Rademan vertel: Die Bokke, Wallis en Kerkorrel


Johan Rademan

Die Bokke, Kerkorrel en Wallis speel saam op dieselfde aand in ’99. Johan Rademan skryf, met die oog op die halfeindstryd Sondag tussen Suid-Afrika en Wallis, oor dié dag in 1999.

Suid-Afrika en Wallis speel reeds sedert 1906 toetsrugby teen mekaar. In die 35 toetse, waarvan 21 in Wallis plaasgevind het, 10 in Suid-Afrika en 4 op neutrale velde, het die Bokke 28 gewen en die Rooi Drake 6.

Die eerste nederlaag teen Wallis het eers in 1999 gebeur, dus na 93 jaar se toetsrugby tussen die 2 lande.

Ek onthou die gebeure op 26 Junie 1999 glashelder, want ek het die wedstryd in ‘n interresante ruimte uitgesaai agv ‘n tweede konsertopname wat ek ook op dieselfde aand na die wedstryd moes aanbied.

Wallis se Rooi Drake pak die naweek die Bokke

Ons het destyds ‘n reeks akoestiese konserte opgeneem en uitgesaai met bekende kunstenaars soos Lucas Maree, Laurika Rauch, Herman van Veen  en o.a ook Johannes Kerkorrel. Die konsert wat saam met die Wallistoets geval het was lank van tevore geskeduleer om by die Simonsvlei Wynlandgoed plaas te vind.

Kerkorrel het sy grootste rebellies al uitgewoed met Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band. Hy wou fokus op ander temas soos Blou Aarde en erkenning gee bv met ‘n CD van Koos du Plessis se lirieke in akoetiese styl wat ook die tema van die konsert was.

Ek het die rugby  van TV af uitgesaai en om nader aan die kelder in die Paarl te wees het ek ‘n plan gemaak om die rugby ook ‘n bietjie nader uit te saai.

Moenie dat enige iemand ooit weer vir jou vertel rugby is nie ‘n sitkamerspel nie. Dit was!

Enkele lede van die Springbokspan by die Wêreldbeker in Japan.

Ek het ‘n voormalige WP rugbyspeler Louis Louw gevra of ek by die Picardie gasteplaas uit sy sitkamer kon uitsaai. En daar draf Wallis en die Bokke in Cardiff uit in die sitkamer van die historiese plaas wat terugstrek na 1689 toe dit in besit was van die Taillefertfamilie. Laborie en Picardie was verweef aan mekaar en so ‘n stukkie nuttelose inligting…ek en Marianne is in 1987 op Laborie getroud.

Die kragmeting het  17h00 begin en agv ‘n paar onderbrekings ‘n bietjie laat geloop. Ek saai uit die sitkamer in die Paarl uit, die Bokke en Drake speel in Cardiff, die klank trek van die Paarl Johannesburg toe via Kerkorrel se Hillbrowtoring se seine in die nag saam met die byklanke van Cardiff na Radiopark in die Goudstad waar dit kundig deur ‘n omroeper  gemeng word om die rugby liefhebbers met vreugde te vervul in Suid-Afrika op die draadloos. Vreugde is seker nie in die geval die korrekte woord nie, want ons het met 19-29 verloor en uit 5 kragmetings(ingesluit 1999) 4 maal verloor. Voor die eerste nederlaag teen Wallis het ons gespog met 17 agtereenvolgende Toetsoorwinnings in Carel du Plessis en Nic Mallet se era.

Ralph Rabie

Ná die wedstryd spring ek in my tjorrie en wikkel oor na Simonsvlei, so 10 minute se ry terug Kaap se kant toe.

Ralph Rabie

Uitasem begin ons die laaste konsertopname ooit van Kerkorrel. Akoesties. Hy speel selfs  kitaar en ons kuier heerlik saam met Ralph Rabie en sy Griekse lewensmaat na die opname in die restaurant oor kos en wyn. Praat baie musiek en min rugby…

Laatnag ry ek en Marianne huistoe. Pootuit maar gelukkig dat die uitsending en konsertopname vlot verloop het.

Die destydse bestuur was Kerkorrel nie goedgesind nie. Vergifnis was yl. Die konsert is nooit uitgesaai nie. ‘n Konsert wat ‘n ode is aan Koos Doep. Die onvoltooide… Toe ek Ralph inlig dat die konsertreeks gestaak word, het hy die stof aan my oorhandig met die woorde: “Maak daarmee wat jy wil, dit behoort aan jou”

Op 12 November 2002 hang Rabie (42) homself aan ‘n boom in Kleinmond naby Hermanus.

So… wat gaan die dag van 27 Oktober 2019 in die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Wallis oplewer. Gelukkig speel hulle die slag saam met my in die Seepunt-ateljee van RSG. By die radio is daar altyd genoeg plek vir almal. RSG se Bordienghuis het baie kamers. Skakel gerus in vir regstreekse kommentaar op RSG van die halfeindstryd in RWB2019. Indien die Bokke deurdring na die eindstryd en die William Webb Ellis Trofee verower, sal ons met 2 toernooie minder (1987, 1991 voor SA se toetrede in 1995) gelyk trek met die All Blacks wat al drie maal as kampioene gekroon is. Die Bokke 2 maal, Aussies 2 maal en Engeland 1 maal.

Rugby groete tot Sondag 11h00.

Johan Rademan.

Jerome Garces

Ns: Ons hou duim vas dat Inspector Clouseau, Monsieur Jerome Garces, nie Frankryk se top speurder gaan ore aansit met die hantering van die fluitjie in die kragmeting nie.

(Skeidsregter rekord in Boktoetse: Bokke wen 4 uit 14 en net een uit die laaste 10 toetse onder Garces)