waaraan Hester al gewoond is, kom daar dan een laatmiddag ‘n oproep deur van ‘n bejaarde vrou wat ’n noodgeval beleef. Sy’t probleme met haar krag, en Hester moet uiteindelik ‘protokol’ laat vaar om die tannie te help….

Rolverdeling:

HESTER – Karen Wessels

JASON – David Louw

DONOVAN – Johny Klein

ELSA – Elize Cawood

LISA – Mari

Molefe van Heerden

SAREL – Botha Enslin

Karen Wessels in die ateljee

David Louw

Elize Cawood



Tegnies:

Bongiwe Thomas (voor) en Renske Jacobs in die ateljee.

Bongiwe Thomas

Benina Ndlovu

Bonga Mazibuko

Dié drie het die tegniese aspekte behartig, met maskers en al.

Die skrywer – Lee Doubell

Lee Doubell

Lee is in Pretoria gebore en getoë. Hy’t later sak en pak afgetrek Kaap toe vir twee dekades, maar het onlangs teruggekeer na die groot geraas van Johannesburg.

Hy het destyds as kameraman en redigeerder in rolprente en televisie gewerk, en gedurende die laat jare 80 was hy voltyds musikant.

Lee is die wenner van die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie van 2017 met “Rommel, rommel”. Hy was ‘n finalis in 2018 met “Grootpad na Kleinkop”. In 2019 behaal hy die derde plek met “Koue kaiings”, en sy eerste middag-vervolgverhaal, ‘Wild en Woeker’ is vroeër die jaar uitgesaai.

Oor sy COVID-19-radiodrama het Lee die volgende te sê:

Die teks het sy oorsprong te danke aan ʼn gesprek met RSG se dramahoof, Kobus Burger. Tydens fase 5 van die inperkingsperiode het ons gepraat oor hoe drama nie meer soos in die verlede opgeneem kan word nie.

Ek het besluit om, as ʼn eksperiment,  ʼn teks te skryf wat opgevoer kon word met slegs een akteur in die ateljee. Die storie moes so boeiend wees as wat ek dit kon kry, en soos gewoonlik, wou ek ten minste een aksietoneel by die teks insluit.

Met Krag wou ek ook graag die vraag wat al vir jare by mense spook, beantwoord: “Wat kan ʼn rugbyspeler regkry met twee pienk lakens en ses nat jeans?”

Regisseur – Renske Jacobs

Renske Jacobs

Wat ‘n uitsonderlike ervaring! Dit is vir my die grootste voorreg om hierdie projek met ’n kookwater span te kon fasiliteer.

Beplanning is nog altyd iets wat ononderhandelbaar is wanneer dit by die opneem van radiodrama kom. Vir hierdie drama moes die beplanning en voorbereiding egter na die volgende vlak (excuse the pun) geneem word.

Gevolglik het ons die twee dae voor opname nogal heelwat tyd by Johny Klein se woonplek deurgebring. Hy speel Donovan – die karakter wat in al die aksietonele is, en sy aksies en bewegings het ons voor die tyd baie fyn beplan en gerepiteer. Buiten dat die akteur op die foon moet wees, moet hy ook die byklanke in sy eie woonplek behartig.

Die ateljee moes ook aangepas word sodat die akteur die direkte oproepe in haar oorfone kon hoor, en ons moes ekstra toerusting laat installeer. Rob Lens van RBF het vir Benina Ndlovu en Bonga Mazibuko afgevaardig om ons te help, en alles was gereed (en getoets) teen die dag van opname.

Die opname was ‘n intense, dog uiters bevredigende ervaring. Karen Wessels het die noodlynoperateur gespeel en in die ateljee met die oorfone gesit vir amper ses ure. Die ander spelers was op ‘standby’, maar dit was moeilik om vir hulle ‘n aanduiding te kon gee van hoe laat ons hulle uit die ateljee uit sou bel om hulle toneel op te neem. Dit was n nuwe ondervinding vir almal, en dit het by tye vinniger en ander kere stadiger, met gepaardgaande uitdagings gegaan.

Dit was vir my as jong regisseur ook ‘n besondere eer om met Elize Cawood te kon saamwerk. Ek wou nog altyd, en al was dit hierdie keer net oor die foon was dit steeds ‘n voorreg. Elize is vroeër vanjaar met ‘n ATKV Mediaveertjie bekroon vir haar RSG-voorlesing van Stralejakkers deur Leon van Nierop.

Die dokumentering van al die gebeure agter die skerms is deur David Louw hanteer, wat voor die tyd saam met Johny gewerk het om voor te berei om veral die aksietonele op kamera vas te vang. Johny en David het op die dag van opname op en af tussen die SAUK en Johny se blyplek gery, om tonele te skiet by die ateljee waar Karen opgeneem het en dan weer terug na Johny vir die aksietonele. Voorwaar ‘n aksiebelaaide dag vir almal betrokke!

Krag word Maandagmôre, 6 Julie om 01:00 in Deurnag op RSG herhaal, en sal ook as potgooi beskikbaar wees op www.rsg.co.za onder RADIOTEATER.