Programskuiwe vanaf Oktober


Ons kondig enkele programskuiwe aan: sommige programme skuif na ‘n nuwe (ou) tydgleuf, en ander is nuwe programme soos Hier en anderkant die blouberge.

Kom Tjil saam – weer om 10 uur saans vanaf 5 Okt

Goeie nuus vir Tjil aanhangers! Die gewilde laataand musiekprogram skuif terug na 22:00 saans – behalwe op Woensdagaande (vir eers). Gedurende die vorige kwartaal is daar vele programaanpassings gedoen om in luisteraars se uiteenlopende behoeftes te voorsien. Ons is aangenaam verras deur luisteraars se terugvoer en Tjil se gewildheid – julle het gepraat en ons het geluister.

Op Maandag 5 Oktober skuif Tjil dus terug na 22:00 saans. Die diensprogramme sal dan weer terugskuif na die oorspronklike tydgleuwe, so ook Islam in Fokus.

Op ‘n Woensdagaand sal Tjil egter steeds om na 23:00 uitgesaai word om die boekvoorlesing Blou van Onthou se kontinuiteit te behou tot die slotvoorlesing vroeg in Desember. Daarna sal Tjil op Woensdagaande ook terugkeer na 22:00.

Diensprogramme skuif na laataand vanaf 5 Okt

Met Tjil wat terugskuif na 10 uur saans, skuif die diensprogramme of inbelprogramme net na die 11 uur nuus saans.

  • Op Maandagaande is Siele aan diens,
  • Dinsdagaande is dit Geestesgesondheid,
  • Donderdagaande net na die 11 uur nuus sal Islam in Fokus aangebied word met Afrikaanse musiek daarna tot die laataandgedagte aan die beurt kom.
  • Vrydagaande kom Ek soek… mense & werk aan die beurt.Woensdagaande sal die boekvoorlesing, Blou van Onthou, steeds om 10 uur uitgesaai word met Tjil om 11 uur totdat die boekvoorlesing tot ‘n einde kom.

‘n Nuwe Sondagoggend musiekprogram vanaf 4 Okt: Hier en anderkant die blouberge

Die berge klyk blou in die Boland

Esté Gross

‘n Opwindende nuwe musiekreeks van 13 episodes begin op Sondag 4 Oktober net na die 10:00 nuus.

Dit word saamgestel en aangebied deur Este Gross.

Dit gaan oor bekende en soms onbekende volksliedjies van Suid-Afrika en ander wêrelddele, soos Nederland, Duitsland, Italië, Frankryk, Rusland en die Verenigde Koninkryk.

Die liedjies word toegelig met interessante inligting oor die herkoms van liedjies wat jy dalk al jare saam neurie maar nie weet wat dit beteken of waar dit vandaan kom nie.

Skakel in vir Hier en anderkant die blouberge elke Sondagoggend om 10:05.

Lees meer oor die nuwe musiekprogram.

Geloof wat grondvat – begin 4 Okt

Is God ge-“mute” of praat Hy nog vandag?  Hoe naby is Jesus se wederkoms?  Hoe weet ek daar is regtig ‘n God?  Wat is ‘n engel en hulle funksies?  Hierdie is maar enkele van die onderwerpe wat behandel word in die programreeks Geloof wat grondvat wat Sondagaand 4 Oktober net na die 19:00 nuusflitse op RSG begin.

Flip Loots is die aanbieder, terwyl daar naas prof. Christina Landman wat in elke program deelneem, kundiges soos dr. Eugene Baron, dr. Jo Viljoen, dr. Isak Burger nadergetrek word. In hierdie reek van 13 weke word vrae wat in kerkmense se harte lewe oor Bybelse sake, beantwoord.

Kat en Hond: gewild en gaan voort

Kat en Hond kan maats wees

Iets wat die reaksie op Kat en Hond opnuut bevestig het, is hoe lief Suid-Afrikaners vir hulle troeteldiere is. Aanbieder Lizma van Zyl sê sy het al selfs op ‘n Sondagoggend van ‘n luisteraar gehoor wat haar hart uitgestort het oor haar hondekind wat gevorderde kanker het.

Lizma en Buddy op ‘n duin

Lizma gaan dan ook binnekort by ‘n veearts aanklop om te hoor hoe ons ons troeteldiere so gemaklik as moontlik kan maak wanneer mediese behandeling nie meer ‘n opsie is nie.

Die hartroerende verhaal van Fila, ‘n afgetrede gidshond, is eersdaags op die Kat-en-Hond spyskaart, sowel as wenke oor wat jou dierekind vir jou met ‘n “woef-woef”, “miaau” of swaai van ‘n stert probeer sê.

Lizma deel ook eersdaags van die vreemdste én snaaksste troeteldiername wat jou lekker sal laat lag.  Kat en Hond word Saterdae oggende om 11:30 uitgesaai.

Lees en en luister ook:

Anet se katte en Zelda se honde