Rus in Vrede Wouter de Wet


Wouter de Wet

RSG se ‘gentleman’ en eertydse aanbieder van Dis Opera en Loof die Here, is by sy huis in sy slaap oorlede.

Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG skryf: “Dit is met hartseer dat RSG afskeid neem van ‘n geliefde omroeper, Wouter de Wet. Hy is vroeg vanoggend (9 Maart) by sy huis oorlede ná ‘n kort siekbed. Hy het kanker gehad. Wouter se uitsaai-loopbaan strek oor 52 jaar, wat hom die omroeper maak met die langste diens. Wouter het nog tot einde verlede jaar Dis Opera en Loof die Here opgestel en aangebied.

Wouter de Wet

Dankie Wouter vir jou gentlemanskap en jou toegewydheid aan RSG. Rus in vrede onse Wouter.”

Dié geliefde aanbieder van Dis Opera en Loof die Here, het ná meer as 50 jaar in die uitsaaibedryf, in Desember 2019 finaal uitgetree. Hy het ná sy amptelike aftrede by die SAUK destyds, steeds voortgegaan om programme te maak en ook tennisverslae te lewer.

Wouter en Aartsbiskop Desmond Tutu

Wouter was bekend vir sy wye kennis van operamusiek, sy liefde vir reis en sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse radio. Sy verbintenis met RSG strek terug tot die dae toe ons nog as die Afrikaanse Diens bekend gestaan het.

Hy is dikwels genooi om volledige operas en operettes uit te saai, was aanbieder van Warm uit die oond, en het gereeld as resensent bydraes gemaak in Kunsforum. Sy talente het egter veel verder gestrek  as sy fenomenale kennis van opera. Hy het gereeld tussen 1996 en 2010 tennisverslae uitgesaai.

Hy was alom bekend as die sjarmante ‘gentleman’ met die vriendelike lagplooie en die warm glimlag.

Lees meer oor Wouter de Wet

Wees gegroet Gentleman Wouter!

Gentleman Wouter: méér as net operaliefhebber