Luister weer na Die Blikslim


Die bekroonde radioskrywer, Martyn le Roux se drama: Die Blikslim handel oor ‘n savant in ‘n tragikomedie wat luisteraars diep gaan roer.

Pietie Beyers, wat die hoofrol vertolk, is onlangs met ‘n ATKV Mediaveertjie bekroon vir sy vertolking van die hoofkarakter, Gary, en omdat hierdie die Seisoen van Wenners is, saai RSG die drama weer uit.

Die herhaling is Donderdag 18 Junie, 20:00 in Radioteater uuitgesaai. Die regisseur is Renske Jacobs.

Hier is ‘n kort klankgreep oor die drama:

Luister die volledige drama:

’n Savant wat rolprente, van die draaiboeke tot die vervaardigers en akteurs, soos die palm van sy hand ken, ontmoet ’n aanvallige nagraadse sielkundestudent tydens ‘n rolprentvertoning. Aanvanklik is hy vir haar ’n interessante gevallestudie, maar kort voor lank ontwikkel daar ’n hegte vriendskap tussen hulle, wat haar lewe permanent sal verander. Savantsindroom is ‘n toestand waarin iemand met ‘n beduidende verstandelike gestremdheid sekere vermoëns ver bo gemiddeld toon. Een van die bekendste rolprente oor ‘n savant is Rain Man met Dustin Hoffman in die hoofrol. Die rolle word vertolk deur Pietie Beyers, Cindy Swanepoel, Rina Nienaber, Mari Molefe van Heerden, Johny Klein en David Louw.

Rolverdeling

Pietie Beyers, Mari Molefe van Heerden en Johny Klein

GARY BLIGNAULT (In sy laat 20’s – ʼn savant) Pietie Beyers

 

HESTER BLIGNAULT (Gary se ma in haar 50’s) Rina Nienaber

 

SANTIE SWANEPOEL (Sielkundestudent in haar 20’s) Cindy Swanepoel

 

CHARLIE ( ʼn Ou “vriendin” van Santie) Mari Molefe Van Heerden

 

CLIVE (Charlie se kêrel) Johny Klein

 

PHILIP (Santie se kêrel) David Louw

Rina Nienaber en Cindy Swanepoel

Die spelers luister aandagtig na Renske.

Mari Molefe Van Heerden en Cindy Swanepoel

David Louw

Tegniese versorging

Bongiwe Thomas
Patrick Monana

Wat is ‘n savant?

Renske Jacobs, die regisseur

Savant-sindroom is ‘n toestand waarin iemand met ‘n beduidende verstandelike gestremdheid sekere vermoëns ver bo gemiddeld toon.

Die vaardighede waarin savants uitblink, hou meestal verband met geheue. Dit kan vinnige berekening, artistieke vermoë of musikale vermoë insluit. Gewoonlik is daar net een spesiale vaardigheid aanwesig.

Diegene met die toestand het oor die algemeen ‘n neuro-ontwikkelingsversteuring soos outisme of het ‘n breinbesering. Ongeveer die helfte van die gevalle hou verband met outisme en kan bekend staan ​​as ‘outistiese savants’.

Die toestand is gewoonlik reeds sigbaar in die kinderjare, maar in sommige gevalle ontwikkel dit later in die lewe. Dis ‘n rare toestand. Na raming word slegs ongeveer een uit ‘n miljoen mense geraak.

Martyn le Roux, wat bekend is vir sy menslike dramas, onvergeetlike karakters en pittige dialoog, brei uit oor die skeppingsproses van Die Blikslim:

Agtergrond

Ek leef al baie jare met my eie vrou wat gestremd is (sy het MS). Ons lewens het 360 grade verander as gevolg daarvan, en een ding wat ek oor die jare besef het is hoe ongelooflik ongevoelig mense kan wees wanneer dit kom by gestremde mense. Hulle kan nie by die gestremdheid van die persoon verby sien nie. As hulle net vir ‘n oomblik wil besin, en die ware mens agter die gestremdheid wil sien…..

My vrou is hoogs gekwalifiseerd – het selfs nadat sy MS gekry het nog verder gaan studeer. Maar omdat sy in ‘n rolstoel sit, praat mense met haar asof sy dom is. Of nog erger – hulle praat met my en nie met haar nie, asof sy nie daar is nie! Hulle sal langs haar staan en dan vir my vra: “Haai, wat makeer haar?” of “Hoe gaan dit nou met haar.”

My hel, praat met haar – hier sit sy. Sy is ‘n dosent. Sy’s nie dood nie – sy’s gestremd!

Hulle verstaan nie. Elke idoot wat op ‘n parkering vir gestremde mense gaan staan en nie daar hoort nie, is deel van die onnoselheid – van die ‘nie verstaan’. Elke persoon wat lag vir iemand met ‘n gestremdheid en opmerkings en aanmerkings maak, is die ware gestremde.

Elke keer as ons op ‘n staanplek vir gestremdes kom, wat beset is deur mense wat nie daar hoort nie, dan sê my vrou altyd: “Ja, jong, hulle is gestremd…onnoselheid is ook gestremdheid. Maar ongelukkig daar is daar nie genoeg parkering vir almal nie…”

Oor Gary Blignaut:

Die hoofkarakter, Gary verteenwoordig albei kante: die gestremde en die genie. Die genie in hom verteenwoordig die waarde wat gestremde mense tot die lewe kan bydrae. Hulle is van jou produktiefste werkers; betroubaar; leef die lewe ten volle, ten spyte van hul gestremdheid. Die Gary’s van die samelewing met hul drome…

Die karakter van Gary Blignault, is geskoei op ‘n werklike persoon wat ek as kind in Kimberley geken het. Sy naam was Gary, soos in die drama. (Ek het geen idee wat sy regte van ooit was nie.)

Gary was verstandelik gestremd en het letterlik elke dag van iewers uit Beaconsfield na die Plaza bioscope toe gestap waar hy die dag deurgebring het. Ons het hom gewoonlik op ‘n Saterdag getref as ons fliek toe kon gaan.

Jy het gewoonlik probeer om hom te vermy, want as jy langs hom beland het, het hy die hele film vir jou bederf en jou probeer “hipnotiseer” met ‘n glasballetjie aan ‘n ketting wat hy saam met hom gedra het. As jy nie aan die slaap raak en wakker skrik as hy sy vingers klap nie, dan sal hy jou nie met rus laat nie, en jy kon vergeet van die film kyk! Hy het homself ook aan jou bekend gestel as “Gary, the World’s Greatest Hypnotist.”

Die gode behoed jou as jy langs hom moes sit en daar’s ‘n horror movie wat wys! Hy het jou gewoonlik aan jou binnebeen gegryp en jou vleis soos ‘n bankskroef geknyp dat jou oë begin traan het, ongeag wie jy was of watter geslag!

Almal het hom later geken en hom vermy. Maar dit was nie altyd moontlik op dae wat die bioskoop vol was nie… Ek het Gary verduur, net om nog ‘n Saterdag episode van Rocket Man of The Lone Ranger te kon sien.

Die Plaza in Kimberley bestaan helaas nie meer nie… Gary se spook fluister egter nog daar rond: “Your eyes feel heavy… you want to sleep… sleep… listen only to my voice…”

Ek hoor dit vandag nog…

Pietie Beyers speel die rol van Gary Blignaut, en dis ‘n karakter wat so reg in sy kraal val want hy hou daarvan om drie-dimensionele karakters te vertolk: “Karakters wat genuanseerd is, waar kwesbaarheid onder die oppervlak skuil. Die uitdaging om iemand soos Gary in ‘Blikslim’ te speel, is om hom eg te maak. Die vinnigste (en dalk maklikste) roete om iemand soos ‘n savant te wil speel, is om stereotipies te dink: hoe was Dustin Hoffman byvoorbeeld in ‘Rain man’? Met die hulp van ‘n regisseur met diepte en begrip, hoop (en glo) ek, ons kon Gary se outentieke eerlikheid vind. Renske Jacobs het my in ‘n eerlike rigting gelei waar Gary sy eie mens kon word. Ek is dankbaar vir die ervaring en ek hoop mense sal dié menslike storie kan geniet, vol teerheid en komedie, soos die lewe self.”

Oor die skrywer

Martyn le Roux

Martyn le Roux is gebore in Upington in die 1960’s. Sy kinderjare het hy grootliks in die Noord-Kaap (Kimberley) deurgebring. Tans is hy woonagtig in die Paarl.

In 2014 skryf hy sy drama BLOEDLYN in vir die RSG\ SANLAM Radiodrama-skryfkompetisie. Dis uiteindelik ‘n finalis en word uitgesaai deur RSG in 2015.

BLOEDLYN ontvang in 2016 ʼn ATKV Mediaveertjie vir beste teks in die kategorie: Luister. Die drama word ook in 2017 vir ‘n Liberty Radio toekenning benoem, en word aangewys as die wenner in die kategorie: Beste Drama Program.

DAGBOEK VAN ʼn WURM volg in 2016 en word die volgende jaar in vier kategorieë benoem vir ‘n ATKV Mediaveertjie-toekenning. Dit word bekroon met drie toekennings: Beste Teks, Beste Regisseur en Beste Akteur.

In 2018 word HITTEGOLF op RSG uitgesaai. Dit ontvang besonder positiewe terugvoer en gevolglik skryf hy die opvolg, AFKOELING wat ook baie suksesvol opgevoer is.

Dramas in ons eerste dramaseisoen 2020:

 

DATUM TITEL SKRYWER REGISSEUR OPMERKING TEMA
21 Mei Die huisbesoek Wilmi Wheeler Christelle Webb-Joubert RSG Sanlam

Jong skrywer

Huwelik / kerk

 

28 Mei Koue kaiings Lee Doubell Johan Rademan RSG Sanlam

Derde Plek

Weermag

Vriendskap

4 Junie As ‘n kind kom kuier Zelda Bezuidenhout Joanie Combrink RSG Sanlam

Tweede Plek

Bejaardheid

Versoening

11 Junie Die lyk Karin du Toit Renske Jacobs RSG Sanlam

Eerste Plek

Swart komedie

Huwelik / moord

18 Junie Blikslim

 

Martyn le Roux Renske Jacobs ARGIEF ATKV Mediaveertjiewenner
25 Junie Ella se perde Charles J Fourie Johan Rademan ARGIEF ATKV Mediaveertjiewenner
2 Julie Krag Lee Doubell Renske Jacobs Kouwit-drama Eksperiment