Nagmaal vir twee: drama oor boer & swart jeugvriend


Die radiodrama Nagmaal vir twee het die derde plek behaal in die RSG/Sanlam radiodrama skryfkompetisie vir 2016. Die teks is geskryf deur 7 lede van die Gebruikerskomitee, Moot Biblioteek in Pretoria.

Dit handel oor ‘n bejaarde Afrikaanse plaasboer en sy swart jeugvriend en oud-plaaswerker. Hulle bevind hulle uiteindelik saam in dieselfde ouetehuis. Op die vooraand van die kerkbasaar besluit die boer om ‘n paar lekkernye te gaps om langs die rivier te gaan braai. Met brood en wyn wag hulle vir die hout om kole te word, maar die gesprek neem ‘n wye draai terug tot in die verlede, met verreikende gevolge vir albei…

Dit is ‘n sensitiewe drama wat met groot deurdagtheid en menslikheid geskryf is. Hierdie is ‘n storie wat so baie van ons se storie is. Dis ‘n storie van seer, maar ook een van hoop.

 Nagmaal vir twee was ‘n groepspoging en die skrywers se radiodrama-debuut. Die skrywers beskryf hulself as lede van die “gryskop brigade”. Hulle is Riki Badenhorst (76), Elrina Bromfieldt (73), Cecilia de la Rey (70), Manie Groenewald (75), Sharl Reek (69), Amanda Rossouw (58) en Marié Vorster (73). Toe hulle klaar geskryf het, het die groep die wete gehad dat “oudwees beteken nie om bloot suurstofstelers te wees nie, maar dat ‘n mens steeds aan jou verbeelding en skeppende vermoëns vrye teuels kan gee”.

Die spelers

Paul Lückhoff – CAS
Ek het die eerste keer vir Paul op die verhoog gesien toe ek in die hoërskool na ‘n voorgeskrewe werk in die Staatsteater van Pretoria gaan kyk het. Ek was onmiddelik verlief op hom – sy stem, die karakter en die pragtige groot wese wat vir my ‘n toonbeeld van ‘man’ was.

Dis wonderlik om na soveel jare saam met die gesoute akteur te werk. Hy is onder andere die pittige karakter ‘Wimpie’ in die sepie Binnelanders op kykNET. Sy sin vir humor het my veral opgeval. Paul skryf die volgende oor homself: “Dit is my 40ste jaar van voltyds akteur wees. Kan ‘n mens jouself nou sover dryf. Blykbaar wel. Nou ja, as ek in Louis van Niekerk se spore mag volg, lê daar nog 20 jaar plus voor. Vader gee tog genade!

My 2 gunstelinge was, en is nog altyd teater en radio.

Jerry Mofokeng – HENDRIK
Ons het ‘n lys van akteurs wat stemtoetse geslaag het, en dikwels al vir die radio gespeel het. Op die lys is daar egter nie swart manlike akteurs nie, veral nie een wat die rol van ‘n 75jarige moet vertolk nie. Gelukkig het ek op ‘n fonds in die vorm van die verhoog, televisie en grootskerm akteur Jerry afgekom. Hy is te sien in die sepie, Scandal op eTV. Hy maak geskiedenis deur die eerste keer in Afrikaans op radio te speel. Hy het al in Afrikaans gespeel en al baie op radio, maar nog nooit saam nie.

Ek en Jerry het een hele oggend gerepeer en dit was so ‘n voorreg om te gesels oor ‘n tyd in ons land wat soveel seer veroorsaak het. Ons kon filosofeer, probeer verduidelik maar bowenal leer om te verstaan.