Nuusbrief: Magdaleen skryf oor musiek op RSG


Oor speellyste en musiek op radio

”Eendag lank, lank gelede gaan bekla ek my lot by wyle Sarel Myburgh, my voorganger as stasiebestuurder. Ek is ‘n omroeper en ek kan net nie meer die musiek op RSG se speellys vat nie; wel, nou nie al die musiek nie, maar baie daarvan.Ek wou hê dat al die musiek in my smaak moet val en ek wou meer goeie Afrikaanse musiek hoor, daardie waar lirieke belangrik is, waar daar fyn kuns gepleeg word deur goeie sangers. Sarel het net geglimlag en gesê soveel omroepers, soveel luisteraars, soveel belangegroepe…wel, soveel smake en menings. Toe word ek stasiebestuurder en binne ‘n jaar het ek eendag so stil-stil vir hom gesê, ek is jammer dat ek jou so tromp-op geloop oor die speellys daardie tyd, ek verstaan nou, ‘n lig het vir my opgegaan.

RSG is ‘n openbare diens radiostasie wat terselfdertyd kommersieel moet wees. En om geld te maak, gee jy aandag aan die smaak van die grootste gemene deler. Die uitdaging vir ons is hoe bring jy doef-doef feesverhoogmusiek met ‘n aansteeklike wysie en musiek met sterk lirieke wat ‘n sterk statement maak bymekaar op een speellys. Is daar genoeg van hulle?

‘n Ander uitdaging is wat maak jy as die een na die ander Afrikaanse musiek eenders klink, dalk omdat dieselfde liedjieskrywer ‘n resep volg en op aanvraag vir verskeie sangers liedjies volgens hierdie resep skryf.

‘n Ander vraag is of dit die taak van ‘n radiostasie soos RSG is om nuwe plaaslike sangers en hulle musiek te bevorder op ‘n kommersiële speellys, ongeag of dit by die stasie se klank pas of nie. Of speel jy wat die grooste gemene deler wil hê; lekker  goedvoel musiek met ‘n aansteeklike wysie, ongeag die lirieke en kwaliteit van die sang.

Met die luisteraars-terugvoer tot ons beskikking, ‘n opweeg van kommersiële doelwitte en die lisensievoorwaardes, is ons tans besig om die musiek op die speellys te hersien, aan te pas en in die proses die klank aan te pas om by die oorgrote meerderheid luisteraars byval te vind. Hierdie proses behels onder meer om te kyk na kategorieë, tempo, skedulering en rotasie van snitte.

As voorbeeld, luister na die volgende twee snitte. Hoe voel jy as jy dié musiek hoor?