Feestreffers op jou voorstoep


Suid-Afrika moes ‘n paar weke gelede nie net met grendeltyd kennis maak nie, maar ook vrede maak met die nuus dat verskeie geliefde en gewilde kunstefeeste wat nie vanjaar gaan plaasvind nie. Met luisteraars steeds tuis, het RSG besluit om deur die argiewe van die veelbekroonde RSG Kunstefees te blaai. En van Woensdag 22 April gaan daar ‘n hele paar van die feestreffers weer op lug wees. Van die voorhuis tot die voorstoep kan oud en jonk regskuif vir woordkuns, drama, musiek en kabaret.

Die kunstenaars sluit in Amanda Strydom, Gloria Bosman, wyle Paul Eilers, Philip de Vos, Diana Ferrus, Andries Bezuidenhout, Elize Cawood, Antoinette Kellermann, Louis van Niekerk, Neels Coetzee, Lida Botha asook Wessel Pretorius en Cintaine Schutte.

Hier is die verruklike feesdisse wat op pad is:

 

Vrydag 24 April om 19:30

Die Afrika in Afikaans (voor ‘n gehoor in die M1-ouditorium in Johannesburg) (MUSIEK)

Anna Davel

In hierdie RSG kunstefees-konsert word daar ‘n ritmiese en musikale sinergie tussen Afrika en Afrikaans geskep.

Die kunstenaars is Anna Davel, Gloria Bosman en Timothy Moloi met Janine Neethling as die musiekregisseur. Die liedjies sluit in Koos Doep se Kinders van die wind, Bright Blue se Weeping, Jabulani, Paradise Road asook ‘n gerf geestelike treffers.

Saterdag 25 April om 10:00

Boetie dit is tyd vir bid as ‘n seekoeikoei op jou skoot kom sit deur Philip de Vos (WOORDKUNS)

Cintaine Schutte

Met Wessel Pretorius & Cintaine Schutte

Philip de Vos is alombekend vir sy lustige limerieke en filosofiese rymelary. Hierdie maltrap versprogram is ‘n samestelling van die virtuose De Vos se verse in die vorm van ‘n moderne sprokie. Maak kennis met ‘n vet feë, ‘n padda, ‘n prins, ‘n mielie en ‘n kreef op hierdie besonderse liefdesreis. Kostelike vermaak vir die hele gesin.

Regie: Margot Luyt & Nita Swanepoel

Saterdag 25 April om 10:43

June van Merch

Katriena! Deur Riana Scheepers. Met June van Merch

Katriena is ‘n onvergeetlike karakter uit die pen van Riana Scheepers en in hierdie keur uit haar “kombuisverhale” gaan ‘n ieder en ‘n elk skaterlag.

Saterdag 25 April om 17:00

State of the Heart met Amanda Strydom (KABARET) [RSG Kunstefees 2016, voor ‘n gehoor in die M1-ouditorium, Johannesburg]

Die veelbekroonde State of the Heart is vanjaar 23 oud. Dit is die eerste kabaret uit Strydom se pen en is met die Dalro- en Showtime-pryse vir beste kabaret en kabaret van die jaar bekroon. Hierdie tydlose liefdesverhaal steek op ‘n teer wyse die draak met ou Afrikaner-tradisies van die jare 20 tot 70. Midde die wreedheid van die oorlog is dit tog die liefde wat uiteindelik seëvier. Begelei deur Coenraad Rall op klavier sing Strydom in ses tale – Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Nederlands en Zoeloe.

Sondag 26 April om 10:00

Chris Barnard

Chriskras deur Chris Barnard (WOORDKUNS/MUSIEK)

Met Paul Eilers (voordragkunstenaar), Steffie le Roux (sang en klavier), Werner Ferreira (klavier en trekklavier) & Pieter Ganswyk Nel (kitaar)

Paul Eilers

Die kanarie is in sy koutjie, maar sy stem nie, skryf Chris Barnard in sy destydse, gewilde rubriek in Die Huisgenoot. Al is die skrywer vasgevang in die sleur en roetine van elke dag, is sy stem beslis vry. Paul Eilers lees van dié tydlose kortverhale voor, terwyl Steffie le Roux en haar orkes Barnard se woorde musikaal laat sprankel. ‘n Viering van die lewe!

Donderdag 7 Mei om 20:00

Wolf-wolf hoe laat is dit? deur Hennie Aucamp (DRAMA)

Louis van Niekerk

Dit is reeds meer as vier dekades sedert Hennie Aucamp se absurde eenakter op ‘n verhoog in Stellenbosch gedebuteer het. Die veelbekroonde radiodrama-regisseur Margot Luyt het dié stuk vir die radio verwerk en ‘n groep van Suid-Afrika se teater-veterane byeengebring vir ‘n roerende opvoering oor die mens se stryd teen tyd.

Met Louis van Niekerk, Wilna Snyman, Lida Botha, Trix Pienaar, Kitty Albertyn, June Seymour, Neels Coetzee, Marga van Rooy, Juanita Swanepoel & Deidre Wolhuter. Klavier: Albie van Schalkwyk.

Wyle Kitty Albertyn sal onthou word vir haar rol as Hybie in die radioverhaal Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Sy was 92 jaar oud tydens die opname van hierdie radiodrama.

Luyt het die geskiedkundige opname van Wolf-wolf hoe laat is dit? as “Die dag van die legendes” beskryf.

Regie: Margot Luyt

Donderdag 7 Mei om 20:30 (volg net na Wolf-wolf…)

PG du Plessis

Teerling 3: Die wiel draai. Deur PG du Plessis

Met Stian Bam en Tinarie van Wyk Loots

Regie: Johan Rademan

Een van die gevierde dramaturg PG du Plessis se ses kort Teerling-dramas wat voor ’n gehoor tydens die KKNK Oudtshoorn opgeneem en uitgesaai is.

Donderdag 14 Mei om 20:00

My mense deur Dot Serfontein (DRAMA/WOORDKUNS)

Antoinette Kellermann

Op Donderdag 14 Mei volg Dot Serfontein se My mense met ‘n kragtoer-vertolking deur Antoinette Kellermann.

“Uit die keur van Serfontein se werke neem Antoinette Kellerman jou met deernis terug na die skrywer se kosbare beskrywings van haar ouers, haar soms eksentrieke Serfontein-familie en haar jare op die plaas as jong kind en later as joernalis, getroude vrou, versorgende moeder en ouerwordende dame. Lekker aardse koekemakranka-kosgoed vir die siel,” skryf die dramaturg Nico Luwes.

Saamgestel deur Juanita Swanepoel.

Regie: Juanita Swanepoel en Eben Cruywagen

Reeds gehoor

Woensdag 22 April om 20:00

Elize Cawood

Die woordketting 2 met Ilse Salzwedel en die digters Diana Ferrus, Andries Bezuidenhout en Philip de Vos, voorlesings deur Elize Cawood (WOORDKUNS)

Die digters toor met woorde en borduur vanjaar vrolik voort op verse van onder andere Boerneef en Barend J. Toerien. Daar is ook kans ‘n gunsteling-gedig nuwe te herbesoek. En dan moet hulle binne vyf minute ‘n bekende en klassieke, Afrikaanse gedig nuwe lewe gee. Kom luister en lag saam. Poësie was lanklaas soveel pret en plesier.