Die Tjello


Die Tjello deur Michiel Potgieter, ’n finalis in RSG en Sanlam se 2018-dramaskryfkompetisie.

Titel: Die Tjello

Skrywer: Michiel Potgieter.

The kingdom of music is not the kingdom of this world; it will accept those whom breeding and intellect and culture have alike rejected.

In sy drama,“Die Tjello” vertel Michiel Potgieter die verhaal van Theo Bauer, die seuntjie wat nie net deur sy skoolmaats en onderwysers nie, maar as begaafde jongman deur naywerige Europese kollegas, daardie sogenaamde gekultiveerde intellekteuele, afgetakel en geteister word – jaloers op hom omdat hy as vreemdeling uit Afrika ’n ereplek in hul koninkryk toegeken is. Dis ook die verhaal van ’n tjello wat deur eeue heen die stem en troos van sy eienaars was, uitverkorenes wat sy hart kon verstaan, burgers van die koninkryk wat nie vir almal toeganklik is nie.

Theo is ’n enigste kind. Kleintyd speel hy met ’n denkbeeldige maatjie, is in homself gekeer, anders as ander kinders wat hy later op skool ontmoet. Hy kom uit ’n musikale familie en vanselfsprekend leer hy om musiek te maak. Die tjello word sy gunsteling-instrument. Hy is nie skaam om voor mense op te tree nie, maar word misverstaan en uitgeskuif. Hy presteer nietemin, wen die gesogte Koningin Letizia Tjello-Kompetisie en ’n kontrak van die Sinfónica de Galicia in Madrid, Spanje. Daar kom hy te staan voor die harde werklikheid van professionele naywer. Hy verduur dit vir jare, maar eindelik gee hy die stryd gewonne, pak sy tjello in en keer terug huis toe. Tuis onttrek hy hom, praat nie en maak selfs nie meer musiek nie. Niemand weet wat in Spanje verkeerd geloop het nie. Boonop sterf sy geliefde oupa en verwyt hy homself dat hy in al die jare wat hy oorsee gewerk het, te min kere huis toe gekom het. Sy ma, wat als in haar vermoë doen om hom uit sy depressie te lig, vra hom om haar te help om sy oupa se aftreehuisie te ontruim.

Daar lees hulle ’n brief wat sy oupa se tweelingbroer lank gelede geskryf het. ’n Antieke tjello, wat vir jare op die solder van oupa Bauer se huis weggebêre is, word ontdek. Die kasdeur, waaragter die Bauers se familiegeheime geslagte lank toegesluit is, breek oop en die geraamtes tuimel uit.

Waar het dit alles begin en waar gaan dit eindig – die lewensgeskiedenis van die Bauer-geslag en die besondere instrument wat soveel vreugde en hartseer met hulle meegemaak het? Theo is die jongste uitverkore eienaar, die een wat die tjello se hart sal leer ken, ’n nuwe begin maak, hom inleef en uitleef, én die tjello sal moet aangee na sy volgende eienaar.

Finding the right instrument is akin to finding a life partner – it is not a decision that should be made lightly – aldus Michael Katz, die solis van die Haynd-konsert wat ek uitgekies het om die drama mee te in te lei en af te sluit. Klink dit na ’n voorbode of goeie raad? Luister Donderdag 5 Desember om agtuur die aand na Michiel Potgieter se drama en besluit self. Ontdek die wonderwêreld van tjello-musiek, luister na grepe van Stepjan Hauser en Misha Maisky se onverbeterlike spel en ervaar die buitengewone.

Op die foto kry jy van links na regs, Francois van Rensburg wat die rol van Theo Bauer vertolk, Lochner de Kock, sy tjello-onderwyser, Helena Hugo. regisseur en Richard van der Westhuizen, die vioolmaker Anton Cizek.

Spelers: Francois van Rensburg, Ronel Korb, Lochner de Kock, Richard van der Westhuizen, André Stolz, Francois Stemmet, Eloïse Cupido en Woutrine Theron.

Regie: Helena Hugo.