Rugby en armoede in drama, Die Aasvoël


Tydens die Grendeltyd het RSG, Kunstekaap en die Stad Kaapstad hande gevat vir die radio-debuut van ’n jong, opkomende dramaturg, Elton Louw. Danksy ’n borgskap van Kunstekaap en Stad Kaapstad debuteer Die Aasvoël deur Elton Louw op Saterdag 29 Augustus om 17:00 op RSG.

Dit is ’n komiese drama propvol kinkels. Met rugby, misdaad en armoede as van die temas, is dit ’n storie wat interessante esse gooi.

Die uitvoerende vervaardigers is Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama van RSG, wat gehelp het met die radio-verwerking, en Rafiek Mammon.

Luister na die drama

Die storie
DIE AASVOËL (oorspronklik bekend as ROOFDIERE) deur ELTON LOUW

’n Man sit rustig en rugby kyk, wanneer ’n jong inbreker hom onkant betrap. Die twee mans wil mekaar aan die keel gryp, maar besef dat hulle baie meer in gemeen het as wat hulle ooit sou kon raai. Die storie gaan basies oor menslikheid en spreek van die sosiale kwessies aan wat baie mense daagliks in die gesig staar, naamlik werkloosheid en armoede. Wat as die lewe jou so druk dat ‘n misdaad soos inbraak die enigste opsie is?

Die storie verduidelik ook wat dalk kan gebeur as mens op die verkeerde tyd op die verkeerde plek bevind, of dalk die regte plek op die regte tyd?

Die storie sorg vir ’n verrassende kinkel.

Regisseursnota deur Denver Vraagom

Denver Vraagom

“Wat ‘n wonderlike ervaring vir my as regisseur en akteur. Die genot wat ek  uit hierdie kreatiewe reis ervaar het, was iets ongeloofliks.

Die dag toe ek aan die verwerking van Roofdiere vir radio begin het, het ek onmiddellik geweet; Hier, sit ons met ‘n wenner. Elton kry dit reg om die menslikheid na vore te bring, met wonderlike karakters, storie, humor en waarheid.

As regisseur was dit my eerste radiodrama en ek wil net vir Rafiek Mammon, Kobus Burger, Kunstekaap en RSG bedank vir hul vertroue in my. Tesame met Cassi Lowers, RSG se tegniese en akoestiese regisseur, was dit lekker om hierdie “prentjie” in te kleur.

Ek hoop dat ons luisteraars hierdie reis saam met my gaan geniet!”

Die dramaturg, Elton Louw

Elton Louw

Elton Louw is ‘n tekskrywer, amateur teatermaker en tweede jaar student by UNISA, waar hy sy B.A in Ontwikkelingstudies doen. Hy is tans werksaam by die Dysselsdorp Cape Access e-Sentrum as Ontwikkelingsbestuurder in Dysselsdorp wat ‘n projek is van die Wes-Kaapse regering.

Elton is gebore 21 Oktober 1990 en is ‘n trotse inwoner van Dysselsdorp ‘n klein plaaslike dorpie in die Klein-Karoo, tussen Oudtshoorn en De Rust in die Weskaap, waar hy ook dan opgegroei het. Hy is die 3de van 4 kinders. Hy is ‘n pa van 1 kind. Elton het laerskool voltooi by PJ Badenhorst Primêre skool en hy matrikuleer by Dysselsdorp Sekondêre Skool, in 2008. Elton het vanaf Graad 9 in die skool se drama groep gedien en het al van jongs af ‘n liefde vir teater en skryf.

In 2012 sluit Elton by ‘n Gemeenskap Drama groep BEAT aan, onder leiding van Mnr. Franklin Booysen wat ook  Elton se mentor was. Sedertdien het Elton se liefde vir teater net meer gegroei. In 2013 begin Elton saam met die groep Beat deelneem aan die Eden Drama Fees, ‘n projek wat deur die Department Kultuursake en Sport (DKES) aangebied word.  In 2014 word die BEAT drama groep, waarvan Elton toe skrywer en reggiseur was, genooi na Die Zabalaza Festival by die Baxter Teater in Kaapstad, as deel van die DKES Drama Program. In 2016 begin Elton en 2 van sy drama vriende hulle gemeenskaps drama groep, genaamd Artistic Rural Talent, waarby hy tans nog betrokke is. Die groep Artistic Rural Talent, ART in kort, is geskep om jongmense van Dysselsdorp, die geleentheid te bied om hulle talente te ontwikkel en ten toon te stel. Sedert 2016 neem die groep deel aan die Eden DKES Drama Fees. Elton is die voorsitter van die groep en dien ook as mentor vir die jongmense saam met wie hy werk.

In 2018 wen Elton Beste Regisseur by die Eden DKES drama Fees Finale in Riversdal. In 2020 word Elton se Drama Die Aasvoël gekies (oorspronklik bekend as Roodiere) as deel van die Artscape New Voices Program.

Elton geniet dit om te skryf en teater is vir hom ‘n groot passie en stokperdtjie wat hy na werksure toepas. Sy Pa is ‘n bobaas storieverteller en is die rede hoekom Elton vandag ook stories kan vertel deur middel van teater. Elton se grootste droom is om eendag vir sepies en films te kan skryf en wil ook graag groei in sy toneelspel en regie.

Die idee vir die storie

“Ek het verlede jaar die Rugby World Cup finale tussen England en Suid Afrika gekyk en die idee het net in my kop ingespring. Ek het die scenario sien afspeel soos in; wat as jy besig is om die Rugby game te kyk en iemand breek by jou huis in terwyl jy daar is? Wat sal jou reaksie wees? Dit het my motiveer om die storie te ontwikkel en te skryf. Ek het gekyk na sosiale kwessies wat ons mense in die gesig staar, soos bv.: werkloosheid en armoede, wat dan later lei tot misdaad. Dis ernstige kwessies, maar ek het probeer om dit humoristies te vertel omdat ek nie die storie te hard of seer wou maak nie.

Hierdie is ‘n storie wat met enige een kan gebeur en iewers in ons gemeenskappe het hierdie storie al dalk plaasgevind, maar dis ‘n storie waarmee baie mense kan identifiseer en die situasie waarin die twee karakters is, kan verstaan word, weens hulle menslike omstandighede. Soms gee die lewe jou nie ‘n keuse as om ‘n Aasvoël te wees, wat opsoek is na karkas of iets om te verslind nie.”

Meer oor DENVER VRAAGOM

Denver Vraagom is ‘n bekroonde aanbieder, akteur, regisseur, vervaardiger en stemkunstenaar.

Hy is gebore in Mosselbaai, maar het op Stellenbosch grootgeword. Dis dan ook hier waar sy liefde vir teater begin het. Onder die mentorskap van die legendariese Ben de Haeck en oorlede Shaun Arnolds, het hy sy talent ontwikkel.

Denver is bekend vir sy rolle in Egoli – Plek van Goud (Jakes), 7de Laan (Sheldon), Erfsondes (Preston Vraagom) en hy is ook aanbieder van die SAFTA – bekroonde kinderprogram, Words & Numbers, op SABC 2. In 1994 was Denver genomineer as beste byspeler vir sy rol in Kinkels innie kabel. In 1998 is hy bekroon met ‘n FNB Vita-prys as beste nuweling vir sy rol in Charles J. Fourie se Jobias. In 2013 was hy ook vir ‘n ATKV Mediaveertjie genomineer vir sy rol in oorlede Evert Snyman se RSG radiosepie, Doolhof. In 2015 word Denver bekroon met ‘n ATKV Mediaveertjie as beste aanbieder. (KOLLIG, KYKNET & KIE).

Denver het tot onlangs (Junie 2019) as regisseur by 7de Laan gewerk, maar hy het nuwe uitdagings nodig gehad. Hy verhuis toe (terug) Kaapstad toe, waar hy sy produksiemaatskappy, Dboy Productions, begin.

Lees meer oor Denver:

Denver Vraagom gesels oor sy stryd teen alkoholisme

Meer oor ANDRé SAMUELS

Andre Samuels

As een van RSG se geliefde radio-akteurs, is André ’n tydlose stem. Hy was onlangs te hoor in Charles J. Fourie se Ella se perde. Hy was ook onder andere in die middag-vervolgverhaal Man van Cirene deur F.A. Venter asook Esther von Waltsleben se radiodrama, Geblik.

Hy is ewe gedug op TV en die silwerdoek en was Jan in Tussen as en hoop, Kurt in Charlie Jade, Mr Fortuin in The Silent Fall, Bobby in For the Love of Food asook Rusty in Sonskyn Beperk.

Kunstekaap, wat aan die Provinsiale Administrasie behoort, is op 19 Mei 1971 ge-open as die Nico Malan Teater Sentrum. In lyn met die nuwe Suid-Afrikaanse politiese bedeling het die naam in Maart 2001 verander.

Kunstekaap se missie is om die kunste te skep, te fasiliteer en te bevorder en sodoende te help met nasiebou, om multi-kulturele produksies aan te moedig en om besigheidsverhoudings te vestig vir alle belanghebbendes.