Luister weer: roerende ‘Vlerke vir Jason’


19 April: Vlerke vir Jason
Donderdagaand 19 April is op meer as een manier ‘n belangrike dag vir Janine van der Linde van Stellenbosch. Op dié aand saai RSG die 55-jarige Van der Linde se tweede radiodrama uit. Dit is ook die tweede drama waarmee sy die tweede prys losgeskryf het in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie.

Janine van der Linde

In 2016 het Van der Linde die tweede plek behaal met Die kind en verlede jaar dieselfde prys ontvang vir Vlerke vir Jason.

Die verhaal belig die wrede situasie waarin die gemeenskap op die Kaapse vlakte daagliks moet lewe, die angs waarmee ‘n moeder terugkeer van die werk af as sy haar kind tuis moes los en haar stryd met die gevolge van ‘n doodgewone Saterdaguitstappie.

Vlerke vir Jason is ‘n aktuele drama oor die gevare van bendegeweld op die Kaapse Vlakte. Die invloed van posttraumatiese stres in die hoofkarakter word gevoelvol uitgebeeld en die drama het ‘n snaarstywe spanningslyn met pragtige dialoog. Die drama bied inderdaad ‘n nuwe blik op die bendegeweld op die Kaapse Vlakte en hoe ‘n jong ma deur posttraumatiese stres geknak word.

June van Merch

Vlerke vir Jason is in Kaapstad onder die spelleiding van Margot Luyt opgeneem met van die Kaap se beste spelers. Die rolverdeling sluit in June van Merch, Brendon Daniels, Marlo Minnaar en Leandé Valentyn.

Verlede jaar is Van der Linde se drama, Die kind, ook deur Margot Luyt opgeneem.

Margot Luyt

Luyt sê dat die ontwikkeling by van der Linde as dramaturg baie opwinend is. “Haar dialoog is heerlik speelbaar en sy het ‘n goeie oor vir die Kaapse dialek.”

Janine van der Linde sê sy sit al van kleintyd af vasgenael teen die radio om “stories” te luister. Sy is oorspronklik van Kimberley in die Noord-Kaap.