Lynette trou in tyd van COVID-19


Hoe gemaak as COVID-19 jou troureëlings deurmekaar krap? Lynette Francis en Ashley Puren het nie toegelaat dat hul liefde en huwelik sneuwel in dié vreemde tyd nie! Lynette vertel…

”Nou is ek ‘n Mevrou pleks van ‘n juffie, ondanks Covid-19 wat my trouplanne in die wiele gery het. Alles was klaar en in plek. Dit was net die bruidegom en die oorsese gaste wat moes kom.
Ek was besig met uitsendings by die Woordfees op Stellenbosch toe een van my kontakte my laat weet dat daar veranderinge in die land kom en is my verloofde al hier?

Lynette Francis en Ashley Puren net na hul troue op die strand in Kaapstad.

Vieruur die Dinsdagoggend bel ek hom en laat weet dat hy moet kyk of hy sy vlugte kan vervroeg want hy sal dalk nie sy eie troue kan bywoon nie. Na dae se gesukkel en ure se aanhou kry hy ‘n vervroegde vlug na Suid-Afrika – net voor die president op 15 Maart 2020, die Sondagaand, sy aankondiging van ‘n ramptoestand maak.

Lynette en Ashley

Dit was senutergend maar nie naastenby soos die sielswroeging wat ons later sou meemaak nie. Ons moes daagliks die gastelys aanpas; ons oorsese gaste se visums is oombliklik teruggetrek met die president se aankondiging; die Verenigde Koningryk het ook ‘n tydperk van grendel begin.
Die aand toe ek hoor die drankverkope word ook aangepas en jou gastelys sal weldra moet verminder en die moontlikheid van plaaslik reis gaan waarskynlik opgeskort word, toe raak dit ‘n fait accompli in my gemoed.

Wat kon ons beheer? Ons was vasbeslote om te trou maar dit raak onwaarskynlik. Toe doen ons bestekopname oor wat ons kan beheer en wat buite ons hande is. Ons was nie bereid dat ‘n virus ons geluk kelder nie – beslis nie na 30 jaar sonder mekaar nie!

Toe loop ons weg. Kaap toe. Op ‘n vlug geklim, binne vier ure terug in Johannesburg, in ons khaya en met ‘n nuwe huwelikstatus en trouringe. Net ons ma’s en ons twee getuies in die Kaap het geweet van ons planne en het dit geheim gehou.

Is ek hartseer? Beslis. Het ure van sielswroeging gehad om die “regte” besluit te neem en ook ons gaste en familie se onderliggende siektetoestande in ag te neem.

Ons het die seremonie uitgestel maar nie die huwelik en lewe wat ons saam wou begin nie. Die wittebrood en die amptelike verrigtinge kom hopelik later vanjaar. Dan deel ek graag fotos met jou in my Diaan Daniels trourok.

Nou dit is vir jou ‘n ander storie waaroor ons nog gaan saampraat…”