Marita vd Vyver se ‘Genade’: Luister weer


Marita van der Vyver

Marita van der Vyver se radiodrama, Genade, word beskryf as ‘n “meesterklas in hoe om ‘n storielyn met ‘n voorspelbare en onafwendbare einde fassinerend te hou”.

Genade is met die tweede prys bekroon in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2015 en is weer op Donderdag 23 April om 20:00 in Radioteater uitgesaai.

Kas Stuurman is ‘n afgetrede koerantman en lief vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou. Door Stuurman is ‘n afgetrede Afrikaans-onderwyseres en lief vir lees, reis, dans en haar man. Hul seun, Vic, woon in Kalifornië en is ver van sy geliefde ouers wanneer hul lewens stadig maar seker begin verbrokkel weens Door se stadige agteruitgang.

Die radiodrama is deur die beoordelaars beskryf as ‘n “hartroerende verhaal en pragtige, pragtige teks wat die luisteraar op ‘n slim manier deur al die fases van Alzheimer se siekte neem”. Dis nugter, raak nooit sentimenteel nie en is juis daarom baie ontroerend.

“Die skrywer neem ons op ‘n reis, nie een waarop ons graag sou wou gaan nie, maar dit word so goed gedoen dat die luisteraar end-uit vasgenael bly.”

June van Merch is nie net ‘n uitstekende vertolker nie.

Marita van der Vyver is die skrywer van die bekroonde roman Griet skryf ‘n sprokie asook onder andere Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom en meer onlangs Die blou van onthou. Haar eerste radiodrama, Bagasie, is destyds deur Margot Luyt geregisseer. Bagasie is ook in 2014 met die ATKV Mediaveertjie vir beste radiodrama of –teater bekroon.

Charlton George

June van Merch kan as Door Stuurman gehoor word met Charlton George as Kas. Marvin-Lee Beukes vertolk die rol van Vic. Die regisseur van hierdie argiefdrama was Margot Luyt.

Luister na Marita van der Vyver se ‘Genade’