Skoenmaker, skoenmaker, maak vir my ‘n skoen
Of jy nou met ‘n indrukwekkende versameling skoene by die huis spog, of net hou van ‘n paar gunstelinge in jou kas, die winkels loop oor van skoen-keuses.
Een van die redes hoekom jy vandag kan kies en keur, is te danke aan tegnologie. Volgens Glyn Giani, direkteur van die Skoenontwerpskool van Suid-Afrika (Footwear Design and Technology School of South Africa) het dit in die verlede tot drie maande geneem om ‘n nuwe skoen te ontwikkel. Danksy tegnologie, kan jy dit vandag in ‘n japtrap, in minder as drie dae, regkry.
Glyn het met Esté Gross gesels oor die invloed van 3 D-tegnologie op die skoenbedryf, maar sê daar is nog baie ruimte vir tradisionele skoenmaak metodes.
Hy het ook vir Esté gewys hoe ‘n skoen, ‘n wighak, op die tradisionele manier gemaak word.
Kyk die video:
Só word ‘n wighakskoen met die hand gemaak:
1. Al die materiaal en komponente van die skoen word uitgesny.
2. Die rante van die material word omgevou en met gom vasgeplak om te voorkom dat die materiaal uitrafel. (‘n Byteljie word gebruik om die rante te seel).
3. Stik die voering en die material van die skoen aanmekaar.
4. Dan word aandag gegee aan die sool. Trek die hele platvorm van die wighak oor met materiaal (spesiale gom word gebruik).
5. Trek die binnesool oor met materiaal.
6. Die binnesool word nou aan die lees vasgespyker. (Die lees is die vorm wat die skoen bepaal. Sy hakhoogte, pas, grootte, en toonvorm).
7. Stik die boleer en die binnesool aanmekaar.
8. Heg die sool en boleer aanmekaar. Wag vir die gom om droog te word.
9. As die gom droog is, word die skoen in die lees warmgemaak en weer aanmekaar geplak.
10. Haal die lees uit die skoen uit.
11. Skoen is gereed om ingedra te word!
Vir meer inligting besoek www.shoedesign.co.za