Sportspyskaart vir die res van 2019


Suid-Afrikaners (deelnemers en ondersteuners) staar ʼn ongelooflike besige res van 2019 op die sportveld in die gesig. Luisteraars, kykers en lesers sal moet fokus en mooi beplan om by te bly en nie uit te mis op al die opwinding wat op ons wag nie.

Die sportaksie vir die volgende 6 maande sluit Wêreldbekertoernooie, Grand Slams, Majors asook Wêreldkampioenskappe in.  Daar is ʼn wye spektrum van sportsoorte (individuele- asook spansporte) wat aandag sal geniet en hul beste ten toon stel.

Hier is die sportspyskaart se hoofgeregte vir die volgende paar maande!

Ons kyk kronologies per sportsoort na die sportdisse wat beskikbaar is.

Rugby

Die Superrugbyreeks word in Junie voorgesit met die halfeindstryde wat op 28 Junie gespeel word en die eindstryd op 6 Julie.

Die Kampioenskapsreeks is die jaar verkort (met die oog op die Wêreldbeker) en daar sal net ʼn enkelronde tussen die vier betrokke lande gespeel word. Suid-Afrika se drie bepalings lyk sò:

  • 20 Julie: Suid-Afrika 18:05 Australië in Johannesburg
  • 27 Julie Nieu-Seeland 10:35 Suid-Afrika in Wellington
  • 10 Augustus Argentinië 22:40 Suid-Afrika in Martearena

Die Bokke speel weliswaar in twee vriendskaplike wedstryde voor die wêreldbeker, naamlik teen Argentinië in Pretoria en teen Japan in Saitama.

13 Julie – 7 September: Die Curriebekerreeks begin vanjaar op 13 Julie en duur tot 7 September. Daar is dus geen oorvleueling met die Wêreldbeker nie.

20 September – 2 November: Die Rugby Wêreldbeker skop op 20 September in Japan af en die eindstryd sal op 2 November gespeel word. Suid-Afrika se openingswedstryd is op 21 September teen Nieu-Seeland. Die bokke speel in die groepfase ook teen Namibië, Italië en Kanada.

 Wêreldrugby se Sewesreeks se eerste twee toernooie word weer in November en Desember in Dubai en Suid-Afrika aangebied.

Krieket

30 Junie – 14 Julie: Die Wêreldbeker-kriekettoernooi vir mans duur van 30 Junie tot 14 Julie en word in Engeland en Wallis aangebied. Vanjaar is daar 10 spanne in aksie en daar word ʼn rondomtalie formaat gespeel. Dit beteken eenvoudig dat elke span speel teen al nege die ander spanne. Daar sal op 11 verskillende velde meegeding word. Die twee halfeindwedstryde word op Old Trafford in Manchester en op Edgbaston in Birmingham gespeel. Lord’s in Londen sal die eindstryd huisves. Suid-Afrika word by die Wêreldbeker aangevoer deur Faf du Plessis (foto).

Faf du Plessis

1 Aug – 16 September: Die Reeks om die AS tussen Engeland en Australië begin op 1 Augustus en die vyfde toets eindig op 16 September.

Vanaf 26 Desember: Die eerste van vier toetse tussen Suid-Afrika en Engeland skop op 26 Desember in Centurion af.

Tennis

1 – 14 Julie: Die derde Grand Slam-toernooi is Wimbledon wat van 1 tot 14 Julie in Londen aangebied word. Suid-Afrika hou styf duim vas dat die wêreld se 8ste beste speler, Kevin Anderson, gou van sy besering sal herstel en op Wimbledon in aksie sal wees. (foto)

Kevin Anderson

26 Augustus – 8 September: Dié jaar se vierde en laaste grootte is die Amerikaanse Ope wat van 26 Augustus tot 8 September in New York geskeduleer is.

27 Oktober: Die WTA-eindstryd vir vroue word op 27 Oktober gespeel

9 November: Die Federasiebeker eindstryd.

10 November: Die mans se ATP-eindstryd

22 November: Die Davisbeker se finaal.

Gholf

Daar is reeds drie van die vier Majors van 2019 voltooi, naamlik die Amerikaanse Meesters asook die Amerikaanse PGA-toernooi en die Amerikaanse Ope.

19 – 22 Julie: Die laaste toernooi, die Britse Ope, word van 19 tot 22 Julie op Royal Portrush afgehandel.

Zander Lombard. (Photo by Carl Fourie/Sunshine Tour/Gallo Images)

14 tot 17 November: Afrika se Major, die Nedbank-uitdaging, sal weer op die Gary Player Buiteklub by Sun City gespeel word. Vanjaar word dié toernooi, wat die tweede laaste in die wedloop na Dubai is, van 14 tot 17 November afgehandel. Zander Lombard sal vanjaar sy debuut by dié toernooi maak nadat hy die Meriete-ordelys in die Sonskynreeks gewen het.

9 tot 15 Desember: Die 25ste Presidentsbeker tussen die spanne van Amerika en die res van die Wêreld (Europa uitgesluit) kry die aandag van 9 tot 15 Desember in Australië (Royal Melbourne). Hierdie twee-jaarlikse toernooi word tussen 12 lede per span gespeel.

Atletiek

In die Diamantliga-reeks spook die voorste atlete sake uit in 32 items wat tydens 14 byeenkomste reg oor die wêreld aangebied word. Daar bly verskeie byeenkomste in dié reeks oor.

Usain Bolt

VSA 30 Junie
Lausanne 05 Julie
Monaco 12 Julie
Londen 20 en 21 Julie
Birmingham 18 Augustus
Parys 24 Augustus
Zürich 29 Augustus
Brussel 6 September

Die 100 m wêreldrekord is in 2012 in Londen deur Usian Bolt opgestel. Luister weer daarna op die klankgreep hieronder:

 

Netbal

12 tot 21 Julie: Die 16de Vroue Wereldbeker-Netbaltoernooi word vanjaar in Liverpool, Engeland gespeel. Die toernooi begin op 12 Julie en duur tot 21 Julie. Sestien lande sal deelneem. Daar is 4 groepe met Suid-Afrika wat in groep C ingedeel is.

Swem

Julie 2019: Vanjaar se 18de FINA Wêreldkampioenskap word in Julie in Suid-Korea gehou. Daar sal in 6 dissiplines meegeding word naamlik swem, duik, hoë duik, oopwater swem, gesinchroniseerde swem en waterpolo.

Cameron van der Burgh

Suid-Afrika het tydens die laaste paar Olimpiese Speles uitstekend in die swembad gevaar en verskeie medaljes ingeoes. Onthou jy hoe ons swemmers in 2012 in Londen gevaar het? Luister weer hoe Cameron vd Burgh die 100 m borsslag wêreldrekord verbeter:

Sokker

7 Junie tot 7 Julie: FIFA se Wêreldbekertoernooi vir vroue word van van 7 Junie tot 7 Julie in Frankryk gespeel. Banjana Banjana sal op 8 Junie in hul eerste wedstryd teen Spanje speel.

21 Junie – 19 Julie: Die 2019 AFCON-toernooi (Afrika Nasiesbeker) begin op 21 Junie en duur tot 19 Julie in Egipte. Bafana Bafana is een van die 24 spanne wat sake sal uitspook.

Motorwedrenne

Die Formule Een-kampioenskap bestaan vanjaar uit 21 wedrenne. Daar is reeds ses voltooi en daar bly vyftien wedrenne oor.  Die laaste wedren sal op 1 Desember in Abu Dhabi gejaag word.

Die Moto GP-reeks spog vanjaar met 19 wedrenne. Dit blyk of die verdedigende wêreldkampioen, Marc Marques, weer die gunsteling is om vanjaar die kroon te dra. Die seisoen duur tot 17 November wanneer die laaste wedren in Valencia gejaag word.

Vir die jongste puntestand (soos op 1 Junie) vir die Formule Een- en Moto GP-reeks, luister na die klankgreep:

Fietsry

6 – 28 Julie: Die ikoon van fietswedrenne, die Tour de France begin vanjaar op 6 Julie en eindig na 21 skofte op 28 Julie. Vanjaar is dit die 100-jarige viering van die “geeltrui” wat natuurlik deur die voorloper van die wedren gedra word.