Nuusbrief 11 Julie: Magdaleen skryf


Net toe die donker wolke baie dig saampak hier by ons openbare uitsender, breek daar ‘n ligstraaltjie deur en slaak ons hier by RSG ‘n sug van verligting. Die Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams, het pas aangekondig dat die SAUK tussentydse befondsing van die regering gaan kry. Die eerste deel sal reeds binne 10 dae aan die SAUK oorbetaal word en die balans sal binne 45 dae oorbetaal word. Die bedrag is nog nie bekend nie, en die tussentydse befondsing sal uiteraard met streng voorwaardes gepaard gaan. Luister hier na meer volledige inligting soos wat Monitor daaroor berig het:

Saam met dié nuus, gedenk (ek kan nie op die oomblik sê ek vier dit nie) ek hierdie maand 30 jaar by die SAUK. Ek het destyds hier begin as ‘n verslaggewer en skrywer in die nuuskantoor. Soos enige werksplek, gaan die SAUK ook maar deur driwwe en dale, maar ek kan met sekerheid sê dat hierdie drif en dal waarin ons tans is, die uitdagendste en moelikste ooit is. Maar ten spyte van als is jou stasie steeds op lug, kon ons steeds nuwe programreekse hierdie maand skeduleer en kon ons gereeld vir jou op hoogte hou van byvoorbeeld die wêreldbeker krieket, al is onse eie Proteas al uitgeboender. In Augustus gaan ons jou verder verras… en jy gaan daarvan hou, ek is seker. Maar meer hieroor in ons volgende nuusbrief so teen die laaste week van Julie.

Ek het al in ‘n vorige nuusbrief geskryf oor hoe duur sportuitsaairegte geword het. In die swak finansiële posisie waarin die SAUK tans is, raak uitsaairegte dus ‘n luukse. Dit bring mee dat RSG nie vanjaar die Curriebeker-rugbyseisoen regstreeks sal uitsaai nie. Ons gaan wel die een tuiswedstryd van die Rugbykampioenskap tussen SA en Australië op 20 Julie regstreeks uitsaai.

Verdere goeie nuus is dat RSG se tradisionele rugbyraai-kompetisie gehou gaan word. Jy staan ‘n kans om R10 000 per wedstryd te wen. Dankie aan Attooh wat hierdie prysgeld moontlik maak.

Groete

Magdaleen Kruger, Stasiebestuurder van RSG