Nuusbrief November 2019: Magdaleen skryf


Verlede jaar het RSG Skatkis altesame 7 (sewe) produksies gehad.Vanjaar bied Skatkis ‘n totaal van 15 (vyftien) produksies aan, waarvan altesame 6 (ses) debute is! Dis van die dertienjarige Mike Wang tot die negentigjarige Dolf van Niekerk, van 13 tot 90 binne 3 dae. Die wonderlikste van RSG Skatkis, is dat dit jou niks kos nie, jy hoef nie te reis nie, jy hoef nie op te tof nie; trouens, jy kan luister net waar jy is. Hier is die program vir RSG Skatkis van Sondag 1 tot Dinsdag 3 Desember op RSG. Die skedulering sal ons later bekendmaak.

Wouter de Wet

Na meer as 50 jaar in die uitsaaibedryf, het Wouter de Wet nou finaal uitgetree. Hy het na sy amptelike aftrede by die SAUK destyds, steeds voortgegaan om programme te maak en ook tennisverslae te lewer. Maar nou is dit tyd om die stokkie aan te gee. Vandaar dan die nuwe aanbieder van Dis Opera, Charl van Heyningen, wat van Sondag 17 November af sy debuut maak op RSG as Dis Opera-aanbieder.

Charl van Heyningen

Die ander program wat Wouter de Wet ook aangebied het, aanvanklik net tydelik na Fanie Smith se afsterwe, gaan ook ‘n nuwe aanbieder kry, want Wouter het ook hier die tuig neergelê. Die musiekliefhebbers gaan jou mis, Wouter.