5e Reeks van ‘Uit ʼn ander hoek’


Jean Oosthuizen (links voor) en twee van sy gaste uit die vorige reeks dr Ben du Toit (agter) en dr Heinz Mödler (regs voor).

Die program Uit ʼn ander hoek waar Jean Oosthuizen en sy gaste vanuit ʼn ander hoek oor godsdiens en spiritualiteit gesels, is Sondagaande van 7 April net na die sewe uur nuus weer terug op die lug.

Dit is die vyfde reeks van dié gewilde program propvol nuwe gaste en temas. Uit ʼn ander hoek bied aan gewone mense én bekendes ʼn geleentheid om eerlik, gemaklik en reguit in ʼn veilige ruimte oor godsdiens, spiritualiteit en ander verwante sake te gesels.

Die doel van die program is om luisteraars bekend te stel aan die spirituele leefwêreld van mense wie se spiritualiteit dikwels nie deel van die hoofstroom-godsdiensbeoefening is nie. Dit is nie ʼn debatprogram waar teenoorstaande geloofstandpunte teen mekaar opgeweeg word nie. Uit ʼn ander hoek wil diverse en soms ook omstrede geloofstandpunte op die tafel plaas en dit aan die luisteraars self oorlaat om te besluit wat hulle daarvan dink.

Die deelnemers aan die program is nie beperk tot enige spesifieke geloof nie. Dit sluit mense van alle gelowe in. Dit is ook nie ʼn christelike program waar daar net met Christene gesels word nie. Dit weërspieël ook die menings van mense wat nie in die Christelike tradisie staan nie, soos ongelowiges en agnostici, sonder om luisteraars se geloof aan te vat of te verkleineer. Ons wil graag luisteraars ook laat nadink oor ander standpunte.

In die nuwe reeks kan luisteraars onder meer uitsien na ʼn gesprek oor die verskil tussen gesonde selfliefde en ʼn sieklike selfliefde waar dit net oor jou eie ego gaan.

Ons wil ook weet hoe relevant die hoofstroom Afrikaanse Kerke nog is en wat kan die kerk doen om te hervorm en by moderne omstandighede aan te pas as hy wil relevant bly.

Vanjaar is ook verkiesingsjaar. Suid-Afrika is ʼn diep verdeelde land waar baie Suid-Afrikaners worstel om vrede te maak met die wonde van die verlede. Wat beteken vergifnis gegewe ons politieke agtergrond en herkoms en hoe raak dit mense aan beide kante van die politieke spektrum se spirituele lewe? Jean gesels onder andere met Lukhayo Calata wie se pa een van die Cradock vier was wat deur die veiligheidspolisie vermoor is en dr Deon Snyman wat help om versoening en restitusie tussen mense te bewerkstellig.

Nog ʼn aktuele saak wat in die komende reeks opnuut uit ʼn ander hoek bekyk word is die verhouding tussen Moslems en Christene. Waarom is daar soveel vyandigheid tussen sommige  Moslem- en Christen-gelowiges?  Waar kom die vyandigheid vandaan en hoe moet mens dit hanteer met verwysing na die skietvoorval by die Moskees in Nieu-Seeland. Bekende Moslem en Christen-leiers sal aan die gesprek deelneem.

Die program het ontstaan toe Magdaleen Krüger vir Jean vier jaar gelede tydens ʼn gesprek by die Woordfees gevra het om ʼn reeks programme vir RSG te maak oor spiritualiteit buite die tradisionele Afrikaanse hoofstroom godsdienste. Sedertdien het Uit ʼn ander hoek ʼn huishoudelike naam in baie huise geword waarna luisteraars van regoor die wêreld inskakel om sonder grense na ander geloofstandpunte te luister.

Dit is ʼn program waar daar eerlik en reguit oor geestelike sake gesels word en nie weggeskram word om ook minder bekende en selfs uitdagende denkrigtings oor geloof en spiritualiteit op die tafel te sit nie. Ons leef in ʼn diverse omgewing waar mense hulle spiritualiteit verskillend uitleef.. As ʼn sekulêr radiostasie bied RSG bied daardie platform.

Luisteraars kan gerus RSG se webwerf en Uit ‘n ander hoek se facebookblad dophou om op hoogte te bly van die nuwe onderwerpe wat bespreek gaan word.