Katriena, vertel! weer én meer hartstories


Katriena Willemse en haar geliefde “kombuisverhale” het al diep in RSG-luisteraars se harte gekruip. Eers toe ‘n paar van die stories tydens RSG Kunstefees opgeneem en uitgesaai is en onlangs weer met ‘n heruitsending tydens die grendeltyd.

Katriena is die skrywer Riana Scheepers se skepping en later in drie verskillende bundels verewig. Hierdie verhale word in Haai Katriena, wat vertel jy my nou?, Nou lieg jy mos,  Katriena! en Katriena, néé gepubliseer.

Sonder pretensie of aansittery sien mevrou Isolde en Katriena mekaar in ligte trant reg en word die teenstrydighede van ons samelewing ontmasker en beskinder. Katriena het ook raad vir alles en ’n storie as illustrasie van enige beginsel.

Die Katriena-stories is later deur Lapa-uitgewers in een versamelbundel as Katriena, vertel! – Hartstories uit die kombuis gepubliseer. Dit is hierdie volledige keur wat die aktrise en stemkunstenaar June van Merch van Maandag 6 Julie elke weeksoggend om 09:10 in Alhoebekker sal voorlees. Die regisseur is Frieda van den Heever.

DIE VOORLESER – June van Merch skryf:

June van Merch

Ek het Katriena so ongeveer twintig jaar gelede met Riana Scheepers se seëninge as ‘n soloproduksie vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gedoen. Toe het ek sporadies oor die afgelope jare weer van haar stories voorgelees. Dis nou vir my hartsverblydend om al die stories te kan doen. Dit maak my hart warm om te weet ek kan Katriena se stem weer lewe gee sodat ieder en elk kan deel in haar 101 stories. 

DIE REGISSEUR – Frieda van den Heever skryf:

June sê elke keer as ons opneem vir my: “Jy’s seker al keelvol vir my stem in jou ore, my bokkie!” (Want ek hoor dit as sy opneem en dan hoor ek dit weer en weer as ek redigeer.) ‘n Mens kan egter nie gou moeg raak vir June se stem in Katriena se lyf nie. Sy skep ‘n hele lewe met haar gedagtewêreld en omdat June, in haar eie woorde, nooit ‘n “vals wêreld” wil of kan skep nie, bly dit outentiek en vars. Katriena is nie ‘n uitgeknipte prentjie uit ‘n handleiding nie, June se stem en Riana se woorde gee vir haar karakter en lewe. ‘n Voorreg om hierdie stories, vanuit ons eie buurt, Boston in Bellville, te kon opneem … so op ‘n afstand van mekaar.

DIE SKRYWER

Riana Scheepers

Riana Scheepers is op 9 Desember 1957 in KwaZulu-Natal gebore. Reeds op ‘n jong ouderdom wen sy verskeie pryse in poësie- en skryfkompetisies, asook etlike redenaarskompetisies. Sy word vir twee agtereenvolgende jare (1974-1975) aangewys as die beste redenaar in Natal. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Noord-Natal kleure vir atletiek, swem en sierduik.

Die ding in die vuur is in 1991 bekroon met die ATKV-Prosaprys en die FAK-prys. Die kortverhaalbundel Dulle Griet het in 1992 die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys verower. In 2003 ontvang sy die ATKV-Kinderboekprys vir haar jeugroman Blinde sambok.

Haar drie bundels “kombuisverhale” Haai Katriena, wat vertel jy my nou!, Katriena, nou lieg jy mos! en Katriena, néé! was blitsverkopers. Sy het die ongewone prestasie behaal deurdat drie van haar boeke (die eerste twee Katriena-bundels en Die heidendogters jubel) in 1995 tegerlykertyd op die Top Tien-verkoperslys vir Afrikaanse boeke was.