Ons nuwe Sondagoggend-musiekreeks: Hier en anderkant die blou berge


Esté Gross

Die RSG aanbieder Esté Gross neem jou binnekort op ʼn voelgoed, nostalgiese en lekker saamsing volksliedjiereis.

In die reeks HIER EN ANDERKANT DIE BLOUBERGE wat bestaan uit dertien episodes van bykans ʼn uur lank, gaan sy skuins na 10 soggens van Sondag 4 Oktober af, bekende plaaslike   en internasionale volksliedjies speel.

HIER EN ANDERKANT DIE BLOUBERGE is musiekreeks waarin jy kan luister na Afrikaanse volksliedjies – en-liedjies van regoor die wêreld heen soos Nederland, Duitsland, Amerika, Frankryk, Italië, Rusland en nog vele meer.

(Lees ook meer oor die ander programskuiwe vanaf Oktober.)

In die eerste twee episodes kom Afrikaanse volksliedjies aan die beurt. Daarna gaan maak sy ook ʼn draai in ander wêrelddele soos  onder meer Nederland, Duitsland, die Verenigde Koninkryk, Italië, Frankryk, Rusland. Sy vertel waar sommige volksliedjies vandaan kom en kan luisteraars verras met ’n paar waarvan jy moontlik nog nie gehoor het nie.

Oor die reek sê sy: “‘n Volksliedjie bestaan gewoonlik uit ’n aansteeklike wysie wat lank in jou kop bly draai. Dit is juis waarom dit oor die eeue heen van geslag tot geslag oorgedra is en deel word van ʼn volk se kultuur en erfenis. Dit is ʼn bewys dat ‘n goeie wysie die toets van die tyd deurstaan.  Prof. Chris Lampbrecht het op ʼn keer gesê dat volksliedjies “die moedertaal van musiek is” en ek dink dit is ʼn baie raak beskrywing.”

“Soos dit maar gaan met ’n volksliedjie moet jy ook maar soms die storie agter ’n liedjie met ʼn knippie sout neem, maar dan weer, waar daar ʼn rokie is trek daar ʼn gewoonlik ʼn vuurtjie.” Sy lag. “Sommige van die liedjies wat ons so lustig saamsing beteken partykeer iets heel anders as wat jy dalk mag dink… “

Die eerste episode begin met ’n Kaapse draai met David Kramer wat vertel waar die liedjie Daar kom die Alibama vandaan kom. Jy kan meer uitvind oor wat die verskil is tussen ’n Ghoema en ʼn moppie, luister na David de Lange se weergawe van Suikerbossie en meer oor die oorsprong van die liedjie Sarie Marais, te wete kom.

Esté nooi almal uit om in te skakel vir die musiekreeks en sê: “sorg net dat jou stem voor die tyd opgewarm is, sodat jy uit volle bors kan saam sing en die radio sommer lekker hard kan sit.”

HIER EN ANDERKANT DIE BLOUBERGE word vir die eerste keer uitgesaai op Sondag 4 Oktober om 10:00 die oggend en duur tot 27 Desember 2020.

Voorsmakie

Hier is enkele snitte wat op jou wag.

Sarie Marais: Stef Bos en Len Muller:

Bobbejaan en aap Moppie (Comic) van The Young: