Storie oor vriendskap soggens op RSG


Zelda Bezuidenhout, bekend om haar bekroonde RSG-radiodrama As ‘n kind kom kuier, is die skrywer van Toe ons oneindig was wat voortaan soggens in Alhoebekker voorgelees gaan word. Toe ons oneindig was word van Donderdag 11 Maart elke weeksoggend om 10:45 uitgesaai.

Die voorleser is die aktrise Izel Bezuidenhout (geen familie-verwantskap met die skrywer nie).

Die regisseur is Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama.

Die storie

Kara Immelman se lewe is eintlik nogal uitgesorteer. Sy is in matriek en hoewel sy heeltemal te skaam is om gewild te wees, het sy vir Eduard, haar beste vriend van laerskooldae af. Sy is ook haar skool se topswemmer en die moontlikheid van ’n swembeurs wink. Al gebeur daar nie veel op die dorpie waar hulle woon nie, het sy en Eduard groot planne om eendag die wêreld te sien. Planne wat aangevuur word deur hulle gedeelde passie vir flieks. Wanneer Samantha egter op die toneel verskyn, herrangskik dit Kara en Eduard se hele bestaan. Want Sam is nie net onmoontlik mooi nie, sy speel ook volgens haar eie reëls.

Toe ons oneindig was, is die verhaal van ’n meisie wat nog altyd presies gedoen het wat van haar verwag is. Iemand wat so besig was om almal gelukkig te hou, dat sy nooit regtig probeer uitvind het wat háár gelukkig maak nie. Totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die heel eerste keer gesoen word.

Dis ’n storie oor vriendskap en lojaliteit. Oor seksualiteit en vloeibaarheid. Maar bowenal is dit die verhaal van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis – die soort reis wat in ’n Hollywood-fliek hoort.

DIE SKRYWER – ZELDA BEZUIDENHOUT

Zelda Bezuidenhout

 Zelda is in Zambië gebore en het op Henneman in die Vrystaat grootgeword. Sy het niks van skool gehou nie en het baie gesukkel met wiskunde en wetenskap. Sy kry nou nog gereeld wiskunde-nagmerries. Zelda studeer kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit en werk vir etlike jare as ’n kopieskrywer wat oor alles van petrol tot parfuum moet skryf. Op 56-jarige ouderdom volg sy uiteindelik haar skryfdrome en debuteer met ‘n roman vir volwassenes. Twee tienerboeke volg kort daarna. In 2019 is sy naaswenner van RSG se radiodramakompetisie met die aangrypende As ‘n kind kom kuier en in 2020 is sy en Lunéll Kruger die wenners van die Netwerk24 Luisterdramakompetisie. Benewens Toe ons oneindig was, het daar ook in 2021 ‘n kinderboek getitled Die 3 van ons by Pan Macmillan verskyn.

Zelda woon op Parys in die Vrystaat saam met haar man, Izak, haar 19-jarige dogter, Mia en twee honde. Wanneer sy nie skryf of lees nie, stap sy graag of beplan vakansie waarvoor sy nie geld het nie en wat selde realiseer.

DIE VOORLESER – IZEL BEZUIDENHOUT

Izel Bezuidenhout het op ‘n jong ouderdom al begin met drama-opleiding en verskeie kususse voltooi saam met Suid-Afrikaanse en internasionale afrigters. In 2019 het een van haar grootste drome waar geword toe sy in New york drama gaan studeer het.

Hierdie 22-jarige aktrise het in 2014 die vroulike hoofrol in haar eerste fliek Agent 2000: Die Laksman vertolk.  Hierna verskyn sy in talle flieks- en televisie-produksies soos Bloedbroers, Mignon “Mossie” van Wyk, Fluiters, Vaselinetjie, 7de Laan en Dominee Tienie.  Toe sy sestien jaar oud was, het sy die jong Anna in die bekroonde fliek Dis ek, Anna vertolk.  Sy vertolk ook Ilze Fischer in die Nederlandse Internasionale rolprent An Act of Defiance. Sy was reeds in 2017 die stem van Felicity Fourie in Leon van Nierop se RSG-radioreeks Ratels. Sy kan ook tans in Leon van Nierop se RSG-oggendstorie Hartebreker gehoor word as die karakter Nicole.

Haar passie vir stories vertel, dryf haar om altyd hard te werk, te bly leer en nuwe vaardighede te ontwikkel.

Toe ons oneindig was is haar heel eerste boekvoorlesing en volgens Kobus Burger is haar natuurlike aanvoeling verstommend.