Magdaleen skryf: Nuusbrief Mid September 2019


Ons het goeie nuus en slegte nuus. Om die waarheid te sê drie brokkies goeie nuus en een bitter pil.

Kom ons begin maar met die sware slag.

Vanjaar – die negende Rugbywêreldbekertoernooi sedert 1987 – sal die eerste een wees wat nie op RSG uitgesaai gaan word sedert Suid-Afrika se toetrede tot wêreldrugby in 1995 nie. Dit voel vir my ons het ‘n onverdiende rooikaart gekry. Die SAUK se geldsake is benard en dus is daar nie geld vir radio-uitsaairegte en produksiekoste nie. Dis ‘n groot jammerte en ek is nie ‘n gelukkige stasiemeester nie. Ek kan jou verseker dat ek namens RSG se luisteraars, tot op die laaste oomblik nog alles in die stryd sal werp. Indien die regte nie bekom is nie, word ons wel toegelaat om verslae te doen. Pieter van den Berg sal vir al die wedstryde waar die Springbokke speel, asook die kwart- en halfeindwedstryde en die eindwedstryd, verslag te doen. Hier is die program van die Rugbywereldbeker-toernooi.

Nou vir die goeie nuus. RSG se babas word mooi groot en die ouers is trots. In hierdie nuusbrief spog hulle met hul babas. Kyk maar self wie is aardjie na haar/sy vaartjie of moertjie.

Nog goeie nuus is dat RSG se luistersyfer volgens die pasverskene RAMS-meting met meer as 200 000 luisteraars gestyg het. Dankie vir julle lojaliteit in hierdie uitdagende tye!

En nog ‘n brokkie goeie nuus……RSG Skatkis is later vanjaar terug met ‘n keurige boeket wat ‘n kleurvolle draai deur die Suid-Afrikaanse én wêreldletterkunde gaan gooi. Verwag van ‘n bekroonde wonderkind tot ‘n kragtoer uit die pen van die gewilde skrywer Dana Snyman. Daar is ook musiek, wat ‘n paar van die voorspelbare grense gaan oorspoel. En voeg daarby ‘n handvol nuwe stemme en idees wat luisteraars met gehalte-bederf gaan laat tuisbly. Ons lig binnekort die deksel!

Soos kollega Nic de Jager van Nic se dinge altyd sê… ‘Blaas hoog die vlam en mag die meetsnoere vir jou in lieflike plekke val’.