Verevrou op RSG


Epiese ‘verevrou’ sprei haar vlerke saans op RSG

Die veteraan-akteur Johann Nel skuif vanaf Vrydag 17 April agter die RSG-mikrofoon in vir die splinternuwe aand-boekvoorlesing – Die verevrou deur Jan van Tonder (onder andere bekend om Roepman en Is Sagie).

Die verevrou is ‘n epiese roman wat strek oor dekades en kontinente heen: oor die volstruisbedryf, die liefde, en hoe om jou eie waarheid te vind.

Die verevrou (uitgegee deur Human & Rousseau) volg op Irma Joubert se Mentje – Kind van Pas-opkamp. Dit sal elke weeksaand om 19:20 gehoor kan word met Amor Tredoux as die regisseur.

Oom Moshe skiet Liora in die lug op, hou haar met albei hande om haar middel bo sy kop en draf met haar tussen die vrouens deur. Sy strek haar lyf en flap twee volstruisvere soos vlerke.

“Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel,” sê oom Moshe.

Dis 1948. Liora is ses jaar oud en woon saam met haar ouers en tante Alessa op ‘n plaas neffens die Sahara-woestyn in Algerië. Sy tel altyd die dae af tot oom Moshe volstruispluime bring van die verre Klein-Karoo.

Meer as veertig jaar later, ná die bloederige Algerynse oorlog en ná ‘n loopbaan as plumassier in Parys, gaan Liora na Oudtshoorn, op soek na haar geliefde mentor. Maar op De Rust verskyn ‘n steltloper anderkant die busvenster se ruit. Dié groet haar, verewaaier in die hand, soos iemand wat óók volstruispluime ken.

DIE SKRYWER

Jan van Tonder het sy eerste tydskrifverhaal in die tronk geskryf. Sedertdien het hy ‘n bundel kortverhale oor daardie skemerwêreld die lig laat sien, asook vier romans, ‘n koffietafelboek oor die Klein Karoo, verskeie tydskrifverhale, sketse en radiodramas. Sy roman Is Sagie (deur Paul Eilers op RSG voorgelees) was twee jaar agtereenvolgens naaswenner van die ATKV-prys, terwyl Die Kind vir die M-Net-prys benoem en met die ATKV- en FAK-pryse bekroon is. Van Tonder se gewilde roman, Roepman, is later ook vir die silwerdoek verwerk en verfilm met Eilers as regisseur. Joan Hambidge het Van Tonder beskryf as ‘n “meester van subtiliteit en suggestie”.

Die verevrou word van Vrydag 17 April elke weeksaand om 19:20 deur Johann Nel op RSG (100 tot 104 fm) voorgelees.